Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.11.14

Stukkies en brokkies uit Hanlie se onderlaai

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Sedert ek meer gereeld in my pers-verlede rondsnuffel, glip daar weer laaitjies in my geheue oop.

Soos die dag toe die hooffotograaf van die Vaderland, Wessel Oosthuizen, ons vertel hy het vakansie geneem om Viëtnam toe te vlieg om oor die oorlog te gaan berig.

"Hete my kind," het sy geskokte ma oor sy planne kommentaar gelewer, "kan jy nie soos ander mense se kinders in Durban gaan vakansie hou nie!"

Wessel Oosthuizen
Een middag in die kafeteria het ons monde oopgeval toe Wessel komkommerkoel met die Australiese tennisspeelster, Evonne Goolagong in die eettou gaan staan.

Evonne Goolaagong
Verstom het ons almal ophou eet, terwyl Wessel doodluiers vir die tennisster verduidelik wat 'n vetkoek is.

My onskuld wat seks betref, het eendag die arme Johan Liebenberg, kunsredakteur van die Vaderland, in ´n groot verleentheid gebring.

Die gesprek het gegaan oor die vermoorde Bubbles Schroeder, ´n foonsnol wie se lyk in 1949 erens buite Johannesburg gevind is.

Bubbles Schroeder
Johan het vertel dat die storie rondloop dat sy tot haar dood toe´n maagd was. Ek was daardie tyd nog baie onskuldig en kon die kloutjie nie by die oor bring nie.

"Hoe is so iets moontlik? " wou ek verontwaardig weet.

Johan Liebenberg
Blosend en giggelend het Johan Liebenberg nie geweet HOE om my met die feite van die lewe in al sy fasette vertroud te maak nie.

Pierre Coetzee het op 'n tydstip vir Rooi Rose artikels geskryf. Hy was 'n senior joernalis met oorsese ervaring en 'n goeie twintig jaar ouer as ek. Ons twee het 'n ruk lank 'n kantoor gedeel.

Die tydskrifjoernaliste het, in vergelyking met die koerantlui, 'n baie rustige lewe gelei.

Ons het 'n twee-weeklikse sperdatum gehad en soos in Pierre se geval, was daar tussendeur tyd vir 'n potjie skaak.

Pierre Coetzee
Pierre het dikwels by die kantoor uitgeglip om met Scotty, Rooi Rose se uitleg-kunstenaar, 'n paar skuiwe te maak.

Die skaakbord het sy standplaas gehad en die stukke het in hulle posisies gebly tot die volgende geleentheid daar was om die spel voort te sit.

Een oggend het een van die grootbase van Perskor sy kop onverwags om die deur van ons kantoor gesteek en gevra waar Pierre is.

Ek het my boeglam geskrik en antwoord: "Meneer, kyk in Scotty se kantoor, hulle speel seker skaak."

´n Rooigesig en ontstoke Pierre was binne 'n paar oomblikke terug en het my 'n skrobbering gegee wat my ore die die hele dag laat tuit het!