Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.12.14

Karin onthou vir Koos Doep

KARIN PRETORIUS skryf: Ek kuier onlangs by ‘n oud-Tukkievriend, Douglas Davis en sy vrou Heloise op Stellenbosch en ons blaai deur sy fotoalbum. Ons staan vir ‘n oomblik stil by sy Koos Doep-foto’s.

Douglas was ‘n groot deel van sy loopbaan in Maties se skakel- en publisiteitsafdeling werksaam. Hy het ook later jare as Universiteit Stellenbosch se woordvoerder opgetree en sal onthou word vir sy TV-onderhoude waartydens hy met gesag oor Perskor se eie joernalis en liedjieskrywer, Koos du Plessis, gesels het.

Koos in 1967/68 toe hy by 
Die Vaderland gewerk het.
Douglas en Koos was beste varsity-pêlle sedert 1963 en kamermaats by die manskoshuis Alcor aan die Pretoriase Onderwyskollege waardeur hulle by Tukkies gegradueer het.

Ná hul studies het hulle in 1967 ‘n woonstel in Wolmaransstraat naby Joubertpark in Johannesburg se Hillbrow gedeel. Koos het by Die Vaderland in Empireweg as verslaggewer begin werk en Douglas by die SAUK- nuusdiens in Commissionerstraat.

Douglas was dáár toe Koos sy ‘Sprokie vir ‘n Stadskind’ (klik om te luister) gekomponeer het. Vyf en twintig voor drie in die oggend. Koos het Douglas wakker gemaak, en gesê luister hierna en met kitaar in die hand gesing: "As die reën van stof en roet verby is en die rook verdwyn ..."

Vir Douglas bly dit die mooiste van al Koos se liedjies, selfs mooier as sy befaamde Kinders van die Wind. Hy vertel dat die woorde geïnspireer is deur hulle besoek die vorige dag aan ‘n skool in die hartjie van Hillbrow naby Twiststraat.

Koos as 4-jarige seuntjie regs voor, 
links van hom sy boetie Henning, 
agter hom boetie Boet en sy sussie 
Hester. Regs van Hester is ‘n nefie.
Hulle was geskok om te sien hoe die skool se vensters met houtpanele bedek moes word om die lawaai en stof van Hillbrow se strate buite te hou en daarmee saam natuurlik baie sonlig wat die skoolkinders ontneem is.

Koos is diep geraak deur die beton-oerwoud waarin hulle hul bevind het en daarom die woorde in die liedjie wat lui "oor kranse van beton", terwyl "volg hom elke nag oor swart riviere" na Hillbrow se swart teerpaaie verwys. Hy eindig dan ook gepas met "dalk vind jy die land van blou saffiere en dalk ‘n brokkie son", gedagtig aan die son wat die skoolkinders as gevolg van die bedekte vensters nie gegun is nie.

En so is een van die mees aangrypende liedjies in Afrikaans in Hillbrow se strate gebore.

Douglas vertel Koos het nooit formele musiekopleiding gehad nie en hy kon byvoorbeeld nie bladmusiek lees nie. Hy onthou Koos het eenkeer ‘n kitaar in die hande gekry en een van die koshuisvriende het hom ‘n paar drukke op die kitaar geleer. Toe was dit vir hom baie lekker om saans die koshuismeisies te gaan "serenade" en een van sy gunstelingliedjies was die Briels se "Moenie vir pappie meer sherry verkoop, anders kom hy nie huis toe vanaand nie".

 ‘n Klompie koshuisbrakke in hul streepbaadjies van die 
Pretoriase Onderwyskollege in hul finale jaar in 1966. 
Koos is in die agterste ry tweede van regs en sy goeie vriend, 
Douglas Davis, in die voorste ry tweede van links.
Douglas se ná alles wat al oor Koos geskryf en gesê is, is daar een voorval waarvan niemand weet nie: hy en Koos was baie ondeunde seniors wat eenkeer die eerstejaars met ontgroening effe gekarnuffel het en toe die rektor dit uitvind, is hulle albei uit die koshuis geskors.

Hulle is darem toegelaat om hul studies te voltooi en hulle het in 1966 graad gevang.

Terwyl ek en Douglas dikwels op kampus gesels en gewonder het wat ons vir Geskiedenis en Afrikaans gaan ‘spot’, hoor ek nou vir die eerste keer dit was ook Koos se hoofvakke en hy het saam met ons ‘geswot’ en graad gevang – net ek het dit toe nie geweet nie. Hy was so ‘n skaam en teruggetrokke student.

Koos en Mornay in 1966 tydens ‘n treinrit van Pretoria 
na Kaapstad vir ‘n studentekongres van die Afrikaanse 
Studente Bond (ASB) op Stellenbosch.
My paadjie het wel later jare met dié van Koos gekruis, óf by Die Vaderland waar ons kollegas was toe ek as Perskor se verteenwoordiger in Salisbury gewerk het, óf meestal by Margaretastraat 28 in Pretoria aan huis van sanger Jannie du Toit en sy vrou Ansa.

Jannie het in die vroeë tagtigerjare Vrydae met liedjiesaande begin en sodoende ‘n fondament vir die ‘luisterliedjie’ in Afrikaans geskep.

Koos het, ondanks sy ingetoënheid, tog soms die kitaar opgeneem – ná ‘n aanhoudende gepor van ons kant af -- om ons te vermaak met een van sy liedjies, dalk selfs ‘n nuwe een.

Natuurlik was Koos se dood in 1984 vir ons almal ‘n groot skok.

Koos (heel regs) op sy troudag met Mornay
 in Junie 1968 op Standerton. Agter in die middel 
staan Douglas wat vriendelik vir Koos glimlag.
As 'n mens Douglas vra wat hy die beste van Koos onthou, kom dit dadelik: sy lojaliteit. Hy sou jou nooit as ‘n pêl ‘drop’ nie. Ook sy intellek, onthouvermoë en feitekennis wat hom goed te staan gekom het in debatvoering. Met interkoshuis-debatskompetisies was Koos sy kollegas ver voor met sy welsprekenheid, was hy altyd die wenner en is hy meer as een keer staande toegejuig.

Babs Pretorius
My mammie, Babs Pretorius , wat nou gemoeid was by die Afrikaanse luisterliedjie omdat sy self vir ‘n paar Afrikaanse sangers lirieke geskryf het, skryf in een van haar gedigte:

‘Dis Vrydagaand, maak brand die kers vir saamkom, vir musiek en vers, by Jannie du Toit se huis. By hierdie aande het baie liedjies boustene geword vir die liedjiemuur van later’.

En Koos Doep was deel daarvan, tot 15 Januarie 1984.