Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.5.22

Sowjet-troepe was gevrees!

HANLIE VORNBERG skryf:  "Ura! Ura!" het hulle geskreeu toe hulle in 1945 hier in Oostenryk inmarsjeer het. Die Russiese soldate, die rooi vloed, soos een van die koerantopskrifte uit die Tweede Wêreldoorlog, gelui het. 

Die ou Vaderland voorblaaie uit die Tweede Wêreldoorlog, wat Gerhard Burger onlangs aan K'rant gestuur het, het my laat terugdink aan die jare sewentig toe ek hier in Wenen aangekom het. 

Die Tweede Wêreldoorlog was toe maar dertig jaar verby en elkeen het nog sy eie storie gehad om te vertel.  Ura is n vervorming van die Duitse woord "Uhr" wat horlosie beteken. 

Die Russiese soldate was versot op armhorlosies, So ver soos hulle gegaan het, het hulle die mense van horlosies beroof en soveel moontlik daarvan op hulle arms ingeryg. 

Die Sowjetsoldate was die eerste besettingsmag van vier wat in Oostenryk aangekom het. Dit was in April 1945. Terwyl die Amerikaners kougom en sykouse aan die volk uitgedeel het, het almal gaan wegkruip vir die Russe. 

Die Sowjet-troepe was berug en gevrees. Hulle het geplunder, verkrag, verniel en verwoesting gesaai.

 Ouers het hulle dogters in kaste met vals deure en agterkamers met geheime uitgange versteek. Jong meisies het hulle soos mankolieke ou vrouens vermom om die geweldadigheid van die soldate vry te spring.

Die huidige Wenen is opgedeel in 23 distrikte. Ek woon in die 13de distrik naby die Schönbrunn Paleis. Net 'n straat verder van my af, staan 'n woonhuis waarin 'n Russiese offisier en sy trawante sommerso besluit het om hulle tuis te maak. Die familie moes na die tweede verdieping trek en die Russe sou onder in die huis woon. Die eienaar, 'n tandarts, met 'n vrou en twee dogters het besluit om 'n ooreeenkoms met hulle aan te gaan. Hulle kon onder bly en sou selfs gereelde maaltye bekom, maar moes belowe om die vrouens in die huis met rus te laat en teen ander soldate te beskerm. 

Van 1September 1945 af is Oostenryk deur vier verskillende magte beset. Dit was die Russe, die Amerikaners, die Engelse en die Franse, altesame 700 000 besettingsoldate. 

Wenen is in vier besetting-sones gedeel. Die Russiese offisier moes padgee uit die 13de distrik, aangesien die Britte, bekend vir hulle styl, die Schönbrunn-paleis as hulle hoofkwartier uitgesoek het. Die 13de distrik was van toe af onder die beheer van die Engelse. Die Russe moes na die arbeiderbuurte van die stad uitwyk. Al die provinsies in die land is ook tussen die vier magte verdeel. 

Schönbrunn-paleis
Die besetting het 10 jaar lank geduur. Om van die een besette deel na 'n ander te beweeg was bykans onmoontlik.

'n Oor en weer kuiery was nie toegelaat nie en selfs goedereverkeer was ingeperk. 

Tussendeur het jarelange onderhandelinge in Europa gevolg.  Landgrense is verskuif, volksgroepe is uit hulle vaderland verjaag en die Sowjets het begin om hulle mag in Oos-Europa uit te brei. 

Oostenryk is ‘n Sentraal- Europese land, maar lê sover oos dat Wenen verder ooswaarts is as die Tsjeggiese hoofstad, Praag. Die land grens aan verskeie voormalige Kommunistiese lande en was in gevaar om in die Oosblok opgeneem te word. Baie het gevrees dat die Sowjets gekom het om te bly! 

Wat min Suid-Afrikaners vandag nog weet is dat Generaal Jan Smuts saam met Winston Churchill in die onderhandelinge na die oorlog 'n belangrike rol gespeel het.  Smuts, 'n goeie vriend en raadgewer van Churchill, was die enigste politikus wat aan die einde van albei Wereldoorloë, die Vredesverdrae onderteken het. 

Met die ondertekening van die Staatsverdrag, 15 Mei 1955, het Oostenryk die soewereine gesag wat die land in 1938 verloor het, teruggekry en was uiteindelik weer vry en onafhanklik. 

Aangesien die Sowjets bang was dat die Geallieerdes (Frankryk, Groot Brittanje en die Amerikaners) Oostenryk volledig in beslag sou neem, het hulle daarop aangedring dat die land neutraal bly. In September 1955 het die laaste Russiese troepe die land verlaat. Oostenryk is sedert 1995 'n lid van die Europese Unie, maar is nie lid van NAVO nie en is militaristies neutraal. 

Sedert die oorlog in die Oekraïne, word die neutraliteit nou weer oordink. Die land kritiseer die oorlog en neem deel aan die sanksies teen Rusland, maar mag geen wapens lewer nie. 

Die grootste deel van die bevolking wil die neutraliteit behou en sien Wenen as neutrale terrein waar leiers uit verskillende lande kan ontmoet om te onderhandel. 

 Mag dit so bly!