Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.8.21

Illustreerdres was flippen bekwaam

GERHARD BURGER skryf: Flip het ook ʼn verhaal in Die Huisgenoot van 18 Februarie 1966 geillustreer – dieselfde uitgawe waarin ek my debuut as fiksieskrywer gemaak het, met ’n roerende en amateuragtige storie, Die Eerste Steen.

Een van die ander verhale is deur ene Henk geïllustreer. Ook sy van word nie genoem nie. My storie is met ʼn ware kunswerk deur die voortreflike F Lategan versier en met ʼn tjek van R50 beloon. Wie Flip en Henk was, weet ek nie, maar albei was myns insiens baie bekwaam.

Die voorbladfoto was ʼn pragtige Koningprotea. Die artikel, So raak ons erfenis verstik, is deur dr F Rousseau geskryf. In die prikkel word gewaarsku: Voor ons oë word ons erfenis ­– die plante wat ná drie eeue nog probeer om die aanslae van die beskawing in ons berge te trotseer – deur vreemde plantegroei verstik. Daar was geen verwysings na artikels of verhale (cover lines) op die voorblad nie; net die foto, die mashoof en die datum. 

Lategan se werk.

Die eerste paragraaf van my storie: Wanneer dit stil raak in die Hantam, dan raak dit so stil dat ʼn mens se oortrommel wil bars. So stil dat ʼn mens bang is dat ‘n instemmende knik dit sal verbreek. En wat daarop volg.