Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.9.22

Lekker om ʼn slag nostalgies te raak

GERT VAN ROOYEN skryf:  My storie is dalk nie so kleurvol of vol avontuur as sekere ander oud-Perskorhane of -henne nie, maar hier is dit.

Ek het van 1973-1980 by Die Transvaler en Die Vaderland gewerk as joernalis en dit was vir my wonderlike jare. Van 1974 tot 1979 by Die Transvaler, 1979/1980 by Die Vaderland en daarna
vir 'n Caxton-koerant, Kempton Express.

Daarna het ek die akademie betree, wat ook 'n besonderse ervaring was. Ek was van 1982 tot en met 1992 dosent aan die destyde Pretoria Technikon en daarna vir 24 jaar by die Puk. Wat tot vandag toe my trots maak en lekkerte gee is om my oud-studente as joernaliste en skrywers in die media te sien. So 'n bietjie troos dat ek darem iets reggekry het (ha-ha).

Bo:   Ek en Susan saam met ons kleinood. Voor is my kleindogters Olivia en Odette. Agter staan Leandra, haar man Francis, José Toral (Sanja-Rika se lewensmaat) en Sanja-Rika.

Ek het in 2016 afgetree en het nog vir die plaaslike koerant, Potchefstroom Herald, artikels geskryf, gesub en bladuitleg gedoen. In 2020 verhuis ons na Berario, Randburg om by my dogter-hulle te woon en het ons intussen verhuis na Kloofendal, Roodepoort. Die skuif na Johannesburg het sy eie voor- en nadele gehad, waarvan die grootste nadeel die verskriklike verkeer is! Toe ek vir die koerante gewerk het, was Johannesburg 'n fees om in te bestuur, maar vandag 'n nagmerrie.

Gert van Rooyen en Joe van Buuren in Sedgefield.
Ek en my vrou, Susan, is die pa van twee dogters, Leandra (40) en Sanja-Rika (34) en twee pragtige kleindogters, Olivia (11) en Odette (7). Ons bly by Leandra-hulle. Sanja-Rika woon en werk in Cuenca, Ecuador. Sy het eers Engels gegee in Sjina en toe sy sê sy gaan Ecuador toe, moes ek eers op Google maps kyk waar is dié vreemde land!

Ek is nie meer bedrywig met skryfwerk nie, maar is nog af en toe besig met my stokperdjie –houtwerk en restourasie. Ek speel darem ook nog gereeld gholf, wat my Vaderland Sport-kollega David van Rooyen vir my in 1979 geleer het.

Ek het nog kontak met 'n paar oudPerskormense. Ons het begin April by Joe van Buuren en Chrisna Liebenberg in Sedgefield gaan kuier. Chrisna is Alwyn Strydom se suster en Alwyn is in 'n versorgingoord naby Knysna. Ek het verlede jaar vir Martin Botha, oud-Vaderlander en my Oos-Rand maat, opgespoor en ons het al 'n paar keer lekker saamgekuier. Martin het in 1982 die pers vaarwel geroep en is sedertdien 'n suksesvolle finansiële adviseur.

Toe Piet Ebersöhn en Mariétte nog in Pretoria gewoon het, het ons ook heelwat oor en weer gekuier. Eenkeer saam met Johan Esterhuizen (Essie) en op 'n ander keer saam met Stella (Fouché) Niemand. Ek en Piet kuier nog gereeld saam op sosiale media en ek kommunikeer nog so af met Philip Deetlefs en Carla van der Spuy.

Alwyn Strydom
Met die Perskor-reünies (wat vanjaar weer ná twee jaar gehou is) sien mens ook baie oudkollegas waarmee jy saamgewerk het: Jakkie Groenewald, Peet van Staden, Carénè Boshoff, Louise Blake, Harald en Aletta Pakendorf, Wessel Oosthuizen, Harry Lombard en Sandy McDonald. 

Op vanjaar se reünie het ek en Martin aan tafel gesit by Willie Allen, wat hoof was van die vervoerafdeling. Kan iemand hom nog onthou?

Wat baie hartseer was by vanjaar se byeenkoms was toe Aletta die lys van oorledendes uitgelees het en ons 'n minuut stilte gehou het. Baie van daai Perskorhane en -henne het ek mee saamgewerk en met sommige lekker gekuier.

Fluit, fluit my storie is uit, maar vir my was dit weer lekker om so bietjie nostalgies te raak oor my Perskordae.

Ons kuier saam met Martin en Erina Botha.