Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.8.21

Flip in perspektief

KARIN PRETORIUS skryf: Soos in K’rant berig is, was “Flip” waaroor Heinrich Schulze navraag gedoen het die befaamde potlood- en penkunstenaar Flip Horace Coaten wat in die vroeë vyftiger, sestiger en sewentiger jare menige skrywer se verhale in tydskrifte geïllustreer het. 

Met ‘n bietjie naslaan op Facebook lees ek dat Flip wat ook as reservissersant by die SAP in Tableview diens gedoen het, in sy leeftyd geag was as een van die tien top-illustrasiekunstenaars in die wêreld. 

Hy het onder meer skrywer Kas van den Bergh se tydskrifverhale geillustreer en die twee het deur die jare ‘n hegte vriendskap opgebou. Dit is hoe ek Flip in 1972 by sy huis in Bloubergstrand ontmoet het waar hy al die jare neffens die see gewoon het.  Sy ateljee was op grondvlak van sy dubbelverdiepinghuis met uitsig oor die see, waar Flip menige skeppende ure deurgebring het.

Flip was joviaal en gasvry, ‘n natuurmens wat met sy swart baret soos dié van ‘n Franse kunstenaar, kortbroek, los hemp en kaalvoet die lewe op die strand aangedurf het. Ek en Kas het kort na ons troue Flip se gastekothuis op die strand vir ‘n paar weke gehuur in die jare toe daar min huise in Bloubergstrand was. 

Flip het ‘n lisensie gehad om die regte hoeveelheid krewe uit die see te duik. Dit tesame met vars swart mossels van die rotse af, wit mossels wat hy uit die seesand gegrawe het en al die allikreukels en selfs die gesogte perlemoen, het my inspireer om een aand ‘n uithaler-paella te maak en die moeder van alle feeste in Bloubergstrand te hou. 

Flip is in 2000 oorlede.