Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.5.22

K'rant is tien jaar oud

PHILIP DEETLEFS
skryf: K’rant, as webjoernaal, het op 7 Mei 2022 sy kinderskoene uitgeskop en ‘n volwaardige tiener geword. In 2012 het al wat ‘n gewese Perskor-werknemer was, vir ons hul herinneringe neergepen met uiteindelik 304 stories wat in ons inmandjie beland het. 

Die volgende twee jaar was ewe produktief met bykans 500 stories wat hier gepubliseer is. Daarna het die stories begin opdroog met slegs ‘n paar bydraes per jaar wat ontvang is. Met deesdae se neiging om die afsterwe van ons oud-kollegas aan te kondig. 

K’rant het nietemin ‘n goeie verwysingsbron van Perskor en ook die Afrikaanse joernalistiek geword. 

Deur die jare het Japie Bosch, ons joernaalmeester, van dag een af en tot nou toe gesorg dat ons lesers wel iets te lese kry met die stories ook interessant aangebied. Dankie vir jou insig en getroue samewerking Japie! 

Dan is daar twee ander “redaksielede” wat ewe hard gewerk het om K’rant te kry waar hy vandag is. Ek praat van Piet Ebersohn en Stella Niemand. Sonder julle harde werk sou K’rant vandag heel anders daar uitgesien het.

Twee gewese kollegas wat eweneens met hart en siel aan K’rant gearbei het, Andries Botha en Willie Buys, het ons vooruitgegaan.

Charl Thom het ook 'n ruk 'n lank 'n redaksiebydrae gelewer. 

Baie dankie! 

K’rant het oor die jare ook gegroei en sy eie identiteit gekry. Tot so ‘n mate dat ek dit sterk betwyfel of die eerste storie wat ons gedra het, vandag die paal sou haal. Ek dink dit sou daardie kort paaltie haal wat ons die pen genoem het! 

PIET EBERSöHN (eerste redakteur van K'rant) skryf: Namens al die oudwerknemers van Perskor (en hier en daar nog van sy voorgangers) en ook ander lesers wat steeds genot put uit die lees en herlees van die bydraes op K'rant dra ek my dank oor aan Philip en Japie vir hul onbaatsugtige werk om ons ingelig te hou. Al toon ons dit nie aldag nie het ons groot waardering daarvoor."

JAPIE BOSCH skryf:  Al het K'rant se stories afgeneem, word hy steeds gelees, veral as  belangrike nuus of 'n lekker storie geplaas word. Met die onlangse afsterwe van Peet Simons, byvoorbeeld, is die joernaal 259 keer op een dag besoek.  K'rant bevat altesame 1053 stories. Tot nou is ons stories altesame amper 274 000 keer besoek.