Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.10.14

'n Huldeblyk aan Nardus Nel

DANA SNYMAN skryf op sy Facebookblad soos volg oor Nardus Nel wat vroeër die week oorlede is:

Maart 1992. Ontmoet Nardus in Huisgenoot se kantoor in Johannesburg. Spreek hom die eerste keer as “Meneer Nel” aan. Ons gaan Durban toe. Dis my eerste keer in ´’n vliegtuig.

Ek neem aktief aan die lugwaardin se veiligheidsdemonstrasie deel. Nardus sit met ’´n perdeboekie en kies vanmiddag se wenners op Greyville. Dit gaan ’´n tawwe trip wees hierdie, dink ek. Hierdie beroemde fotograaf hou vir hom beter.

Nardus Nel
Ons land in Durban. Ek kyk by die vliegtuig se venstertjie uit en wil iets intelligents sê. “Ek wonder hoe hou
hulle die gras tussen die aanloopbane so kort,” sê ek. Nardus kyk na my en glimlag. “Hulle laat snags die vliegtuie hier wei,” sê hy. Ek lag en lag, en lag ’n vriendskap los wat byna 23 jaar sou duur.

In tye van vreugde en in tye van hartseer, so help my God. Hy leer my om te kyk, om waar te neem: die papierblomme in ’n doktersvrou se sitkamer, die bedelaar se kortgekoude naels –- sulke goedjies, detail wat ’n storie van die papier af laat orent kom.

Hy het sy eie klein ritueeltjies om mense te laat lag. Byna nooit sal hy in ’n winkel of waar ookal betaal, voordat hy nie vir die een agter die toonbank vra nie: “Vat jy kontant? Do you take cash?” Hy is ook lief om beide sy hande voor sy mond te skulp, en dan te maak asof hy oor ’n luidsprekerstelsel praat.

Hy sal, sê maar, by die kantoor instap en dan sal Franz Kemp daar wees. Dan sal hy sy hande so voor sy mond hou, en sê: “Franz Kemp na ontvangs. Franz.” Ek was by toe hy dit die heel eerste keer gedoen het.
Dit was in die Marine Parade Holiday Inn in Durban. In 1993 of 1994. Ons stap by die ladies bar in, Nardus hou sy hande voor sy mond, en sê: “Ronnie na ontvangs. Ronnie.” Ronnie is die Indiër-kroegman.

Nardus gee vir Ronnie geld en dan gaan koop Ronnie die bestanddele en dan maak Ronnie se vrou vir ons Indiese hoenderkerrie en roti by die huis. Ons eet in die dameskroeg uit blikkommetjies terwyl die res van die mensdom wat nie vir Nardus Nel ken nie, in ’n tou by die buffet in die eetkamer staan en wag vir hul gastronomiese middelmatigheid.

Dit word ’n soort kode tussen my en Narrie, ’n onverwoordbare stukkie intimiteit: ons sal iewers wees, dan sal Nardus sy hande voor sy mond hou, en sê: “Ronnie na ontvangs. Ronnie.” Dan sal ons lag, sommer net omdat ons kan, omdat ons wil, omdat ons lus is daarvoor.

Ons reis die wêreld vol in ’n Huisgenoot-Corolla: van Port Nolloth tot in Kosibaai. Mosambiek. Namibië. Malawi. Ons doen stories oor sterwende kinders en beroemde rugbyspelers en presidente en skaapwagters en ’n skaam outjie met die naam van Joost van der Westhuizen wat in ’n woonstelletjie in Sunnyside in Pretoria woon.

Ons ry tussen Olifantshoek en Upington. ’n Kar kom van voor af, met ’n Newcastle-registrasienommer – NN. Ofte wel (N)ardus (N)el. Nardus dwing my om om te draai en agter die kar aan te jaag, sodat hy kan kyk wat presies die registrasienommer is. Hy skryf die nommers neer, want daaruit wil hy sy Lotto-nommers vir die week kies.

Nardus oornag nie graag in ’n hotel nie. Ons probeer in self catering-plekke tuisgaan, want Nardus wil braai en laatmiddag kaalbolyf onder ’n hoë lig staan, kaalvoet. By die huis het hy drie of vier braaiers.
Hy is versot op Verimark-produkte: die pan waarin jy spek kan braai sonder om kookolie te gebruik, die Ninja-mes waarmee jy ’n spyker se kop kan afsny, ens. ens. Maar hy koop die meeste van sy Verimark-produkte nie by die Verimark-winkel nie. Hy koop dit in pawn shops – pandjieswinkels.

Op ’n dag sê hy vir my: “Ek gaan nog die Krugermiljoene in ’n pawn shop in Joh’burg kry.” Oral waar ons gaan, tel hy klippe op en vat dit terug huis toe. 1993, 1994 ... Een herinnering roep ’n ander, die een is nie beter as die ander nie.

Ons gaan doen ’n storie in Pondoland. Die oggend toe ek vir Nardus by sy huis oplaai, is daar ’n geweer in ’n geweersak tussen sy bagasie. “En dit?” vra ek. “Dis my Mauser,” sê hy. “Ons gaan na ’n gevaarlike plek toe. Ons moet onsself kan verdedig as dit moet."

Ons kuier by die skrywer Pieter Pieterse en sy Jenny in die veld anderkant die Soutpansberg. Oom Pieter maak kos en daar is stories in die lug. Eenkant lê ’n hoop hout wat oom Pieter self gekap het.
Toe ons wil ry, sê oom Pieter: “Julle manne wil seker darem ’n bietjie hout saam terugvat stad toe.” Nardus begin hout in die Carolla laai, die kattebak is later vol hout. Toe begin Nardus hout op die Carolla se agtersitplek pak. Ek baklei, maar Nardus hou net aan hout bring. Oorvloed was sy tweede naam.

Op die ou end was daar net genoeg plek vir ons tasse bo-op die vrag hout op die agtersitplek. Ons slaap ’n nag op Verneukpan. Ons is saam op Ellispark toe die Bokke in ’95 die Wêreldbeker wen. Ons wen saam ’n jackpot op die perde iewers tussen 1995 en 2001. R4 327.

Hy dring daarop aan dat die mense by die Tout in Randburg die geld in kontant vir ons gee. ’n Hele dag lank loop ons daarmee in ons sakke rond, asof ons ryk is. Nardus was die eerste een wat ek gebel het toe my ma dood is. Ook toe my pa dood is, bel ek hom eerste.

Hy is hopeloos naïef in sy oordeel oor mense. Hy is bevriend met ’n kêrel wat saam met kolonel Mike Hoare die Seychelles binnegeval het. ´’n gevaarlike man, ’n huursoldaat. “Jissie, ou Tulio is darem ’n nice ou,” is Nardus se oordeel oor hom.

Ek kom op ’n dag by sy huis, hier sit hy en kuier saam met ’n bekende Springbok-rugbyspeler wat lank in die tronk was vir bedrog. Hy kuier vanmiddag saam met Tom Venter, die mechanic, in sy werkwinkel in Roodepoort, môre speel hy gholf saam met FW de Klerk. (Hy het wel gekla omdat FW op elke bof eerste wou afslaan, net omdat hy die staatspresident is.)

Nardus en sy vrou Marina maak Bernard, hul eie kind, groot en toe sterf Nardus se broer en dié se vrou saam in ’n motorongeluk. Opeens toe is daar nog drie klein kindertjies in die huis.

Nardus leer my ’n lewensbelangrike ding: As jy by ’n verkeerslig stilhou en daar is iemand wat besig is om die een of ander pamflet uit te deel, dan vat jy altyd ’n pamflet by daardie persoon, altyd, altyd. Hy sit langs my in die kar by ’n verkeerslig. Tussen die motors kom ’n jong man aangestap met sy pamflette. Die meeste mense ignoreer hom. Nardus draai sy ruit oop en wink hom geesdriftig nader. Die jong man glimlag en gee vir Nardus ’n pamflet. “No, no, I want two. I want one for my friend here as well,” sê Nardus en wys na my. Is daar vier mense in die kar, vra Nardus vir vier pamflette, een vir elkeen in die motor.
2003, 2004, 2005 …

Nardus raas met my omdat my belastingvorms al weer laat is. Ek en hy en Bernard is op Port St Johns toe by Ben Dekker. Nardus en Ben lag my sesuur in die oggend wakker. Een nag in Maltahöhe in Namibië vra Nardus my om Psalm 91 vir hom uit die Bybel te lees, terwyl hy met ’n flits wys waar ek moet lees.

Herinneringe is soms honne wat sit en tjank vir die maan. 2013. Nardus kom kuier op Jacobsbaai. Hy gooi stukkies brood op my grasperk, en vir die eerste keer ooit kom sit die meeue op my werf. Ons ry deur die Tankwa-Karoo. Ek kom agter hy stap stadiger en sukkel om die kamerasak oor sy skouer te kry.

In sy oggendhoesie is ’n sekere dringendheid wat my onrusting maak . Nardus is die eerste man, buiten my pa, wat vir my sê hy is lief vir my. Dikwels sê hy dit vir my. Dit neem my ’n ruk om dieselfde vir hom te kan terugsê, bloot omdat, wel, ek grootgeword het in ’n wêreld waarin mans nie sulke goed vir mekaar behoort te sê nie.

Hoe meer ek hier tik, hoe meer besef ek jy kan sekere vriendskappe nie in ’n duisend of wat woorde vasvang nie. Hoe verreken ’n mens die liefde?

Vrydagaand, 11 Oktober 2014. Flora-kliniek, Johannesburg. Hoësorg-eenheid. Beddens in ’n ry. ’n Verpleegsuster met kortgekoude naels. Nardus. Pype. Masjiene vol elektroniese syfertjies. Hartklop 94. Sy oë is toe. Die vinger wat oor die jare heen soveel keer ’n kamera se knoppie gedruk het, lê stil op die wit laken saam met die ander vingers.

Ek groet. Dit lyk of hy knik. Hartklop 94. Ek begin gesels, asof woorde ’n flitslig is in die nag op ’n Bybel op ’n stoep. Die meeste sinne wat by my mond uitkom, begin met die woorde: “Onthou jy die keer … Onthou jy die dag toe dit ons elf uur geneem het om van Nelspruit tot in Pretoria te ry, Narrie?

Onthou jy die keer by oom Gertjie Niemoller op Pofadder? Onthou jy…”? Doodstil bly hy lê terwyl ek praat en praat en praat. Besoektyd is verby. Hartklop 95. Ek leun vorentoe, tot naby sy kop en skulp my hande voor my mond, en hoor myself ’n paar keer na mekaar roep: “Ronnie na ontvangs. Ronnie.”
Die volgende aand, terug in die Kaap, lui my selfoon. Ek sien dis Marina wat bel, en toe weet ek hierna sal niks ooit weer heeltemal dieselfde wees nie. (Geplaas met toestemming van Dana Snyman. -- Red.)