Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.9.22

Dié generaal spook nog by Anne-Marie

ANNE-MARIE MISCHKE skryf: Dit het nou amper al ’n gewoonte geword om afgetree te wees, want dit is nou sowat 13 jaar sedert ek Rapport se deure agter my toegetrek het. Eintlik moet ek dit anders bewoord. Dit het lankal normaal geword om nie meer in die joernalistiek te wees nie, want heeltemal afgetree het ek toe nie regtig nie.

Dit het so gekom: Ek was besig om kantoor skoon te maak in my laaste week of so by die koerant toe Frederik de Jager, toe nog uitgewer by Umuzi, in my deur kom staan. Dit het hy van tyd tot tyd gedoen wanneer hy in Johannesburg was om ’n boek of ’n skrywer of sommer net Umuzi te bemark. Ek sê vir hom ek is aan die kantoor opruim, want 65 staar my in die gesig. En wat, wil hy weet, gaan ek doen om myself besig te hou? Ag wat, vertaalwerk, sulke dinge, dit en dat, sê ek ongeërg. Later sou ek besef hoe onvanpas daardie ongeërgdheid was, want vertaalwerk val nie sommer net uit die lug nie.

Daardie dag het dit wel as ’t ware uit die lug geval. Frederik het toevallig ʼn Engelse manuskrip onder sy arm gehad waarvoor hy ʼn vertaler gesoek het en net daar het ons dit beklink. Dit was Alan D Elsdon se Die Lang Generaal, en tot vandag toe spook daardie boek op ʼn manier by my. Elsdon was op sy dag ʼn spioen van Lang Hendrik van den Berg met wie hy later ʼn uitval gehad het en ná Lang Hendrik se dood het hy ʼn riller geskryf, fiksie, met Lang Hendrik duidelik as die skurk in die verhaal. Maar met baie ander skurke om hom geselskap te hou, sommige in die destydse kabinet. Drie maande later was die Afrikaanse weergawe van Elsdon se boek gereed. Die moeilikheid daarna was net dat lesers elke woord as die heilige waarheid aanvaar het, die hele stuk weefwerk van anekdotes, feite, skinderstories en vernuftige uitgedinkte intriges. Vandag nog kom ek mense teen wat met my daaroor wil gesels. Vas oortuig dat dit alles net so gebeur het. Dan moet ek mooi verduidelik dis eintlik fiksie, net met die waarheid hier en daar ingevleg.

Dit was nietemin die begin van my tweede loopbaan, een met boeke. Vertaling,
redigering, keuring, manuskripontwikkeling, alles op vryskutgrondslag vir ʼn verskeidenheid
uitgewers. Sedert die ding met die lang generaal hou hierdie skoenmaker haar wel by haar
lees: ek het besluit om my by niefiksie te bepaal en doen net by hoogste uitsondering fiksie,
probleemlose fiksie. 

Ek het nie boekgehou nie, maar ek weet meer as 50 boeke is die afgelope jare so deur my hande, en ek het, met apologie aan Vryeweekblad se rubriek, boekbedonnerd geraak. Vertalings uit Engels in Afrikaans van die soort aktuele boeke wat ek doen, het wel skaarser geword, Afrikaanse skrywers van sulke boeke skryf deesdae in Engels, ter wille van ʼn groter mark, en die uitgewers het traag geword om dit in Afrikaans te vertaal, want Afrikaanse mense lees dit in elk geval in Engels. Maar daar is nog heelwat redigeerwerk, wat ek graag doen. Deesdae is ek ook in die keurpaneel vir die Rapport-kykNET-niefiksieprys, wat ʼn stapel stewige leeswerk behels.

En wat doen ek in my vrye tyd? Ek lees ...

Jong verslaggewer Helen Zille, Rand Daily Mail.

• Perskor is ver in my verlede in, dit is nou 40 jaar dat ek by Die Transvaler weg is, Rapporttoe (met ʼn kort tussenspel van nege maande by Beeld). Vir ʼn rukkie was Rapport nog inPerskor en Naspers se gesamentlike besit, maar in 1982 het ek self in elke opsig Perskor se stof van my voete afgeskud.

Ek het in 1973 by Die Transvaler se vroueblad begin werk (ja, daar was nog sulke blaaie in daardie dae), maar ek het my oë op ander horisonne gehad. Ná ʼn geneul in my redakteur, Willem de Klerk, se ore, het ek die koerant se munisipale verslaggewer geword, in die toe erg gepolitiseerde Nat/Sap-Johannesburgse stadsraad. Van daar af is ek provinsiale raad toe en het uiteindelik die koerant se parlementêre beriggewer geword – toe saam met Helen Zille van die Rand Daily Mail en Fleur de Villiers van die Sunday Times, die enigste vroue in die hele persgalery. Dit was die dae toe Helen Suzman en Bessie Scholtz die enigste vroue-LP’s was.