Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.10.14

Metamorfose tref Rooi Rose

 HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ná aanleiding van Jasper Schellingerhout se uitmuntende berig oor die "Sewentigs en hul nuwe koerant" wil ek graag ´n stuiwer in die armbeurs gooi oor die metamorfose wat die vrouetydskrif Rooi Rose op 10 Maart 1971 ondergaan het.

Soos Jasper skryf van die oorstoot van die sestigs na die sewentiger jare, was hierdie "oorstoot" by Rooi Rose nie so maklik met Martie Snyman aan die stuur nie.

Martie Snyman het die tydskrif met ´n ysterhand geregeer en was aanvanklik nie ontvanklik vir enige vernuwing nie. Haar wortels het in die vyftigerjare geskiet en die oorstoot sestigs toe, was reeds 'n prestasie.

Die Nasionale Pers met hulle vrouetydskrif Sarie, was Rooi Rose se groot mededinger en Sarie se sirkulasie

het ná 'n behoorlike "face lift" ook buite die Kaap groot hoogtes begin bereik.

´n Nuwe gesig vir Rooi Rose was dus nie slegs ´n geval van ydelheid nie, maar oorlewing.

Bennie Fritz
Martie Snyman
Rooi Rose kon in daardie stadium nie kers vashou by Sarie nie. Sarie het geskitter in 'n kompakte glansformaat, was propvol interessante en byderwetse artikels en pragtige kleurvolle modefotos wat bladsye vol gevul het.

Rooi Rose het nog die verouderde groot en lomp formaat gehad en min groot glansfoto's in kleur is gebruik.

Die gemiddelde leseres was middeljarig en ouer en die trant van die tydskrif was grotendeels uit die ou wakis.

In die verlede was daar halfhartige pogings om te verjong, maar dit was 'n geval van ´n nuwe rok met ´n ou onderrrok wat onder bly uitsteek het.

Hoe oorreed ons Martie Snyman om Rooi Rose van die mottegifreuk te bevry?

Die assistent-redakteur, Bennie Fritz, was 'n man met toekomsvisie en die jong redaksielede het bankvas agter hom gestaan. Hy het stap vir stap begin om die nuwe pad te verken.

Jy kon nie werklik met Martjie Snyman redekawel nie. Jy moes haar oortuig.

Daar was die goeie dae wanneer Bennie haar met 'n nuwe idee kon inspireer en dié tye waar hy moedeloos met sy kop tussen sy hande in die kantoor gesit het. Dit was 'n voortdurende toutrekkery.

Toe het die noodlot ingegryp. Martie het ouma geword. Haar oudste dogter Marietjie het aan 'n dogtertjie geboorte geskenk.

Met die oumaskap het Martie se sagter sy na vore getree.

Martie Snyman met haar kleinkind soos dit in Hanekraai in Mei 1971 verskyn het
Sy het gelag en gestraal en was skielik meer onderhandelbaar. Glo my, ons het die toestand misbruik en daardie sagte kant behoorlik gekarnuffel.

In Maart 1971 het die eerste nuwe uitgawe van Rooi Rose verskyn. In ´n nuttige nuwe miniformaat en 'n kraaknuwe uitleg en mashoof in sierskrif.

Ons jongklomp het die nuwe rubriek "Fokus 71" begin. Dit het gefokus op alles wat "by" was.

Nuwe lewe word in Rooi Rose geblaas. (Uit:  Hanekraai, Mei 1971)
Ons het berig oor nuwerwetse modes, nuwe rolprente, plate, meubels en interessante winkels en eetplekke. Die klem het gelê op die gebruik van baie foto's en die kopie was kort en bondig.

Die nuwe rubriek "Doodluiters" het sowel die ouer as 'n jonger leserskring betrek en ook die kortverhale is met jonger skrywers beset.

Die sirkulasie het gestyg.

Daar was 'n radio-advertensie wat gelui het:" Niemand maak beter tee as u en Vyf Rose nie."

Ons slagspreuk by die nuwe Rooi Rose was: "Niemand skryf beter stories as u en Rooi Rose nie!"