Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.7.22

Tom Cairncross oorlede

Tom Cairncross
SANDY MACDONALD het laat weet dat TOM CAIRNCROSS Saterdag oorlede is. Rean Steenkamp, stigter en uitgewer van verskeie jag- en boogjagpublikasies, vir wie Tom later jare gewerk het, het dit bevestig.

“Nadat sy vrou, Markie, oorlede is, het Tom vinnig agteruitgegaan. Hy het kort ná haar dood sy hele lewe opgeteken in ’n dokument, waarin hy verslag doen oor al die plekke waar hy gewerk het,” sê Rean.


PIET EBERSÖHN skryf: Tom het kort nadat hy aan die destydse Heidelbergse Onderwyskollege as onderwyser gekwalifiseer het by Die Transvaler begin werk en hy was as 22-jarige die verslaggewer op die toneel toe DT sy mededingers met die nuus van die Coalbrook-mynramp op 21 Januarie 1960 gescoop het.

Dit is steeds die grootse SA mynramp en die sewende grootste in ʼn steenkoolmyn ter wêreld. 435 mense is in die ramp dood. Tom se herinneringe aan die rampdekking het vroeër op K’rant verskyn.  (Klik HIER.)

Ek het later jare in Transvaler, soos die koerant toe genoem is, se Pretoriase kantoor nou met Tom saamgewerk en onthou hom as 'n uiters deeglike en pligsgetroue kollega, ʼn deurwinterde koerantman met 'n fyn aanvoeling vir nuus en bewonderenswaardige beheersing van Afrikaans. 

Hy was nooit bang om meer as sy deel by te dra nie. Tom was een van die baie personeellede wat mettertyd by Perskor in die slag gebly het, maar het hom nie daardeur laat onder kry nie. 

Hy vertel ook op K’rant dat “aflegging nie noodwendig sleg is nie” en beskryf hoe hy by Rean Steenkamp se onderneming aangesluit het om joernalistieke en ander geleenthede in die jagbedryf, later veral boogjag, te ontgin. 

Hy was in weerwil van die aflegging steeds lojaal teenoor Transvaler en het menige nuuswenk aan ons deurgebel. Tom was fiks vir sy jare en was al redelik bejaard toe hy nog met die boog in die jagveld sukses behaal het.