Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.4.22

Vader van K’rant oorlede

PIET EBERSOHN skryf: Die vader van K’rant is oorlede. 

Luidens ʼn berig op die Facebook-blad Nagkantoor is Peet Simonis (85) op 24 Maart 2022 oorlede nadat hy “geval en sleg seergekry het”. 

Peet was die laaste oorlewende van drie tydgenote aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein wat joernaliste by Perskor geword het. Hannes Cilliers en Neil Steyn het hom vooruitgegaan. Hy en Neil was klasmaats. 

Peet Simonis
Dit was in 2004, nou 18 jaar gelede, dat Peet op sy eentjie K’rant as ʼn e-pos- nuusbrief vir oudwerknemers van Perskor die lig laat sien het. Dit was uiters gewild, maar ná ʼn paar uitgawes het dit te veel van Peet se tyd begin verg. 

Hy het onverrigtersake vrywilligers gevra om by hom oor te neem en Peet het mettertyd die publikasie daarvan gestaak. Danksy sy goeie aanvoorwerk was daar groot instemming dat K’rant behoort te herleef en op 2011 se reünie is planne beraam om die nuusbrief in ere te herstel. Dit is op 7 Mei 2012, nou amper tien jaar gelede, verwesenlik toe dit in 'n webjoernaal omgeskep is.

Heel gepas was Peet op 2 Maart 2020 die skrywer van die duisendste artikel wat K’rant geplaas het – “Peet verklap sy geheime” – bevattende ʼn klompie wenke aan joernaliste om self hul boeke te publiseer. 

Sy joernalistieke loopbaan het by Die Volksblad in Bloemfontein begin en hy is in 1966 in Johannesburg by Dagbreek en Sondagnuus aangestel. Hy is later na Die Transvaler, waar hy ʼn nagredakteur was toe hy as skrywer in 1975 daar ingeval het. 

In 1977 het hy Perskor vaarwel toegeroep om hom heeltyds aan die diens van die Here te wy, aanvanklik as Bybel-smokkelaar, maar later ook op ander wyses. Hy het gehelp om oor ʼn miljoen Bybels agter die destydse Ystergordyn, maar veral in afgeleë dele van Afrika te versprei. 

In nog ʼn projek het hy duisende sokkerballe met kort Bybeltekste op in Rwanda versprei. Peet het vroeg reeds sy hart aan die Here gegee en sy eerste Christelike traktaatjie op skool al geskryf. Sulke traktaatjies uit sy pen is later in oor die 20 Afrikalande versprei. 

Chris Barnard en Peet Simonis in  gesprek.

As joernalis het Peet groot opspraak verwek met sy artikels oor geloofsgenesing. Die Pers het hom onder meer Amerika toe gestuur om navorsing oor buitengewone voorvalle hiervan te doen. Nog hoogtepunte van sy joernalistieke loopbaan (besonderhede hieroor verskyn op K’rant) het ingesluit ʼn duikbootsoektog na die wrak van die Viscount-vliegtuig Rietbok wat naby Oos-Londen in die see geval het; die dekking van Chris Barnard se eerste oorsese besoek; en ʼn soektog met ʼn spoorsnyer na terroriste ná die eerste oorgrensinval uit Botswana.

Peet het altesame 29 stories vir K'rant geskryf. Klik HIER om na hulle te gaan. -- Red.