Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.9.22

So het dit begin

ESTELLE DE BRUYN skryf: Ek het moeilik begin lees. My pa het koerante gelees en my ma storieboeke. 

Toe ek klein was, was dit vir my erg. As hulle gelees het, het hulle nie aandag aan my gegee nie. Geabsorbeer in hul eie wêrelde. 

So, ek het ‘n teësin vir lees ontwikkel. Ek het my skoolboeke gelees, maar storieboeke was nie vir my nie. 

Ek was ‘n enigste kind. My ma was kwaai en pa was ‘n lekker warm kombers wat my beskerm het, so natuurlik het ek begin koerant lees, eerder as die storieboeke wat my ma gelees het. 

Ek dink ek was vyf of ses jaar oud toe ek op my maag op die sitkamermat gelê het en die letters uitgeklank het in ‘n Sondag Beeld (weet nie of dit toe al Rapport was nie) van Glenda Kemp wat met ‘n slang gedans het. 

My ma en pa het soos ‘n weermag op my toegesak en die koerant weggeruk en gesê ek mag nie sulke stories lees nie. 

Hel, as jy iemand wil nuuskierig maak, verbied hulle. 

Van toe af lees ek soos ‘n besetene elke woord in die koerante wat my pa klaar gelees het. Ek lees van Verwoerd en die Broederbond en die Sappe en die Natte en die Beatles. 

Ek het gedink dis die vier groepe wat die land regeer. Gelees oor die Russe en kommuniste. Kommuniste was sleg. Terwyl die Natte gesê het swart mense is sleg, soos daai Nelson Mandela-ou wat ‘n kommunis was en in die tronk ... net slegte mense gaan tronk toe, het ek tot die slotsom gekom dat Russe swart mense moes wees.

Low and behold. Toe word ek groot. Gaan universiteit toe, PU vir CHO (nee, dis toe nie Coke, Hamburgers en Oude Meester nie). My beste vriend is op UCT en stuur vir my al die NUSAS-nuus, en my oë gaan oop vir wat regtig in die land aangaan. 

Ek was die interuniversitêre korrespondent vir die Die Wapad. 

En toe word ek regtig groot en besef, ek wil betrokke wees, ek wil skryf oor wat gebeur, en dalk net miskien ...’n verskil maak? 

Maar ek sit met ‘n onderwysbeurs. 

Ek het Kommunikasiekunde I gehad in my eerste jaar. Kon nie daarmee aangaan nie. 

Engels en Geskiedenis as hoofvakke, onderwysdiploma. Halfjaar skoolgehou op Groblersdal, tweede helfte van die jaar op Vereeniging. Eendag in my kar geklim (siek gepleit by die skool) Johannesburg toe gery en by Die Vaderland aangeklop vir ‘n werk. 

Die gode was met my, ek het die job gekry. 

Estelle se spoggerige CV, ontwerp deur haar dogter.