Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.2.15

Spioenskrywer Stoffel bly klandestien


GERT BASSON skryf: Ek verwys na die navraag na Stoffel Pienaar, skrywer van die Olaf Bouwer-spioenasiereeks, in K’rant.

Eerstens, dit is die skuilnaam van 'n veteraan-joernalis en hy wil graag anoniem bly.

Hy het my gevra om dié boodskap deur te gee: Hy wil nie met die betrokke persoon, of ander, oor sy boeke onderhandel nie.

19.2.15

Wie weet waar Stoffel Pienaar is?

QUENTEN HATTINGH (uitgewer) skryf: Kan K’rant ons asseblief help om met skrywer STOFFEL PIENAAR in verbinding te tree?

Ons kon vasstel dat hy lank assistent- en verhaleredakteur van sowel Rooi Rose as die Brandwag was, asook redakteur van Fleur. Hy was die skepper/skrywer van die gewilde Spioen Olaf Bouwer-reeks wat in die Brandwag, Dagbreek en Landstem verskyn het, en ook in Perskor se Olaf Bouwer-boekklub.

Sy Olaf Bouwer-strokiesverhaal, geïllustreer deur Len Lindeque, het weekliks in Dagbreek en Landstem verskyn.

17.2.15

Len Lindeque nie op sy bek geval

JAC DE VRIES skryf: Lojaliteit steek sy kop soms in verskeie vorme uit. Soos die dag toe ek, Len Lindeque en baas Dirk Richard by Marius Jooste in die kantoor was. Wat die geleentheid was, onthou ek nie meer so mooi nie, maar die verdere verloop sal saam met my graf toe gaan.

Jooste was nie die maklikste mens om mee klaar te kom nie en het dit skynbaar sy lewensroeping gemaak om dit by almal tuis te bring.

13.2.15

Beswaar, U Edele - uit die persbank!

JOHANN BRITZ skryf: Sal ons hulle ooit vergeet – daardie twee hardebaard-legendes uit die sestigs? Dougie Jones met die letsel van ‘n koeëlwond in sy heup. Koel soos die onderkant van ‘n kopkussing. Tom Smit, uitgeslape veteraan wat ‘n fortuintjie met die Rhodesian Sweep gewen, en dit later verloor het.

Waar dié twee ook al beland het, van die Sans Souci in Aucklandpark en die Residensie in Pretoria tot die Grand in Windhoek, het hul reputasie baard gekry. Hardekwas, sinies, onverskrokke. Manne van die Ou Skool wat vir niks en niemand gestuit het nie; nie eens vir ‘n regter van die Hooggeregshof nie. Dit het ek eerstehands ervaar met my vuurdoop in die Paleis van Justisie.

11.2.15

Ongerieflike nuuswaardigheid lei tot rooi gesig

MARIUS DU PLOOY skryf: Soveel van die toentertydse stories en gebeure skakel mens se nostalgiese reseptore aan, maar ongelukkig ook 'n paar wat dalk afgeskakel moes bly.

Hoewel my heeltydse Perskortyd maar kort was, het dit ‘n stewige grondslag gevorm van my mens-, media- en PR-begrip vir die jare daarna. Een van die lesse was dat mens baie meer moet stilbly en meer luister.

10.2.15

Karina fnuik my planne

Skrywer en akademikus André P Brink is Vrydagaand oorlede.  Hanlie Swanepoel-Vornberg het 'n ruk tevore meegaande aan K'rant gestuur.

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: ´n Wedstryd en ´n reeks artikels is ´n goeie sirkulasiebouer in ´n tydskrif.

Só het ons op ´n dag by Rooi Rose oorweeg om ´n reeks oor bekende Suid-Afrikaanse skrywers te doen. Ek was om meer as een rede vuur en vlam.

"Asseblief, mevrou Snyman " het ek by redaktrise Martie Snyman voorbrand gemaak. "Indien ons die reeks aanbied, kan ek tog asseblief met André P Brink ´n onderhoud voer?"

5.2.15

Ou Harry laat hoor van hom

GERHARD KLEIJN skryf na aanleiding van Hanlie Vornberg-Swanepoel se navraag oor Harry van den Berg:

Ou Harry het my verlede jaar uit die bloute van baie verloopte jare gebel. Hy wou praat oor die moontlikheid van ‘n wynrubriek in ons tydskrif en ‘n gesamentlike wynsmousery.

Harry bly nou in Pretoria se ooste, ná baie jare in die Kaaplandse wynwêreld. Daar het hy hom duidelik bekwaam in die fynere kunsies van wynskryf, -smous, -proe en geniet.

4.2.15

Lekker verrassing van Johann en Anina!

HANLIE VORNBERG-SWANEPOEL skryf: Dit was ´n verrassing om onlangs van Anina Roux en Johann Britz te hoor. Ek en Anina was `n ruk lank vriende en sy het vir my en Richard dikwels in haar woonstel in Linden vir ete genooi. Sy kon lekker kosmaak en het dit baie stylvol opgedis. Dit was lekker om by haar te kuier.

Johann was een van my kollegas by die joernalisteskool en sy ma was so gaaf en het ons almal een Sondag vir ete genooi. Die meeste van ons was ver van die huis af en dit was gesellig om by mevrou Britz lekker boerekos te gaan eet.

2.2.15

K'rant het historiese waarde

PAUL KRUGER skryf: Baie dankie aan al die betrokkenes vir die pragtige aanbieding van die krokstorie. Dit word gewaardeer. Dra my dank aan die redaksie oor.

'n Mens sou kon redeneer dat hierdie waarskynlik (benewens die betrokke eksemplaar van Die Vaderland waarvan daar net een bestaan) die enigste openbare aantekening van hierdie operasie is. Hierdie en die ander stories wat in K'rant verskyn het, en nog verskyn, se historiese waarde is onmeetbaar.

Feit is net, lank nadat ons almal tussen die sterre kamp opgeslaan het, sal K'rant op die Internet bly voortleef. Onse nageslagte sal daarop afkom en baie genot put. Daarvan is ek seker.

Julle doen groot werk met K'rant. Moenie ophou nie.

Daar is nog so 'n paar soortgelyke stories wat ek mettertyd (Afrikaanse onnie het altyd "metterwoon" gesê) sal aanstuur vir oorweging.

29.1.15

Operasie Krokodil – September 1970

PAUL KRUGER (destyds by Die Vaderland) skryf: Hierdie is die storie van die dag toe ek en fotograaf Gerrie Fourie oornag veldwagters van die destydse Natalse Parkeraad geword het.

Dit het alles begin met ‘n kort beriggie oor die teisterende droogte in die noorde van Zoeloeland. Verskeie riviere wat in die St Luciameer uitmond, het heeltemal opgedroog met net hier en daar ‘n seekoeigat en ‘n verdwaalde kuil wat nog ‘n bietjie water gehou het.

27.1.15

Die Vaderland word mondig

GUSTAF PIENAAR van Vleesbaai naby Mosselbaai het hierdie juweel van ´n stukkie Perskor-geskiedenis met 'n vraag of drie aangestuur. Hy skryf: Ek versamel op ‘n beskeie skaal Africana en spits my veral toe op getekende boeke en die handtekeninge van mense wat veral in die Afrikaanse leefwêreld uitgeblink het.

Onlangs het ek ‘n eksemplaar bekom van “Die Vaderland Gedenkalbum”, saamgestel deur ene Rud P Visser, wat in 1957 die “mondigwording” van dié koerant as ‘n dagblad asook die totstandkoming van die Afrikaanse Pers in 1936 herdenk het. Die betrokke eksemplaar het volgens die verkoper behoort aan Theo Greyling wat straks gedurende die laat 1970’s en vroeg 1980’s hoof van radionuus by die SAUK was. Ek het so skramsweg met hom te make gehad tydens my jare by die Afrikaanse Radiodiens (1972 -1983).

22.1.15

Jac herrys uit die dode

Weens ‘n misverstand het Jac de Vries se naam op die lys van afgestorwe kollegas beland en die redaksie vra groot om verskoning vir die ongerief wat dit moes veroorsaak het aan Jac en almal wat hom geken het. --  Red)

JAC DE VRIES, voormalige politieke korrespondent van Die Vaderland en adjunk-redakteur van Oggendblad, skryf: Wat doen `n mens as jy in `n betroubare publikasie soos K`RANT lees jy is oorlede? Glo jy dit? Gelukkig was ek lank genoeg 'n joernalis om ook hierdie stelling met `n gesonde maat skeptisisme te benader.

Ek dink die oorsaak daarvan was dat ek kontak verloor het met al my ou Perskor-kollegas ná die sluiting van die koerante in 1983. En as jy spoorloos raak, moet jy mos dood wees ...

20.1.15

Ou Dinges se rooi verklap sy kamerverlaat

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Ek sal hom op hierdie openbare leesskerm maar liefs ‘Ou Dinges’ noem. Dis veiliger en só bou ek terselfdertyd ‘n stukkie misterie in hierdie ware storie in.

Ou Dinges was ‘n Vaderland-man voor Doornfontein se dae. ‘n Kollega. Hy’t in die omte van Brixton gewoon en dus nie ver van Aucklandpark af nie. Hy kon etenstyd, as die inklinasie daar was vir ‘n brekie weg uit die kantoor, gou huis toe wikkel en dan weer betyds terug wees. Dinges se dinge het met reëlmaat só verloop: “Net gou huis toe skiet. Netnou trug.” En dan was hy afwesig.

15.1.15

Johann tel ou drade met vreugde op

JOHANN BRITZ skryf: Ek kan dit byna nie glo nie. Nou kan my naam ook seker by die lys van 'oudgediendes' gevoeg word, met groete aan al die ou bekendes.

Ek sluit 'n kopie in van 'n knipsel uit Die Vaderland van 2 Junie 1970. Dis ons klompie van wie Maureen geskryf het in die nuutste (en my eerste!) uitgawe van K'rant wat ek danksy Anina Roux ontvang het. Wonder dikwels wat van almal geword het.

12.1.15

Die diep onthou

PIET ROOS skryf: Ek sien Anina Roux se foto hieronder en ek onthou in 1974 het sy in die woonstelblok neffens ons in Linden gebly. Ek en Marieta was pas getroud en het in Linden ingetrek.

Ons wortels lê baie dieper. My skoonfamilie het op Vrede in die Vrystaat gewoon so 'n blok van die huis waar Anina en haar eks, Dick, gewoon het. Dick is later in die huis aangeval en vermoor.

12.12.14

Komkommers moet geskil word

K´rant se redaksie gaan van more af hard aan die werk spring om komkommers te skil en sal ongelukkig nie vir die versorging van enige nuwe bydraes beskikbaar wees tot in die nuwe jaar nie.

Dit gee al die oudwerknemers van Perskor oorgenoeg geleentheid om oor die vakansiedae rustig te besin oor stories wat hulle vir K´rant wil skryf. Skryf dit asseblief, maar hou dit op die ys tot so rondom 12 Januarie 2015 wanneer die komkommerseisoen op sy einde kom.

Lekker ontspan, prop die batterye vol energie vir die jaar wat voorlê en kom veilig tuis!

10.12.14

Lekker om K´rant te ontdek

ANINA ROUX skryf: Lekker om K'RANT te ontdek en stories te lees van mense saam met wie ek eers by Hoofstad en later by Rooi Rose gewerk het.

Groete en beste wense vir die Feestyd

(Foto van Anina uit Perskorhaan, Mei 1972.)

9.12.14

Fanie Hattingh is oorlede

FANIE HATTINGH, gerekende sub by Die Transvaler in die jare sewentig en later, is sowat vier maande gelede onder moeilike omstandighede oorlede.

DU PREEZ MARTINS het laat weet dat Fanie na 'n kort siekbed in die Baragwanath Hospitaal oorlede is. Hy het ten tye van sy dood sonder vriende of familie in 'n tehuis vir armlastiges gewoon.

Fanie was geskei en het tweeling dogters gehad. Niemand weet of hulle kontak met hulle pa gehad het of eens weet dat hy oorlede is nie.

Fanie het ook boeke geskryf. Die slegte tyding oor Fanie en sy dood het juis na vore gekom toe Gert Basson, wat aan 'n uitgewery in Swellendam verbonde is, na Fanie begin navraag doen het omdat hulle een van Fanie se speurvehale wou heruitgee.

(Indien enigiemand weet waar Fanie se dogters hulle bevind, laat weet asb. - Red.)

5.12.14

Karin onthou vir Koos Doep

KARIN PRETORIUS skryf: Ek kuier onlangs by ‘n oud-Tukkievriend, Douglas Davis en sy vrou Heloise op Stellenbosch en ons blaai deur sy fotoalbum. Ons staan vir ‘n oomblik stil by sy Koos Doep-foto’s.

Douglas was ‘n groot deel van sy loopbaan in Maties se skakel- en publisiteitsafdeling werksaam. Hy het ook later jare as Universiteit Stellenbosch se woordvoerder opgetree en sal onthou word vir sy TV-onderhoude waartydens hy met gesag oor Perskor se eie joernalis en liedjieskrywer, Koos du Plessis, gesels het.

26.11.14

Die Hollander met die hoekige van

HANLIE-SWANEPOEL VORNBERG skryf: Omdat ek Jasper Schellingerhout se stories so geniet, het ek in sy "verlede" gaan delf, na ou foto's gekyk en toe besef ons was wraggies ´n paar maande lank bure in Linden.

Ek en Richard, my man, het pas voor die geboorte van ons eerste kind by die Katberg-woonstelle ingetrek en die Schellingerhouts het ´n kort rukkie reg langs ons gewoon.

Daarna is hulle weg en het Pierre Oosthuizen, fotograaf by Die Vaderland, hulle woonstel oorgeneem.

21.11.14

Wie onthou vir Lucas Maree uit sy Oggendblad-dae?

Lucas Maree
CARLA VAN DER SPUY skryf: Ek wonder of een van K´rant se lesers my dalk kan help?

Lucas Maree het ‘n rukkie vir Oggendblad as 'n fotograaf gewerk. Ek lewer bydraes vir die Liedjieboek (die 50 gewildste liedjies in Afrikaans). Lucas se “Miljoen” is natuurlik een van die groot gunstelinge.

Het enigiemand dalk ‘n storie oor hom en sy koerantdae? Iemand wat hom as kollega geken het?

Laat weet asseblief gerus by 082/895-3200 of carlavanderspuy@gmail.com of inbox my asb op Facebook. Ek sal enige storie baie waardeer.

20.11.14

Tokkelossie maak vir Roger bang

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Martie Snyman, in die jare sewentig, redaktrise van Rooi Rose, het in die Vrystaat grootgeword en kon Sotho vlot praat.

Sy kon iemand in dié taal vlei, vloek en behoorlik die Leviete voorlees.

Ons het almal groot respek gehad vir Martie. Sy kon jou meesleur met haar bruisende geesdrif, maar ook summier op jou plek sit wanneer iets haar nie gepas het nie.

18.11.14

Buks se spook loop steeds

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Allerheerlikste verrassing toe Hanlie (Swanepoel) Vornberg my van K'rant vertel! Ek was ook een van die agt wat destyds die joernalisteskool bygewoon het. Toendertyd was ek Maureen Heyl, maar nou is my van Swart.

Dit was een van die gelukkigste tye van my lewe en hoe ouer ek word, hoe meer dink ek aan daardie tyd terug. Ons was toe nog sterk en gesond, sonder plooie en met die vooruitsig van en 'n naïewe vertroue in 'n lang, gelukkige toekoms.

Ai!

13.11.14

Stukkies en brokkies uit Hanlie se onderlaai

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Sedert ek meer gereeld in my pers-verlede rondsnuffel, glip daar weer laaitjies in my geheue oop.

Soos die dag toe die hooffotograaf van die Vaderland, Wessel Oosthuizen, ons vertel hy het vakansie geneem om Viëtnam toe te vlieg om oor die oorlog te gaan berig.

"Hete my kind," het sy geskokte ma oor sy planne kommentaar gelewer, "kan jy nie soos ander mense se kinders in Durban gaan vakansie hou nie!"

11.11.14

Só is Terrie, die terroris, gebore

 JAPIE BOSCH skryf: In 1956 was ek in die koerant. In Die Vaderland. Dit was ‘n groot ding as jy in die koerant was. Jou ma koop 'n klomp koerante en maak knipsels en die kinders by die skool vertel jou hulle het dit gesien. Jy kry status. Twintig jaar later het dié einste foto ‘n onverwagse nadraai gehad toe ‘n terroris gebore is.

By ons laerskool in Johannesburg was daar ‘n “kunsuitstalling” van die kinders se handewerk deur die jaar. Die klok het pas vir kleinpouse gelui toe ek en vriend Abel Coetzee (albei in st 3 en 10 jaar oud) op pad speelgrond toe is. ‘n Hand het my aan skouer gevat en ‘n stem het gevra: “Waar is jou “kunswerk? ’” Dit was Charles Pienaar, ‘n vriend van my ouers en ‘n fotograaf by Die Vaderland. Dit was bloot toeval dat hy my raakgeloop het.

6.11.14

Die swerfjare van Charl Thom

CHARL THOM skryf: Jasper se storie oor sy gesprek met Marius Jooste oor eersgenoemde se planne om by Rooi Rose te gaan werk, het my lang stilte wat K'rant betref so effens verbreek.

Toe ek destyds uit Die Vaderland se hoofredaksie bedank het om redakteur te word van Die Kamer van Mynwese se koerante, Mining News en Die Mynblad, het die grootbaas my ook laat roep. Dit was redelik kort nadat Harald Pakendorf ingebring is as mederedakteur saam met Dirk Richard. Ons het wel deeglik besef dat die reëling tydelik is en dat Oom Dirk se dae getel was.

4.11.14

Die groot oom sink my Rose-droom

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Na aanleiding van Hanlie Swanepoel-Vornberg se skrywe oor die oumaskap wat Rooi Rose by ‘n nuwer aanskyn uitgebring het, het ek gedink aan ‘n trippie in die middel-70’s uit die Oos-Kaap, waar ek vakansie gehou het, na Durban vir ‘n onderhoud by die einste Rooi Rose:

Jare gelede vat my waagmoed om my joernalistieke loopbaan ‘n nuwe dimensie te gee, my deur die gevaarlike paaie van die ou Ciskei en Transkei na Durban. Dit was waag-ry. Almal het grootoog gewaarsku teen ry in daardie jare deur die Transkei. Vrystaat om en oor Lesotho was die meeste se keuse as jy in Durban wou uitkom van hier uit die suide.

27.10.14

Metamorfose tref Rooi Rose

 HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ná aanleiding van Jasper Schellingerhout se uitmuntende berig oor die "Sewentigs en hul nuwe koerant" wil ek graag ´n stuiwer in die armbeurs gooi oor die metamorfose wat die vrouetydskrif Rooi Rose op 10 Maart 1971 ondergaan het.

Soos Jasper skryf van die oorstoot van die sestigs na die sewentiger jare, was hierdie "oorstoot" by Rooi Rose nie so maklik met Martie Snyman aan die stuur nie.

23.10.14

Martie se Rooi Rose

GERHARD BURGER skryf: Op ʼn goor dag kan jy een van twee dinge doen: gaan busry of in ʼn winkel vol tweedehandse boeke gaan speel.

Port Elizabeth se busdiens is nie aan te beveel nie. Maar hier is darem twee boekwinkels waar ʼn mens maklik ʼn hele dag kan deurbring as die dors jou nie oorval nie.

Dit is hoe dit gebeur het dat daar nou tussen al die goeters in hierdie klein kraamsaal (ander mense het studeerkamers) ʼn uitgawe van Rooi Rose lê: Woensdag 19 Mei 1971. Die redaktrise was Martie Snyman, wat ʼn nogal lywige stuk oor haar dogter se kleresmaak geskryf het.

22.10.14

Nardus se humorsin laat kerk lag

Nardus Nel
JAKKIE GROENEWALD was die naweek by Nardus Nel se begrafnisdiens. Hy sê aan die mense wat Nardus se begrafnis bygewoon het, is dit duidelik dat hy diep en wyd spore getrap het.

Met die huldeblyke wat gelewer is, het Nardus se humorsin sterk na vore gekom met die lagbuie wat daar telkens in die kerk uitgebreek het. Huldeblyke is gelewer deur John Liebenberg en Dr Edith Phaswana (Nardus se buurvrou). Die diens is deur dr André Bartlett gelei.

Benewens Nardus se familie, het ook verskeie oud-kollegas opgedaag om hulde aan hom te bring - onder andere Elma Potgieter, Sipke de Vries, Louise Blake, Wessel Oosthuizen en Dana Snyman.

Bekendes in die vermaaklikheidswêreld wat daar was, sluit in Frank Opperman (wat namens Marina - Nardus se weduwee) die bedankings gedoen het, Leon Schuster, die rolprentvervaardiger André Scholtz en sy vrou Riana (wat as Riana Pienaar in verskeie rolprente verskyn het), Lochner de Kock, Nicky van den Bergh en Cobus Visser. (Nardus was 64 jaar oud. -- Red.)

20.10.14

Spietkop klop vir Nardus wakker

JAKKIE GROENEWALD skryf: Ons het in die 70’s die film Diamant en die Dief in onder meer die Vrystaat verfilm (Koffiefontein en Jagersfontein).

Omdat die inwoners daar ons so baie gehelp het, het die vervaardiger, André Scholtz, besluit dat ons die première van die film op Koffiefontein moet hou.

Lede van die tegniese span, akteurs, soos Hans Strydom, Sybil Coetzee, Francois de Bruyn en Mel Miller – en die uwe – was saam Koffiefontein toe vir die geleentheid. Nardus Nel is gestuur om foto's te neem.

17.10.14

'n Huldeblyk aan Nardus Nel

DANA SNYMAN skryf op sy Facebookblad soos volg oor Nardus Nel wat vroeër die week oorlede is:

Maart 1992. Ontmoet Nardus in Huisgenoot se kantoor in Johannesburg. Spreek hom die eerste keer as “Meneer Nel” aan. Ons gaan Durban toe. Dis my eerste keer in ´’n vliegtuig.

Ek neem aktief aan die lugwaardin se veiligheidsdemonstrasie deel. Nardus sit met ’´n perdeboekie en kies vanmiddag se wenners op Greyville. Dit gaan ’´n tawwe trip wees hierdie, dink ek. Hierdie beroemde fotograaf hou vir hom beter.

Kapper in ons woud is bedrywig

WILLIE BUYS skryf: Ek stem heelhartig saam met Lita Kotze se skrywe onder die opskrif Omkrultoon-storie van Jasper. Nou, nog voor Lita se skrywe het ek dominee Jasper se storie gelees en, net soos sy, behoorlik hoendervleisbulte uitgeslaan van pure lekkerte oor die behendige taalgebruik van die man.

15.10.14

Niki Lauda en Mozart in twee noue ontkomings

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Tydens ons opleiding by die joernalisteskool, moes ons op 'n dag Kayalami toe gaan om oor 'n motorwedren verslag te doen.

Evert van Niekerk, destyds die motorredakteur van Die Vaderland, het hom oor ons ontferm.

Evert moes dikwels met die renjaers onderhoude voer. Onder hulle was daar die gawe ouens en die galpille. Niki Lauda was een van die laasgenoemdes. Evert het geen ooghare vir hom gehad nie.

Waar is Dries van Heerden?

JAAP THERON, oud-Vaderlander vra: Wat het van my oud-Perskorkollega, Dries van Heerden, geword? Is hy nog met ons.

Afrikanergroete vanuit Brisbane in die South Pacific.

14.10.14

Gedenkdiens vir Nardus

MARINA NEL (Nardus Nel se weduwee) skryf: 'n Gedenkdiens word Saterdag 18 Oktober vir Nardus Nel gehou om 11:00 by die NG Kerk Aasvoëlkop, Hockeylaan, Northcliff. Boodskappe kan aan haar gestuur word by marina.nel@gmail.com.

13.10.14

Nardus Nel oorlede

Hans Lombard het laat weet dat Nardus Nel oorlede is.  Begrafnisreëlings sal bekend gemaak sodra besonderhede ontvang is.

Omkrultoon-storie van Jasper

LITA KOTZE skryf: Allamaskas, wat ‘n heerlike stuk letterkunde kry ons nie vanoggend van Jasper Schellingerhout in K’rant nie!

Nie alleen spreek die inhoud van belewenis aan eie bas nie, maar daai taalgebruik! My tone het behoorlik omgekrul van lekkerte oor die kuns van skryf wat Jasper besig. Gits, mens lees nie vandag maklik meer sulke kleurige, afgeronde, weldeurdagte berigte nie.

Ek skryf dit toe aan die era van “information overload” waarin ons lewe. Die beskikbaarheid van nuusbrokkies is eenvoudig dawerend te veel vir die ruimte wat beskikbaar gestel word deur die advertensieverkope in ‘n publikasie.

Sieg van Niekerk oorlede

Jakkie Groenewald het laat weet dat Sieg van Niekerk, voormalige motor-redakteur van Die Transvaler, is verlede week aan kanker oorlede.

10.10.14

Die SEWENTIGERS en hul "nuwe" koerant

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf:  ELKE bedeling het sy eiesoortige “geite” waarvoor daardie tydsgreep bekend is. Niks is solied gegiet nie. Al wat vas en seker is is dat niks vas en seker is nie. Dikwels kan hierdie tydperke in dekades ingedeel word.

Die dekade van 1960 – ’70 het behoort aan die sg. sestigers. Hul vrye denke, gedigte en storielyne het die grense partykeer erger getoets as wat die Nasionale Party kon platklap en in die grond inboor: André P. Brink, Etienne Leroux, Jan Rabie, Breyten Breytenbach en kie ...

7.10.14

Nardus Nel is baie siek

Nardus Nel
PIET ROOS skryf: Ons goeie vriend Nardus Nel is baie siek.

Hy was destyds 'n fotograaf by Die Vaderland saam met my. Hy het van die Oosterlig gekom, as ek reg onthou, en ons het saam gewerk in Aucklandpark. Nardus het nooit met 'n suur gesig rondgeloop nie, en altyd geglimlag.

Ek het daardie jare 'n kamera by Nardus gekoop, en betaal, Bienkie! Dit was 'n Minolta Autocord.

6.10.14

Johan Moolman oorlede

PIETER SCHOOMBEE skryf: Piet Roos vra Vrydag in K'rant wat geword het van Johan Moolman, vroeër sake-joernalis by Die Transvaler. Hy is op 8 Junie verlede jaar aan kanker oorlede nadat hy so 30 jaar lank die eienaar en redakteur was van Cape Business News. Dis steeds 'n suksesvolle sake-koerant in die Kaap.

3.10.14

Waar is Johan?

PIET ROOS vra: ´n Vriend vra my wat geword het van Johan Moolman wat destyds by Die Transvaler se sake-redaksie gewerk het? Weet iemand?

(Oud-kollegas kan met graagte dié forum gebruik om ander oud-kollegas te probeer opspoor.  -- Red.)

2.10.14

Piet betaal sy weddenskap na 40 jaar

PIET ROOS skryf: In Maart 1973 het ek die grootmens-wêreld van die joernalistiek betree.

Dit was die wonderlikse plek waar dinge gebeur het. Ons het elkeen 'n tikmasjien gehad, in ons hokkies gesit en stories op "seksie"-papier getik en die blaaie met kopspelde aanmekaar vasgesteek.

Toe ek meer as dertig jaar later op Upington by Douglas Jones kuier, trek hy 'n skryfblok nader en teken die hokke.

1.10.14

Gerhard is hoof van Bienkie se bewonderaarsklub

Die blote feit dat Bienkie Wessels van haar laat hoor het en dan nog op so 'n heerlike lekkerlees manier, het nie net K'rant se redaksie beïndruk nie.

GERHARD BURGER skryf: Bliksem! Daardie Bienkie Wessels kán skryf. Van kleins af. Nou nog. Laat weet haar ek is steeds hoofkommandant van haar fan club. Nog al die jare. (Jy het 'n vrag mededingers Gerhard - Red.)

30.9.14

Bienkie onthou die lekker van haar kollegas

BIENKIE WESSELS skryf: Dis die sien van Japie Bosch (Betaalmeester - of so iets?) se naam wat my doerie goeie dae laat onthou en besiel om iets te begaan.

Immer hulpvaardig, het Japie meermale bygedra as hy merk iemand sit en kraam; en wanneer die betrokke ou dan 'n blaaskans vat en 'n draai gaan loop, voeg hy gou iets tot die storie by.

Sy wenke het nogal gehelp. Kan nie onthou dat ek hom ooit met iets bygekom het nie, maar hy't 'n mens gedryf tot 'n paar groot woorde - daardie tyd was donner 'n yslike swetswoord - en dan was die breinverbindings beter en kon jy verder skryf.

26.9.14

Len, sanger soos min, sing met Min

Verlede week het Hanlie Swanepoel-Vornberg onder meer van Len Lindeque se bekering vertel. In daardie tyd het Len ook langspeelplate gemaak. In Perskorhaan van Augustus 1972 het die volgende berig verskyn:

"Ná my ernstige motorongeluk verlede jaar waarin ek amper gesterf het, het ek besluit om my talente in belang van Christus en sy werk te wy ... “

23.9.14

Jammer, Hanlie

'n Webjoernal het nie 'n drukkersduiwel nie, seker maar 'n kuberduiwel.  Dié duiwel het gister met Hanlie Swanepoel-Vornberg se storie gelol.  Dele daarvan het verdwyn.  Dit is later reggestel.  Die volledige storie is HIER

22.9.14

Die Hugenoot en die Viking

 HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Dit was vanoggend lekker om oor Hermie te lees. So bly hy is nog met ons en dat dit goed gaan met hom.

Die joernalisteskool was oorkant 'n ry tydelike kantore waar die redaksie van Motorgids gehuisves was.

Motorgids was, soos die naam aandui, 'n motortydskrif en die redakteur was die aantreklike Jan Olivier.

17.9.14

Onder Len Lindeque se vlerke

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Len Lindeque se kantoor was reg langs myne by die Rooi Rose-redaksie. Ons was in die "agterbuurtes" van die gebou.

Ek en Elma van Vuuren, later Elma Meyer, was die kuikens in die redaksie. Len was ons mentor en het ons onder sy vlerke geneem.

In sy oorvol, slordige maar karaktervolle kantoortjie het hy meestal kop onderstebo by sy oorhoofse projektor sit en werk.

Regstelling

Hermie Hendriks sê sy oudkollegas moet nugter bly?

Waar kom julle daaraan?

Die stukkie goeie raad van Hermie was deel van 'n foto-byskrif wat in die slag gebly het en in die redakteur se agterkop vasgesteek het toe hy die kop vir die storie geskryf het. Bly goeie raad ...

15.9.14

“Bly nugter” waarsku Hermie

HANS LOMBARD skryf: Op Vrydag 5 September het ek Hermie Hendriks en sy dogter Hermien by die tuiste vir bejaardes, Huis Hoëveld, net agter die Wesparkbegraafplaas, Johannesburg, gaan oplaai vir ‘n heerlike middagete by die ou bekende Thunder Gun Steakhouse in Blackheath, Johannesburg.

Hulle doen al sake sedert 1968 en Hermie sê in sy Vaderland-dae het hy en van die manne gereeld daar geëet. Sy dogter, Hermien, bly ook in Huis Hoëveld. Sy kyk goed na haar pa. Sien hom feitlik elke dag. Hermie het mooi herstel nadat hy vroeër vanjaar geval het. Hy loop nie meer met ‘n loopring nie en het self aangestap na die motor.

9.9.14

Koei red my uit verknorsing

HANS LOMBARD skryf: My ma het my altyd gewaarsku: “Moenie met vreemde meisies ‘n geselskap aanknoop nie.” Maar soos ‘n mens ouer word en 21 verbysteek, dink jy mos jy kan al self dink en nie dis onnodig om altyd ma se raad te volg.

Só gebeur dit een Sondagaand op die lughawe in Parys, Frankryk. Ek was op pad terug Londen toe op die goedkoop vlug wat om middernag sou vertrek. Dis 00:30 en ‘n beampte kondig aan die vlug is vertraag en ons word getroos met sjampanje.

3.9.14

Hanlie vertel self

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ek het toevallig by ´n familielid van K´rant gehoor en natuurlik dadelik gaan loer. Jou wrintigwaar daar het intussen sommer dadelik 'n hele paar mense oor my geskryf en my ná al die jare in die buiteland onthou!

Ek was een van die agt wat destyds die eer gehad het om Perskor se joernalisteskool by te woon. Ons was vier vroue en vier mans, het almal wonderlik met mekaar oor die weg gekom en was groot bewonderaars van Hermie Hendriks.