Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.9.22

Vir Pakendorfs is daar nie leeg te lê nie

HARALD PAKENDORF skryf: Niksdoen is ‘n kuns. Ek sukkel, maar darem ...

Bietjie terugstap: nadat Perskor onder druk van PW Botha my om 9vm op 19 Mei 1985 afgedank het oor die soort politiek wat tans gangbaar is, het ek ‘n bestaan gemaak deur politiek te verkoop -- in openbare toesprake (waar die geld goed was) en ‘n maandelikse nuusbrief. Toe, soos dit maar gaan, dié se raktyd verby is, is ek gelukkig deur ‘n kommunikasiemaatskappy gevra om te help. Sestien jaar daar gewerk. Toe kom die base tot hulle verbasing agter ek is tagtig en sit my summier op pensioen. Een middag se kennisgewing. Einde Februarie 2020.

Het intussen ‘n boek geskryf (Stroomop) as gevolg van druk van ‘n uitgewer. Het redelik goed verkoop.

Nou is ek vryskut -- skryf toesprake, meningsartikels, vertaal. Alles in opdrag. Nog ‘n boek? Dalk en moontlik. Probleem is ek is ‘n verslaggewer: skryf kort en saaklik. Het ‘n spanningsverhaal begin wat gebeure insluit wat in en om my lewe gebeur het: politieke inmenging, ‘n rêrige moord, ‘n werklike moordenaar, groot, groot geld. En meer. Sukkel om verhaal te rek na boeklengte.

Reken 'n mens noem dit faksie -- werklike, losstaande gebeure wat dan in ‘n gans ander verhaal ingeknoop word.

Skryf ook sketse (ekstra kort kortverhale) oor eenvoudige goed in my lewe -- nie politiek nie. Uitgewer stel belang maar wil meer hê om darem ‘n boek vol te maak. Sal maar sien wat gebeur.

Aletta dring aan ek moet dit byvoeg: is gesin se brood- en beskuitbakker, voorsiener van kruie en gaan stap elke oggend voor sonop met die boerboel, kook graag.

Aletta Pakendorf
Eintlik sukkel ek meer as Aletta. Dié het uit protes bedank toe ek afgedank is. Sedertdien het sy dan en wan op vryskutbasis gewerk. Maar vir haar is die lewe ‘n lus. Net te min ure in die dag: lees, kuier met dogters en kleinseuns (almal binne minute van ons af), brei, soms TV, naaldwerk, kook, maak handsakke, skilder (twee uitstallings al agter die rug), twee leeskringe, luister na opera, was in operagroep, boekresensies gedoen, blokraaie opgestel, en veel meer.

Soos baie rugby, kano-netbal, en ander dinge wat die aktiewe kleinseuns alles aanvang.

Daar is geen einde nie. Tog: amper verlede jaar derde week in Junie slegte draai gehad. Drie weke met Covid in die hospitaal en vir drie dae daarvan het sy letterlik by die dood omgedraai. Lank lang-Covid gehad. Nou weer reg en baie, baie besig.

‘n Laaste gedagte oor die politiek. Sal dit kort hou. Stemstelsel wat ons het (proporsionele
verteenwoordiging) se natuurlike uitgang oral is dat geen party naby ‘n meerderheid kom nie.

Dit gebeur hier by ons ook tans, noudat die glorie van bevryding verby is en plein swak
administrasie, korrupsie en nutteloosheid hoogty vier. 

Sal dus nie in die minste verbaas wees as ANC by 40% draai oor agtien maande nie. Dan soek hy na ‘n koalisie-vennoot. CR, wat baas is van grootste deel van geskeurde party, sal gewis buite EFF kyk.

Dus, ANC kan nie meer alleen-regeer nie. Dit verander alles. Kompromie is die wagwoord. Natuurlik sal die ANC nog twak praat: nasionale demokratiese rewolusie, Reserwebank nasionaliseer, grond vat sonder vergoeding, en ander lawwighede. 

Maar implementeer kan hy nie meer nie. Kompromie is die wagwoord. Sommer besluite neem en deurdruk is verby.

  • Kan nie wag nie. Terloops, hierdie is nie vrywillig gelewer nie. Piet het my gedruk.