Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.9.14

Len, sanger soos min, sing met Min

Verlede week het Hanlie Swanepoel-Vornberg onder meer van Len Lindeque se bekering vertel. In daardie tyd het Len ook langspeelplate gemaak. In Perskorhaan van Augustus 1972 het die volgende berig verskyn:

"Ná my ernstige motorongeluk verlede jaar waarin ek amper gesterf het, het ek besluit om my talente in belang van Christus en sy werk te wy ... “

Augustus 1972
"Só gesels Len Lindeque, begaafde kunstenaar van Perskor, wie se sesde langspeler, Jesus My Jesus, pas vrygestel is. Hy tree saam met musikante Ken du Plessis en Emmarencia Cronjé op.

"Ons ken almal vir Len as 'n man wat uiters vaardig met die verfkwas is. Maar sy sangtalent is minder bekend. Hy verseker ons egter dat ons in die nabye toekoms nog meer van hom op dié gebied sal hoor.

"Op dié plaat sing Len enkele gewyde liedere -- en glo my, hy kwyt hom uitstekend van sy taak. Tog is Len op sanggebied nie heeltemal 'n groentjie nie. Hy het al onder meer drie plate saam met die bekende Suid-Afrikaanse sangeres,, Min Shaw, gemaak.

"Volgens Len gaan hy nie 'n enkele sent van sy jongste plaat se winste ontvang nie. Al die geld gaan aangewend word om jong afgedwaaldes, soos dwelmverslaafdes, te help. Daarbenewens sal 'n deel van die geld bestee word om die Evangelie in die Goudstad te versprei.

"Len se jongste treffer verkoop soos soetkoek. Vóór die vrystelling daarvan het oor die een duisend bestellings ingestroom en noudat dit die platewinkels bereik het, word verwag dat verkope die hoogte sal inskiet.

"'Ná die motorongeluk het ek 'n gedaanteverwisseling ondergaan. Ek het tot die besef gekom dat die Here my nog 'n kans in die lewe gegun het. En toe het ek besluit om my kragte en talente aan sy saak te wy'," vertel Len.

"In Desember vanjaar gaan hy 'n soortgelyke plaat uitbring, maar dié slag sal hy saam met 'n volle strykorkes sing."

(• Gert van Tonder, oud-advertensiewerwer by Perskor, en Min Shaw het ook plate gemaak. 
• Die bedoeling van dié  berig is nie om K'rant oop te stel vir berigte met 'n godsdienstrekking nie.  Dit is bloot die herpublisering uit 'n Perskor-personeelblad (42 jaar gelede) oor 'n beminde oud-kollega. -- Red.)