Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.7.12

Ode aan Oom Angel Engelbrecht

ANDRIES BOTHA skryf: Oom Angel Engelbrecht tol seker teen ’n duisend revolusies in turbo in sy graf om as hy hoor hoe die taal wat hy so lief had vandag verkrag word onder die dekmantel dat dit uit die "volksmond" kom.

Daar is seer seker ook min mense wat vir Die Transvaler gewerk het wat nie Oom Angel se eie stel "Gemêkte Koerante" kan onthou waarin hy daagliks taalfoute in berigte met ’n rooi pen gemerk het nie.

Die Afrikaner kan nou wel nie meer skrikgemaak word deur die Rooi Gevaar waarteen hy hom in ’n Totale Aanslag bevind het nie, maar taalverwarring – gevoed deur luiheid en onkunde – kan veroorsaak dat verskillende geslagte en mense uit verskillende geografiese gebiede en maatskaplike grense mekaar binnekort nie gaan verstaan nie.

Oom Angel Engelbrecht
Dit kan selfs later aan Afrikaanspraters se Christelike geloof in die gedrang bring.

Daardie monster van luiheid en onkunde leef inderdaad op wat die Volksmond inasem, (vir soetkoek op-) vreet en verteer.

As kinders – en vandag nog – het ons dit nie in "gure" weer buite gewaag as dit nie feitlik ‘n kwessie van lewe en dood was nie. Maar in daardie puik Pharos-woordeboek lees ek nou die dag dat "ongure" weer ook bestaan. As "gure weer" dan nou "bleak, inclement" weer is, dan moet "ongure weer" tog seker mooiweer en sonskyn wees, of hoe?

Maar nee, seg Pharo, "ongure weer" is "beastly/filthy/foul/nasty" weer. 

Die vraag wat onwillekeurig opduik, is of "moontlik" en "onmoontlik" dan ook dieselfde betekenis het.

Gure en ongure weer?
Oor die SAUK het ek dikwels gehoor dat van "ongure" weer gepraat word wanneer die wind waai en dit hael of sneeu. Dommerd wat ek is, het ek (verkeerdelik) in die vuis (nie "mou" nie, het Oom Angel altyd gewaarsku) gelag en gedink hulle sê (in hul onkunde) die teenoorgestelde van wat hulle bedoel.

Sou dit die Volksmond wees wat ons hier die verderf inlei?

Soos in die geval van “klant” en “kliënt”. Kortom het ek geglo dat ’n “klant” ’n produk – soos suigstokkies – in ’n winkel koop en dat ‘n “kliënt” betaal vir ’n diens van, byvoorbeeld, ’n prokureur. Die suigstokkiekoper kwalifiseer ook hedendaags as ‘n “kliënt” en die prokureur se diens verkoop hy sommer aan “klante”.

Die verraderlike rol van die Volksmond.

Hoor (en lees) ek deesdae gereeld van onpadwaardige voertuie en dronkbestuurders wat die “sondebokke” is wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir die hoë sterftesyfer op ons paaie.

Ek sê onomwonde: los hulle uit, hulle is onskuldig! ‘n “Sondebok” is tog immers ’n “scapegoat” of ’n “whipping boy” wat die blaam dra vir ander se oortredings.

"Awesome" Matfield
Sou die gulsige Volksmond ook hier die ware woordbetekenis met sy draketong inslurp en ’n misvormde taalkind baar, sal dit Christene se geloofsgrondslag aantas, want dan sou Jesus skuldig aan die kruis gesterf het.

Waak dus geloofsonthalwe teen dié growwe mistasting.

Twee vrae wat onwillekeurig opduik is: Sal (sommige) Afrikaanse liedjieskrywer nog hul graad-0-rympies kan skryf as hulle nie kan “bybie-bybie” nie?

En sal rugbykapteins (luister jy, Victor Matfield?) nog kan praat as “awesome” ’n verbode woord word en die Reserwebank besluit hulle mag nie meer “alle krediet” aan die verloorspan gee nie?

Nog taalkrapperighede

WILLIE BUYS voeg verdere taalkrapperighede by wat hom grensloos irriteer as hy na sommige sogenaamde rugbykommentators luister en sportskrywers se gereelde sportclichès raaklees.

Sportkommentator:
  • hulle staan opgelyn; 
  • maak nie ‘n poging om weg te gaan nie; 
  • die Blues is gedetermineerd; 
  • kantlyn wen hierdie ronde; 
  • dit is nou ’n eina-stappie daai; 
  • die span het oorgesit na ’n vinnige(r) rat; 
  • stelskop: hy word erken as iemand wat altyd sy tyd gebruik; 
  • die bal is uitgejaag te midde van loeiende sirenes; 
  • dit is nat ondervoet.
En dan die aansteeklike taalsiekte waaraan die sportskrywers ly met die skepping van clichés om alle geykthede te troef: ’n Speler word nie sommer net meer ingesluit of opgestuur nie, hy word LOSGELAAT! Dit verg nie veel verbeelding om ’n prentjie te vorm van ’n skuimbekkende ondier wat sy kettings breek en op die veld storm terwyl hy links en regs happe uitdeel nie.

Dit is onder meer hoekom ek nie meer na Afrikaanse kommentaar luister nie, want dis nie die senu-slytasie werd nie. En ’n mens hoef nie ’n taalvegter-puris te wees om te gril vir sommige gruwelikhede wat gepleeg word onder die vaandel van ’n lekker loslit kommunikasiemiddel nie.

Om nie te praat van die afskuwelikhede wat hedendaagse tieners (wat nie kan spel of tel nie!) op hul selfone en in die algemeen gebruik nie. Soos die gebruik om woorde in onverstaanbare gedrogtelikhede te omskep ter wille van modieuse kortpad vat op die alomteenwoordige selfone, faceboek en twieterasies.

Vra maar vir skrywer Dana Snyman wat onlangs ’n skitterende weergawe van ’n feëverhaal geskep het in die idioom van die moderne, onliterêre algemene Afrikaanse (?) tiener.

Awesome!