Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.9.22

Opspoorprojek lewer ook slegte nuus op

DIE resultate van K’rant se huidige “opsporingsprojek” lewer ongelukkig ook die slegte nuus op van oudkollegas wat oorlede is sonder dat die webjoernaal daarvan kennis geneem het.

Tot dusver het ons reeds verneem van vyf mense wat tot selfs langer as vier jaar gelede oorlede is: Johann Raath (Perskor se advertensie-afdeling, Johannesburg); Estie (Crous) Milstein (joernalis, Transvaler, Pretoria); Amanda Olivier (Durbanse verteenwoordiger, Die Transvaler), Arrie de Beer (Wes-Randse verteenwoordiger van Die Transvaler in die koerant se Voortrekkerpersdae) en Derick van der Walt (joernalis, Transvaler).

Johan Raath
HANLIE RAATH laat weet: Johann is Januarie 2018 ná ʼn kort siekbed oorlede. Hy het longkanker gehad. Hy het van Mei 1992 af tot en met sy dood as advertensie- en bemarkingsbestuurder vir die Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk gewerk – insluitende al die Kerkpublikasies (LiG, Kerkbode en Jaarboek).

Johann is 26 April 2017 met longkanker gediagnoseer. As gevolg van die ligging van die kanker in die long was dit onmoontlik om te verwyder. Hy is op 16 Januarie 2018, ná twee dae in ʼn koma, in my arms, by die huis dood. Al die familie en kinders was by hom.

Hy was ʼn fantastiese man vir my – ons was 38 jaar getroud. Sy kinders was sy alles, maar sy twee kleinkinders was sy hartspunte.

Hy rus vandag rustig in Struisbaai se see – visvang was sy grootste passie!

ROGER MILSTEIN writes: Estie passed away on 28 February 2020 from liver cancer. This was only diagnosed five weeks prior to her passing away. She passed away at home peacefully and did not endure much pain.

Megan finished school last year and is studying Occupational Therapy at ECU. Life is pretty relaxed in Perth and we are both doing well.  

(Roger was a Tukkie student who worked part-time in the evenings as a driver for Perskor. He is very modest about his achievements, but excels in retail trade management and in December last year it was reported that he was the Western Australian Operations Manager of Metcash. – Ed.)

Amanda Olivier
PIET EBERSÖHN skryf: Luidens nuusberigte is AMANDA OLIVIER (72) net meer as ʼn jaar gelede, in Julie 2021, aan Covid19-verwante oorsake oorlede.

Sy het ná haar Transvaler-dae bekendheid verwerf as omroeper, eers by OFM en later by RSG, waar sy hoe lof vir haar programme “Musiek sonder grense” en “Wat sê die dokter?” toegeswaai is. Sy was ook by die stasie se vrouprogramme betrokke.

ARRIE DE BEER
Arrie de Beer
(79), wat op sy beurt diep spore in akademiese kringe getrap en wêreldwyd hoog aangeskryf was, is op 20 Oktober 2021 oorlede.

Hy was onder meer aan die hoof van die Kommunikasiekunde-departemente van die Vrystaatse, Potchefstroomse en Johannesburgse universiteite, en was daarna, tot sy dood, as buitengewone professor verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch se Joernalistiek-departement.

Derick van der Walt
JOHANN VAN ZYL skryf oor DERICK VAN DER WALT, wat in
Maart 2022 oorlede is: Dié joernalis en skrywer was een van die mense wat ʼn onuitwisbare indruk op ʼn mens gemaak het. Ons paaie het as landboujoernaliste reeds in die jare tagtig gekruis. Later het ek die voorreg gehad om tien jaar lank – tot met sy onverwagse dood in Maart vanjaar – onder meer by Agri (Agri SA se tydskrif) en Porcus saam met hom te werk. Uitgawe vir uitgawe.

Ek en Derick het ook gereeld skryfwenke (ook oor fiksie) oor ʼn koffie of glas rooiwyn uitgeruil – ek het baie by hom geleer wat jeugverhale betref (hy was immers die skrywer van die topverkopers Lien se lankstaanskoene en Willem Poprok, wat albei vir skole voorgeskryf is). Hy het die Sanlamprys vir Jeuglektuur twee of drie keer met sy skryfsels gewen.

Derick het niks louerig aangepak nie – hy was hart en siel in sy werk as joernalis, skakelman en skrywer. Hy het ʼn produktiwiteitsgrens gehad wat jou verstom het. En, net so intens as wat hy soms kwaad geword het, net so vriendelik kon hy wees. Dan het hy alles ge-“salut!”

Dit was vir sy uitgewer, vele vriende en sy gesin ʼn erge skok toe hy, ná ʼn slegte val, so vinnig gegroet het. Hy was ongetwyfeld een van daardie “joernaliskarakters” wat dié beroep so spesiaal maak: gister se onthou-mense en mense met wie jy vandag steeds skouers skuur.

ʼn Heildronk op Derick van der Walt is meer as geregverdig.