Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.3.22

Gert Coetzee oorlede

Gert Coetzee
SALOME KOTZEE van die Klerksdorp Rekord skryf: Gert Coetzee, voormalige verslaggewer by Die Vaderland en Die Transvaler is op 24 Februarie 2022 oorlede. Hy was 69. Hy het demensie gehad, maar is aan hartversaking oorlede. 

Gert het in sy pa, Jannie Coetzee, se voetspore gevolg en sy koeranttande in 1972 gesny toe hy by Die Vaderland begin werk het. Jannie was destydse Die Vaderland se Wes-Transvaalse verteenwoordiger en later hoofverslaggewer. 

Gert was onder meer ook verslaggewer by Beeld en die Noord-Transvaler voordat hy na  Klerksdorp verhuis het.  Hy was tussen 1993 en 1998 hoofsubredakteur van Klerksdorp Rekord.

Hy het ook vir SABC-nuus gewerk. Tussen 2000 en 2003 het hy vryskutwerk gedoen voordat hy ‘n paar jaar later na Kaapstad verhuis het. Daar het hy vir ‘n Engelse koerant vertaalwerk gedoen het.  

Jannie Coetzee
Gert het in sy laaste jare met ‘n kierie geloop nadat hy in Kaapstad van sy bromponie afgery is. Hy het ook testikulêre kanker gehad.

Herman Prinsloo van Klerksdorp onthou sy jarelange vriend as ‘n taal-towenaar. Vir sy seuns, Johan en Petrus, was hy ‘n wandelende woordeboek en bobaas storieverteller.  Voormalige kollegas hom as ‘n briljante skrywer, taalkenner en sportfanatikus geag. 

Hy was ‘n kanniedood-ondersteuner van die Goue Leeus se rugybspan. Gert en Elvis Presley het ‘n verjaardag gedeel, vandaar sy bewondering vir die koning van pop.  Daarom het hy soms skertsend gesê dat sy as eendag op Ellispark se middelkolletjie uitgeskud moet word, terwyl Elvis Presley An American Trilogy oor die klankstelsel sing.

In Gert se eie woorde: “Ek het ‘n vol en kleurryke lewe gelei, gemeng met presidente en prinse, boemelaars en bokslagters.’’