Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.11.14

Tokkelossie maak vir Roger bang

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Martie Snyman, in die jare sewentig, redaktrise van Rooi Rose, het in die Vrystaat grootgeword en kon Sotho vlot praat.

Sy kon iemand in dié taal vlei, vloek en behoorlik die Leviete voorlees.

Ons het almal groot respek gehad vir Martie. Sy kon jou meesleur met haar bruisende geesdrif, maar ook summier op jou plek sit wanneer iets haar nie gepas het nie.

Martie Snyman
Roger was ´n swart bode wat die daaglikse pos by Martie in die kantoor kom aflewer het. Hy was ook verantwoodelik vir al die pos wat van haar af weggestuur is.

Roger was ´n liewe en saggeaarde man wat meestal soos ´n stil skaduwee in die gang by jou verbygeglip het.

Op ´n dag moes hy iets gedoen het wat Martie Snyman die josie in gemaak het. Sy het vir Roger onomwonde in Sotho terreggewys.

Roger het druipstert verdwyn en die res van die dag nie weer te voorskyn gekom nie.

Laatmiddag het mense na hom begin vra en soek.

Dit het geblyk dat 'n vreesbevange Roger homself ná die onderonsie met Martie, in die toilet toegesluit en geweier het om uit te kom.

Medewerkers het met hom gaan praat, maar hy wou onder geen omstandighede die veiligheid van die beknopte gemakhuisie verlaat nie.

Roger se vrees het gespruit uit iets wat die woedende Martie Snyman die oggend in Sotho teenoor hom kwytgeraak het.

Daar is gewik en geweeg HOE om Roger uit sy wegkruipplek te kry.

Toe besluit iemand om Martie Snyman te gaan roep.

Sy het voor die toiletdeur gaan staan en baie rustig en geduldig met Roger ´n gesprek in Sotho gevoer.

Dit het ´n hele ruk geduur voordat Roger oortuig was dat dit veilig genoeg is om weer sy posrondtes te gaan doen.

Terug op kantoor het ons Martie gevra WAT op aarde sy die oggend vir Roger in sy eie taal gesê het?

"Hy het 'n groot fout met die pos begaan," het sy met die hele sak patats vorendag gekom.

" Toe vloek ek hom en het gesê die Tokkelossie gaan hom toor dat hy vir die res van sy lewe op sy kop loop!"

Voor die toiletdeur moes sy die verskrikte Roger belowe dat sy AL haar invloed by die tokkelossie sou laat geld om die verwensing te herroep.