Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.7.12

Jasper se stoepstories

JASPER SCHELLINGERHOUT het dié week vier lekkerlees-stoepstories gestuur.
 
Antonie Richards, in my tyd hoofsub (Aucklandpark), kon biltongdroog sy humor inkry.

Die fotostaatmasjien van destyds – daai masjiene met die faksrolle
waarvan die ligsensitiewe papier nes rou wortels geruik het – het in die subkantoor gestaan. Die advertensiemense het ook daar kom afskrifte maak, onder meer wyle ou Dulcie van der Berg.

'n Skamerige meisie stap toe een Vrydag daar in vir dié doel.

Antonie: En wat gaan jy die naweek doen?

“Ek en my man gaan Vaaldam toe. Visvang … ”

Antonie: “Ooo, ‘ok’; aag wat … ek drink sommer by die huis!”

Haar spelling was nie haar bate nie

En dan was daar die advertensiemeisie wat deur Japie Bosch gewerf is om kopie telefonies af te neem by Die Vaderland se redaksie en ander adminjoppies te doen.

Haar spelling was beslis so ‘n klompie straatblokke agter haar ander kwaliteite. Diaken was sommer “dejaken” en “korrup” was “koorip” ens. Ons het goed om die draai gelag hieroor!

Wonder hoe sou haar spelling met vandag se skoolsisteem gelyk het en haar sms-taal? Sekir baja frotr, glo ek.
 
Nog ‘n Len-storie

Van Len Lindeque , wat ook ‘n goeie vriend geword het (hy het my, terloops, as een van modelle gebruik  -- ‘n Fransman) -- vir ’n tekenreeks, waarvan ek nog die oorspronklike (saam met ‘n aantal spotprente van hom) het.

Hy WAS ‘n opperste platjie. Op ‘n dag bring hy ‘n spotprent van Div (Graaff) wat oor ‘n hekkie seil. Hy het dit toe al vir Dirk Richard gewys wat heel ingenome was. En toe skielik gil iemand in die subkantoor, opgevolg deur ‘n ontplof-lag. Len het die prent a la Brett Murray van ‘n redelike stuk anatomie van bo sir Div se waterlyn voorsien -- redelike prominent en iets vir die Publikasieraad.

Met ‘n tipiese skater het Len die stukkie wat met kleeflint aangebring is, afgetrek en oom Div was weer “redelik sedelik” en reg vir die rolpers. So was ou Len maar.

Terloops, vir ons seun se geboorte het hy ‘n treffer-kaartjie geteken van my en Christel, albei in ‘n babawaentjie, gestoot deur ons eerstelingpikkie in ‘n yslike babadoek . Dit het die voorblad geword van ‘n geboortaankondigingkaartjie wat ons uitgegee het (‘n Eg Hollandse gebruik by geboortes). Dit hang steeds in my studeerkamer. Ek het ook ‘n heelwat van Len se oorspronklike “spotties”.

Stories oor Hendrik Schoeman

En dan was daar die mooi verhouding wat ek met wyle oom Hendrik Schoeman gehad het in my landboujoernalisdae.

By ‘n boeredag in die Oos-Kaap trek hy los: “En hoekom ry so baie manne met Mercedes’e, dink julle?

“Want as daai ou bus ry, moet hy kontant betaal!”

Ek het, terloops, ’n gedig oor hom geskryf wat jare lank in sy parlementêre kantoor gehang het . Ek het dit aan hom oorhandig toe ek as voorsitter van die Landbouskrywervereniging hom as spreker gekry het by ‘n toekenninggeleentheid.

Een van die reëls daarvan onthou ek baie goed:

“ … soos toentertyd se Onse Jan is onse Hendrik onse man … ”

Wys my nou ‘n politikus wat nie met sulke vleiendheid sal wil ‘breg’ nie. En hy hét ook, want een aand terwyl ek op Kweekskool studeer het, kom ‘n medestudent by my aangesuiker met die nuus dat in ‘n TV-program minister Schoeman so pas redelik trots die gedig van sy kantoormuur afgehaal en gelees het.

Wens ek had dit nog volledig.

Groete uit George, julle nostal-geeste!