Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.2.22

Die Rooi Roos blom weer

MAUREEN SWART skryf (In aansluiting by “‘n Droom aan skerwe.” (6.9.20)): Eens op ‘n tyd was daar rakke en rakke tydskrifte by die betaalrye in winkels, met die tydskrifte sardientjie-styf-teen-mekaar uitgestal. Totdat Covid-19 meegebring het dat ‘n swetterjoel tydskrifte in 2020 skielik moes toemaak, sommige letterlik oornag. 

 Vir ‘n rukkie was daar nog eksemplare uitgestal, maar geleidelik het hulle al hoe minder geword. Winkeliers het op allerlei maniere probeer om die bedroewende groot spasies tussen die tydskrifte te verdoesel, maar desnieteenstaande het dit naderhand gelyk of tydskrifte hul eie soort sosiale afstand toepas. 

Een van die tydskrifte wat ons moes groet en wat ‘n leemte op die rak gelaat het, was Rooi Rose. Ten tye van die sluiting het hierdie ikoniese tydskrif aan Caxton-uitgewers behoort. Die Junie 2020-uitgawe – met aktrise Erica Wessels en haar dogtertjie, Stella, op die voorblad – was die allerlaaste uitgawe. 

Rooi Rose, Junie 2020
Altans, so het ons gedink. Maar nog skaars het Rooi Rose se deure gesluit, of gerugte en nuusberigte het die rondte begin doen dat dié geliefde tydskrif gaan terugkeer. 

Daar sou egter baie water in die see loop voordat die vonkelwynglase kon klink en vreugdesvure kon brand – ‘n jaar en ‘n half van afwagting en die nuus dophou … en moedeloos raak telkens as daar nog g’n teken van ‘n nuwe Rooi Rose op die winkelrak was nie. 

Toe, uiteindelik, goeie nuus: Bevestiging dat Rooi Rose weliswaar terugkom! 

En daar word die tydskrif se tweede lewe toe ook sommer met ‘n swierige bekendstelling-opskop in die spogbuurt Sandhurst gevier. Bekendes soos Carike Keuzenkamp, André Schwarz en Nadia Beukes het daar gaan skouers skuur. 

Teen die tyd dat die feesviering plaasgevind het, het Rooi Rose reeds in ‘n splinternuwe tuin begin wortel skiet. Dié keer by Highbury Media. Boonop is daar ‘n nuwe redakteur aan boord, naamlik Anlie Janse van Rensburg (foto onder, erkenning Maroela Media).

Die eerste nuwe uitgawe is die Januarie 2022-uitgawe en op die voorblad pryk die (baie glam) ma en dogter-sangpaar, Juanita en Franja du Plessis. 


Toe Rooi Rose in 1942 die eerste keer die lig gesien het, was dit vir die stigter, Hendrikus Potgieter, ‘n droom wat bewaarheid was. Nou, met Rooi Rose se herlewing, het daardie droom as’t ware vir ‘n tweede keer waar geword. 

Hoe dan anders? Rooi Rose het immers die Tweede Wêreldoorlog oorleef en het nie net Charlize Theron se loopbaan ‘n allemintige hupstoot gegee nie, maar is boonop die keuse van koninklikes. 

Want, ja, dié tydskrif kan hoeka daarmee spog dat Haar Deurlugtige Hoogheid Prinses Charlène van Monaco die Rooi Rose van Junie 2018 se voorblad versier het. Nogal op versoek van ‘n familielid. 

Die prinses was daardie jaar op besoek aan Suid-Afrika en benewens die voorblad was daar in dieselfde uitgawe ook ‘n artikel van agt bladsye oor haar. ‘n Koniniklike “scoop,” kan ‘n mens maar sê. 

Welkom terug, Rooi Rose! Ons sien baie daarna uit om jou nuwe lewenspad saam met jou te loop.