Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.11.21

Jac de Vries oorlede

CHRISTA DE VRIES
skryf; As oud-Oggendbladder wou ek lankal ingeteken het op K'rant, maar uitstel het meegebring dat my bydrae nou 'n seer een is. Ek sukkel vanaand om die woord "dood" hier te skryf, want doen ek dit, sal dit bly leef. Tog dwing dit my om vertel dat Jac de Vries, my man, op 17 Oktober 2021 oorlede is hier in Engeland ná‘n groot hartaanval die aand van die 15de. Hy sou vandeesmaand 79 gewees het.

 Jac was adjunk-redakteur van Oggendblad toe ek (Christa Coetzer) in 1982 as joernalis daar begin werk het. Ek het soveel van die joernalistiek by hom geleer. Diegene van die redaksie wat ons onthou, sal verstaan dat dit amper logies was dat ons uiteindelik getroud is, sienende dat liefde sy eie paadjie volg. 

Jac de Vries
Ons het onlangs nog gesels oor daardie goeie tye by Oggendblad, om nie te praat van die lewensverryking wat die beroep meebring met die gepaadgaande eise en verantwoordelikhede nie. Ná Oggendblad is Jac deur die destydse Minister van Wet en Orde, Louis Le Grange, gewerf vir die polisie.

Jac het later gevoel hy wil hoofstroomwerk doen, wat hy met groot sukses deurgevoer het in Suid-Afrika se veeleisende politieke onrus- en oorgangstye. Hy moes later as Brigadier en Streekkommissaris om mediese  gronde uittree. 

Om horisonne te verbreed, het ons na Engeland verhuis en later Britse burgers geword en SA burgerskap behou. Ná 14 jaar is ons terug Suid-Afrika toe. Einde 2019 het ons besluit Engeland is waar ons moes wees, weens persoonlike redes -- enkele weke voor die groot, nimmer-eindigende Covid 19- grendeltyd toegeslaan het. 

Jac se gesondheid het vinnig en erg verswak. Tesame met die grendeltydreëls het dit meegebring dat hy en David Fall, sy vriend wat hom via K’rant probeer opspoor het, nie kon herenig nie – hoewel darem per tegnologie) waarvoor Jac K’rant ewig dankbaar was.

K’rant het skynbaar tevore gehoor dat Jac oorlede is, wat nie die geval was toe nie. Soos Jac nou sou gesê het: “En nou is dit regtig. Gegroet aan ‘n lewe waarvan joernalistiek vir lank "my lewe, my al en al" was. Dit was goed om julle te ken.” 

Vir my en ons dogter, Tanya, en sy twee ouer kinders, Karin en Lourens, sal sy nagedagtenis voortleef en ons in liefde en met dankbaarheid aan hom en ons tye saam dink.

Jac was ook politieke korrespondent van Die Vaderland. -- Red.