Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.8.22

Elders – nie net mooiweer en warm nie.

JOAN KRUGER skryf:  So 'n ruk gelede staan ek en Douw voor ons amperse vissermanshuis op Paternoster (ons durf dit so noem omdat dit (a) klein is, (b) 'n groot vuurherd het waarin ons braai én kook) en ons besluit die huis kort 'n naam. Sodat die koerierdienste minstens iets het waarheen hulle kan mik. By gebrek aan 'n straatnaambordjie en -nommer.

"Wat van 'Elders'?" wonder ek later. Soos in die digterlike "die rus is elders". As ons die rus 'n adres gee, kom dit dalk uiteindelik by ons tot ruste.

Ná herhaalde pogings tot aftrede was ek reg vir rus. Die eerste aftrede was so kort voor sestig toe ek New Media Publishing verlaat het. En toe dadelik saam met kollegas 'n nuwe uitgewersmaatskappy, Tip Africa Publishing, gestig het. Ons het heerlike tydskrifte uitgegee, onder meer Wild vir Sanparke. Later ook boeke. Gedenkboeke in die besonder. Omdat ek die oudste was, is aanvaar dat ek die skrywer sou wees, so asof ek minstens die afgelope 150 jaar persoonlik meegemaak het. 

Dalk had hulle rede om so te dink, want in daardie tyd werk ek aan my eie boek, On Top of Table Mountain, oor reisigers se belewenisse op die berg, tot so ver soos 500 jaar in die verlede. 

So raak ek dus betrokke by boeke oor onder meer die geskiedenis van die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool, die Instituut vir Dowes, Ackermans en Sanlam. 

Ieder geval, hier knap voor sewentig tree ek weer af en kom bly by my man op Paternoster.
 

Ons het jare lank 'n langafstandhuwelik gehad toe hy nog sy wynbesigheid in Johannesburg bedryf en ek in die Kaap gewerk het. Maar nou, soos dit bejaardes pas, sou ons ons 'skemerjare' saam binnegaan met lang wandelinge op hierdie pragtige strand, en as die gier ons pak, gaan koffie drink op een van die ander vissersdorpe aan die Weskus. Ha! 

Hier werk ek die afgelope sewe jaar amper harder as tevore. 

En al klink dit of ek kla, is dit met groot dankbaarheid dat ek dit kon doen.

Douw Kruger
Ook wat gemeenskapswerk betref. 'n Vissersdorp is 'n weerlose plek. Juis omdat dit so van die weer afhanklik is. In die winter kan die vissers, met storms op see, mis en sulke dinge, dikwels nie met hul bakkies (die klein roeibootjies) uitgaan om vis te vang nie. Die kreefseisoen is dan amptelik verby. Besoekers bly ook weg. Met Covid-19 was vissers lang tye in hul HOP-huisies ingeperk. Tye van groot gebrek. 

Ons moes inspring, geld insamel, kospakkies maak, uitdeel. Die nood was nie tot kos beperk nie. Skole kon nie heropen nie. Ander ouers kon op rekenaars hul kinders se werkopdragte ontvang; ons plaaslike skooltjie se ouers het nie rekenaars of slimfone nie. Die biblioteek, waar hulle die opdragte kon uitdruk, was gesluit. Ons moes noodgedwonge tussen inperkings deur die middagsorgprogram, wat toe al vier jaar aan die gang was, heropen. Die kinders moes te ete kry. Hulle moes hulp met hul skoolwerk ontvang. Ons maak dus, die oomblik toe die inperkings gelig is, die Hoopsig-sentrum soggens agtuur oop, gee pap, help met skoolwerk, gee middagete, gevolg deur die gewone programme wat strek van handwerk tot robotika. Veral belangrik: Storiehoek. Ons het 'n eie biblioteek opgebou en as vrywilligers werk ons hard daaraan om die kinders lief te maak vir lees. Mettertyd kon die Duitse onderwysstudente ook as vrywilligers terugkom en toe stoom ons behoorlik vorentoe. 

Hoe ook al, ek kon nie ophou werk aan Tip Africa Publishing se boeke en tydskrifte nie. Ons maatskappy gee ook Stellenbosch Visio vier keer per jaar uit. Daar is boeke wat moet pers toe gaan. Een van hulle, die geskiedenis van die Stellenbosse Wynroetes, is dringend. Die rus bly ver van "Elders". Terselfdertyd besluit ek daardie boek oor die Hugenootvroedvrou Marie Buisset waaraan ek al hóé lank skryf en herskryf moet nóú klaargemaak word. Wie sê die Covid-virus gaan aan my verby? Bejaardes is hoeka in sy visier. 

Ek staan ál vroeër op en skryf verbete. Die boek kom klaar en Theresa Papenfus van Litera (sy was eens deel van Oggendblad se redaksie) sê nee, dis reg. Sy sal dit uitgee. So kom sowat twintig jaar se navorsing ook tot 'n einde. En ek mis dit klaar. Absoluut fassinerend, al die goed wat 'n mens in ou dokumente in die argiewe (ja, subs, daar was meer as een) kan vind, en deesdae natuurlik op die internet ook. Marie/Maria se storie is merkwaardig. Sy kom Kaap toe, uit die ergste Hugenootvervolging wat haar wees gelaat het. Haar man, die chirurgyn, Jean Prieur du Plessis, lei haar as vroedvrou op, maar toe hy sterf, moet sy ook hul boerderytjie voortsit. Haar eerste aankoop: twee pistole. Dit was gevaarlike voorposdae. Sy en haar gesin maak die verwoestende pokke-epidemie van 1713 deur en moet deurentyd mediese dienste lewer. Hulle staan baie dorpsgenote en selfs familielede aan die dood af. 

Alles dinge wat die eggo's met Covid-19 versterk. Haar verhaal het soveel boeiende
elemente, van vurige liefdesintriges tot by skandes en korrupsie. 'n Hele boek was daarvoor nodig. 

Dié boek, Wieg, verskyn in September. 

En julle verstaan waarskynlik nou hoekom ek ons huis "Elders" wil noem. Sodat die rus asseblief huis toe kan kom.