Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.8.22

Carla beskou pensioengebrek as seëning

CARLA VAN DER SPUY skryf: EK leef darem nog! 

Piet Ebersöhn het my gevra om iets oor my doen en late vir die K'rant te skryf. Dis nogal vreemd, want as ʼn joernalis – nou al 27 jaar as vryskut– is ʼn mens gewoond daaraan om ander mense te ondervra. 

Die feit dat ek nie ʼn pensioen het nie, is eintlik “’n blessing in disguise”. Jammer vir die Brits! 

Want nou moet ek werk en die werk bly stimulerend.

 Ek is verantwoordelik vir rooi rose, watgenadiglik herleef het, se boekeblad en musiekblad. 

Ek geniet die boekeblad baie meer, want daar is min boeke wat deur groot uitgewers uitgegee word, wat nie die moeite werd is nie. 

In die musiekwêreld is daar eenvoudig te veel jong en gemiddelde sangers wat vir hulle wil naam maak en boonop Prima Donnas is. 

Die ergste is dat mens net vier skrywers se titels en vier sangers se inligting per maand kan plaas. 

Die groot voordeel is dat ek talle boeke ontvang en altyd iets het om te lees. 

Ek werk tans aan ʼn manuskrip vir ʼn boek oor ʼn baie donker onderwerp, maar ʼn mens is eers seker dat dit gepubliseer gaan word as die finale manuskrip goedgekeur is. 

Verder skryf ek soms artikels vir Rooi Rose en een keer per maand ʼn menslike storie vir Maroela Media. 

Romano word vanjaar 76, jaag nog skelms en is voorsitter van die plaaslike Gemeenskapspolisiërings-forum (GPF). 

My seun, Louwtjie, en sy meisie Catie, is albei prokureurs en werk al drie jaar lank in Londen maar kom kuier elke jaar. 

My dogter, Tanya, woon nog in Suid-Afrika en doen redigeerwerk vir ʼn Noorweegse Universiteit. Sy en haar man, Jan, wat onlangs deurnag 160 km ten bate van verkenningsoldate aan ʼn supermarathon deelgeneem het, het en ons almal hartverlamming gegee het, het die twee pragtigste poppedonsies van twee en vyf jaar oud wat ek elke twee weke sien. My skoonseun het my dus baie goed leer ken. Dan moet Ouma trampolien spring en word sesuur soggens met ʼn fluitjie (wat ek vir hulle gekoop het) wakker gemaak! 

Mariska Spoormaker, Gerhard Burger en Carla.


Om ʼn ouma te wees, is “next level”soos die jongmense sal sê. Ek kon reeds die volgende boeke gepubliseer kry: Platsakwenke; Mens of Monster; Mishandel Misbruik Misken - Joey Haarhoff was my ma; Bloed op haar hande; Sielsiek; Plaasmoorde - slagoffers vertel self; Liefde agter tralies; Gangster. 

Behalwe vir die eerste een en die laaste twee is almal in Engels vertaal. Afrikaanse boeke verkoop egter baie beter. 

Die hoogtepunt van my boekbekendstelling was toe oudkollegas Gerhard Burger en Mariska Spoormaker by een van my boekbekendstellings in Port Elizabeth en Harald en Aletta Pakendorf by een in Pretoria opgedaag het.


Aletta Pakendorf, Elsa Liebenberg, Harald Pakendorf en Carla by ʼn boekbekendstelling in Preto
ria
. Elsa, wat met die boekklubs gemoeid is, is ʼn gewese Perskorman, Koos Liebenberg, se weduwe
e.