IAN SMITH skryf uit Kaapstad: Toe Piet Ebersöhn my onlangs vra wat ek deesdae doen, was die versoeking groot om te antwoord … niks, absoluut niks nie. Hoe salig sou dit nie wees nie, maar ook ʼn totale leuen.
Iemand het jare gelede vir my in Johannesburg gesê ek's eintlik maar ʼn Kapenaar wat wag om uit die kas te klim. En hier's ek nou: al 18 jaar uit die kas uit.
In April 2004 het ek 'n Kaapse "inkommer" geword na 'n halfeeu in Jo'burg. Daar gebore, skoolgegaan, gewerk en getroud. Die verplanting was maklik; seker maar altyd 'n Kapenaar soos destyds beweer is. Die kliekerigheid hier waaroor baie semigrante kla het ek nie ervaar nie. Maar, dan: voordat ek afgetrek het, het ek 'n hele hand vol Kaapse vriende gehad. Dit maak 'n groot verskil.










































