Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.11.21

Perskor se aanslag op Nasionale Pers

ANDRÉ LOUW
André Louw se perskaart.
skryf: My storie van Perskor se aanslag in die laat sestiger jare op Nasionale Pers se knusse besetting van Bloemfontein en bykans die ganse Vrystaat, is ’n nederige verhaal maar wat tog vertel moet word; al is dit dan net om my ’n verskoning te bied om in K’rant ’n buiging te maak en ’n voetspoor te laat. 

Peet Simonis
Hoe dit gekom het dat Peet Simonis vanaf Naspers se Volksblad na Perskor gedros het, sal hy beter weet, maar hy is die man wat die pad vir my oop gemaak het om aangestel te word as Die Vaderland en Dagbreek se eerste voltydse verteenwoordiger in Bloemfontein met die ganse Vrystaat as my jagveld. Peet was my mentor by Volksblad en ek het in meer as een opsig in sy spoor getrap. 

Die verwikkeling het volgens my “bronne” by Volksblad ’n vlugtige onrustigheid geskep oor wat Perskor dalk in die mou voer -- in daardie stadium min wetend van die planne wat agter toe deure aan die broei was om Dagbreek en Die Beeld te laat saamsmelt. Die huwelik is deur die ouers onderhandel en het baie pyn en onsekerheid veroorsaak, wat my gespaar is omdat ek pas voor die nuus gebreek het, ’n onderwyspos aanvaar het.Behalwe dat ek vir Dagbreek ’n yslike lastereis op die hals gehaal het oor ’n hoofstorie van eksamenvraestelle wat na sekere skole “gelek”sou gewees het, is my grootste onthou van die kwalik drie jaar in Perskor se diens die Mej SA-kompetisie van 1969, as ek die jaartal nou reg beet het.

Min Shaw
Die kompetisie is provinsiaal deur Dagbreek en die Sunday Times gesamentlik aangebied. Op nommer laas blyk dit toe dat daar nog geen inskrywings uit die Vrystaat is nie. Ek moes toe letterlik die strate invaar en mooi meisies probeer ompraat on in te skryf. My fonds was die mooie Jackie Wilmot wat glo, hoor ek later, kon gewen het as sy nie so gegiggel het vir die keurders se vrae nie. Min Shaw se egskeiding was een van my scoops en ek het die Groesbeeck-verhoor gedek. 

Die Beeld het destyds Saterdagaande in Bloemfontein al teen tienuur se kant op straat verskyn. Apie Greeff wat toe Dagbreek se nuusredakteur was, het in Johannesburg angstig sit en wag op my gereelde oproep om te hoor wat Die Beeld berig. Hulle kon nog vinnig planne maak om die skande van die ergste scoops te versag in Dagbreek se laat uitgawe in Johannesburg. 

My eerste kennismaking met my nuwe kollegas was ’n vlugtige gebeurtenis om die papierwerk af te handel en my gesubsideerde poeierblou VW stasiewa in ontvangs te neem. 

Dirk Richard
Ek kon hand skud met groot name soos Len Lindeque, Apie Greeff, Chris Vermaak en Gielie de Kock begelei deur die baie behulpsame Mike Meiring by wie ek ook tuis gegaan het. Dirk Richard het my baie vriendelik verwelkom. Die atmosfeer was gemakliker as by Naspers waar die hiërargie meer opvallend was. 

Later het ek ook kennis gemaak met grootbaas Marius Jooste toe hy Bloemfontein oor ander sake besoek het. Ek het vir hom ’n motor te lene gekry om ook familie op Trompsburg te besoek. 

Die wonder van die internet waarsonder my oudag “too ghastly to contemplate” sou wees, maak dit deur gewaardeerde groepe soos K’rant moontlik om tog nie heeltemal af te sterf nie.