Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.8.21

Nog oor Francois (AP) Lategan

DRIES LE ROUX skryf: Na aanleiding van Gerhard Burger se verwysing na die kunstenaar Francois Lategan wil ek net die volgende stuiwer in die armbeurs oor hom gooi. 

Ek het in die tagtigerjare by die uitgewery JP van der Walt en Seun gewerk. Francois, oftewel AP soos ons hom geken het, het baie van die uitgewery se klubboeke se omslagillustrasies gedoen.  Ek het gereeld daaroor met hom oor die telefoon gesels, maar het hom nooit in lewende lywe ontmoet nie. 

In 2001 het ons Swellendam toe verhuis. Toe ek eendag saam met 'n vriend gaan koffie drink by 'n plaaslike restaurant, stel hy my voor aan 'n man by ’n naburige tafel. Dis toe niemand anders as Francois nie! Deur die jare het ek hom gereeld raakgeloop en het ons lekker gesels. 

Die ouderdom het hom later ingehaal. Ek het hom al minder gesien en later nie weer nie. Ek vermoed hy is intussen oorlede. Francois was 'n uitstekende kunstenaar. Ek het eenkeer by 'n plaaslike kunsuitstalling van sy werk gesien. Daar was veral een skildery wat my hart gesteel het, maar dit was ongelukkig buite my prysklas.