gery nie.
Paul Nash |
Oor Philip Deetlefs se Kershoender-storie: Ons het eers kalkoene gekry; reeds in 1968, dink ek. Toe die afskaling ons tref en hoenders uitgedeel word, het Len Lindeque, wat op sy dag goeie rugby vir Diggers gespeel het, syne in een van die gange in Aucklandpark ge-"drop". Nogal 'n goeie drop ook, het die ooggetuies vertel. Die storie het versprei en Len is glo uit die hoogte aangepraat.
Oor Andries se storie van oom Angel: Die gesin Burger vlug een jaar see toe om weg te kom van koerante en koerantmense. Ons beland op Heroldsbaai in 'n eenvoudige strandhuisie waar geen joernalis ons kan opspoor nie. Terwyl ons die bagasie uit die VW 412 laai, groet iemand oor die heining. Oom Angel. "Wanneer jy 'n kans het, moet jy saam met ons kom jukskei speel. Die professor is ook hier. (Das Herbst.) En oom Hennie." (Handhaaf Terblanche). Van die vlug weg van joernalistieke gesprekke het dus nie veel gekom nie. Maar dit was 'n voorreg om my latente talente as jukskeispeler in daardie geselskap te kon uitstal.
Oor die stories van Marius Jooste: Eendag, net voor Avbob ingeroep word, sal ek vertel van die dag toe hy my boontoe ontbied het. Of miskien moet Harald Pakendorf dit liewer vertel. Of Dot Kruger, die ander getuie wat gesien het hoe ek spierwit geskrik uit daardie kantoor padgegee het; oortuig daarvan dat hy finaal die kluts kwytgeraak het.
Oor Andries se storie van die telefoongidse wat Perskor gedruk het: Een jaar was dit, as ek reg onthou, 22 van die 23 gidse. Die een tender wat misluk het, was vir die Natalse gids. Piet (Spore) van Rooyen het vertel dat hy die spoorvrag bygereken het en die tender toe R27 duurder as die Natal Witness (ek praat onder korreksie) s'n was.
As julle almal soet is, vertel ek eendag van die keer toe ek vir FW de Klerk gesê het hy moenie *** praat nie.