Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.8.22

Hardekwas Hollander skep sy eie loopbaan

SIPKE DE VRIES skryf: “EK is nog hier”. Eintlik sê ek gewoonlik nie veel meer oor myself nie omdat ek my lewe lank oor ander mense of gebeurtenisse skryf, of dit aanvanlik met die kamera vasgelê het. 

Die versoek van my vriend en kollega Piet Ebersöhn om iets vir K'rant oor myself en my werk by Perskor – eers Voortrekkerpers – te skryf, kon ek egter nie langs my neerlê nie. 

Dus begin ek met my eerste dae by Die Transvaler in Jorissenstraat in Februarie 1963 as 'n blougat 19-jarige junior fotograaf wat nie ʼn woord Afrikaans magtig was nie. Afrikaans kon ek eintlik nie verstaan nie en ek het dus Engels gepraat. Ek is vinnig reggehelp en is opgedra om maar liewers Nederlands te praat en algaande Afrikaans te leer. Dit het goed gewerk en ek was amper vier jaar by Die Transvaler.

Gert Hattingh
Gert Hattingh was my eerste baas en ʼn buitengewoon goeie leermeester. Die nuusredakteur was Hennie Kotzé – ʼn man vir wie ek groot respek gehad het. My joernalistieke mentor was my lewenslange vriend Bruce Taylor. Hy het my aangemoedig om behoorlik Afrikaans te leer skryf en ek het in die aande ná my dagtaak onder hoofsub Piet Germishuys “stoppers” – Die Transvaler se term – gaan vertaal. Ook is daar in die nagkantoor “geparty” dat die byle huil en ek het geesdriftig deelgeneem. 

Ná so 'n ses maande of wat het ek na Jan van Rooyen, die redakteur, gestap en hom gevra om ʼn oorplasing na die redaksie. Fotograwe was nie lid van die redaksie nie en is as tegniese assistente beskou. Dit het daartoe gelei dat sommige van die joernaliste ʼn fotograaf vertel het hoe om ʼn foto te neem. 

Dit het natuurlik tot botsings met die “hardegat” Hollander gelei. Jan van Rooyen sê toe dat ek maar moet voortgaan met vullers vertaal – in eie tyd natuurlik – en na ʼn jaar sou hulle my dan oorplaas redaksie toe. ʼn Jaar later gaan vra ek toe weer en word my vertel daar was nooit so ʼn belofte nie en dat ek maar as persfotograaf moet voortgaan. 

Dadelik het ek toe ander werk gaan soek en met voorspraak van Manie van Rensburg, die akteur wat fotoboekies gemaak en ook by Sondagstem ʼn verslaggewer was, het ek ʼn aanstelling as verslaggewer by Sondagstem gekry en om ook my eie foto’s by my berigte te neem. 

Mike van Niekerk
Ek het verskriklik lekker by die koerant gewerk. Arthur van der Merwe was die redakteur, Mike van Niekerk, die nuusredakteur, Jan van Vreden, die hoofverslaggewer en nog so ʼn paar aangename mense. Die Sappe se arbeidsverhoudings was baie beter as die Nattes s’n. 

En toe, tragies genoeg, sluit die koerant in 1968. Nog wel toe ek met my vrou vakansie gehou het in Pelgrimsrus, wat toe nog ʼn gewoon werkende myndorp was. 

Ek kry daarna ʼn aanstelling by die SAUK in Johannesburg, waar ek uiteindelik hoofsub by die Afrikaanse nuusdiens geword het. Lekker gewerk, maar die salarisse was besonder laag gewees. 

Frans du Toit
Intussen het ek met my gesin Kempton Park toe getrek en is ek ná ʼn ruk deur Frans du Toit genader met die aanbod om Die Vaderland se lughaweverslaggewer te word en so ʼn bietjie burowerk te doen in Kempton Park, Edenvale en Bedfordview as ek reg onthou. Daar was ʼn motortoelaag en kantoortoelaag hierby ingesluit. 

Lughaweverteenwoordiger was toe ʼn belangrike 'beat' en al die Johannesburgse koerante het daar kantore gehad. 

Ek het ʼn groot huis gehad en daar was ʼn kamer wat in ʼn kantoor omskep is. 

Ek reël toe met Perskor se pakhuismense om kantoormeubels te kom aflaai. Dit was ʼn lessenaar, tafeltjie, twee stoele en ʼn geroeste staalkabinet. Toe die vragmotor by ons huis aankom en die meubels begin aflaai, het my vrou die sakie goed bekyk en gesê: ”Hierdie gebreekte, vuil gemors kom NIE in my huis nie.” 

Dit was Perskor vir jou en die hoofredaksie was blykbaar nogal verbaas hieroor gewees. 

Ek het baie lekker op die Lughawe gewerk en baie stories geskryf asook die familiemoorde op die Oos-Rand gedek. 

Totdat, náʼn jaar of drie Die Vaderland se hoofredaksie in hul wysheid besluit om die senior buitekantoor mense te vervang met meer junior personeel. Ek het met die grootste teensin na Johannesburg vertrek en die militêre “beat” gekry. 

Intussen het ek in 1976 by die Burgermag aangesluit en vir ʼn hele klompie jare grensdiens verrig – van kandidaatoffisier tot kaptein gevorder. Die militêre “beat” was lekker maar Die Vaderland-bewind was nie so lekker nie, dus, toe ek die geleentheid kry om ʼn stigterslid van TheCitizen te word, het ek dit met beide hande aangegryp. 

Daar aangekom, was ek militêre verslaggewer en het baie geskryf oor die oorlog in Angola. 

En toe is daar die inligtingskandaal wat byna, byna tot die koerant se sluiting gelei het. En, VERDOMP, voordat ek my oë kon uitvee was ons weer by Perskor. 

Ná so ʼn paar jaar by die NUWE Citizen het ek ʼn aanbod gekry van die SAUK om die pos van seniorhoofsub te vul. Dié keer by die Engelse diens. Weer sewe jaar by die SAUK gebly, waar die salarisse intussen dramaties verbeter het. 

Toe het ek ʼn pos aanvaar as mede-direksielid van ʼn skakelmaatskappy in Centurion. Die “fensie” dasse en blink pakke klere en ander toebehore wat kliënte moes beïndruk, het my nie aangestaan nie. Die skakelwese was nie vir my nie. Terug na brood-en-botter-joernalistiek. Hierdie keer by SAPA. 

Op 63-jaar oud het ek afgetree en daarna op kontrak by dieselfde SAPA gewerk as redakteur buiteland. Lekker “joppie” gewees die laaste sewe jaar. 

Tans lewe ek ʼn vredige lewe met my lewensmaat. Kook lekker kos, drink goeie wyn en geniet my mooi tuin in die hoogtes van Northcliff.

Ter opsomming kan ek sê dat ek my eie loopbaan geskep het en dat dit na my mening baie geslaagd was. Nooit myself te ernstig opgeneem nie en die werk met die nodige humor aangepak. In die joernalistiek het ek al die doelwitte bereik wat ek beoog het en ná 55 jaar die tuig neergelê. ... en nou? Met eish, ja!