Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.6.21

Gedagtes loop ver paaie deur K'rant

HESTER VAN DER WALT skryf: Telkens wanneer ek K’rant oopmaak, blom en borrel die herinneringe!  

Ek het destyds as rou BA’tjie by die advertensievertaalkantoor van Perskor aangesluit en my taal daar behoorlik leer bemeester onder wyle Daan Roux en ons hoofvertaler Bekker Nel.

In 1972, nog Hester Kloppers, het ek gou begin om Kittie Vermaak en ander te versondig, want ek wou “koerantman” word! Ek was ook redelik gehoorgestrem en volgens Kittie gans te doof vir die job. 

So ’n jaar of twee later maak ek kennis met Rykie van Reenen by Rapport se kantoor langs Perskor in Aucklandpark. 

Kittie Vermaak
O ja. ; 'n Mens kon nie ’n sub word as jy nie eers verslaggewer was nie. Maar Rykie en Ton Vosloo gee my ’n kans in die subkantoor, waar Coenie Slabber, Hermien Oberholzer en Koos Venter verder skaaf aan my taalvaardighede. En ek begin stories skryf! Lang aanloop.

Wat vandag begin het by my lees aan die geskiedenis van Perskor. Hennie Potgieter/Mark Preston was my oom.  Ons familie wil graag sy outobiografie My God en Ek heruitgee, verwerk en uitbrei tot 2020 en die afsterwe van Rooi Rose, wat Mark Preston se breinkind was. 

Ek weet byvoorbeeld dat hy twee Steynberg-borsbeeldjies ontvang het ter erkenning van sy werk, maar die detail het heengegaan terwyl ons kinders grootgeword het en die ouer mense gaan rus het.

  • Is daar ’n Perskor-argief waartoe ons toegang kan kry? 
  • Ons wil ook graag kontak maak met Martie Pansegrouw, die laaste redakteur van Rooi Rose. Is haar besonderhede beskikbaar? 

Anderdag skryf ek weer oor die studenteraadsvoorsitter van Wits en die dag toe ek en Chris Louw amper in die pad gesteek is oor my middelbladonderhoud met die SR-man. Harald Pakendorf sal dit dalk onthou?