Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.1.15

Die Vaderland word mondig

GUSTAF PIENAAR van Vleesbaai naby Mosselbaai het hierdie juweel van ´n stukkie Perskor-geskiedenis met 'n vraag of drie aangestuur. Hy skryf: Ek versamel op ‘n beskeie skaal Africana en spits my veral toe op getekende boeke en die handtekeninge van mense wat veral in die Afrikaanse leefwêreld uitgeblink het.

Onlangs het ek ‘n eksemplaar bekom van “Die Vaderland Gedenkalbum”, saamgestel deur ene Rud P Visser, wat in 1957 die “mondigwording” van dié koerant as ‘n dagblad asook die totstandkoming van die Afrikaanse Pers in 1936 herdenk het. Die betrokke eksemplaar het volgens die verkoper behoort aan Theo Greyling wat straks gedurende die laat 1970’s en vroeg 1980’s hoof van radionuus by die SAUK was. Ek het so skramsweg met hom te make gehad tydens my jare by die Afrikaanse Radiodiens (1972 -1983).

Wat die betrokke eksemplaar interessant maak, is dat daar op die eerste bladsy die handtekeninge verskynvan talle bekendes asook – vir my - ‘n goeie klompie minder bekendes. Ek vermoed die handtekeninge is bekom tydens die een of ander funksie/dinee/geselligheid om “Die Vaderland” se mondigwording as dagblad te herdenk. Ek heg hierby aan afdrukke van die betrokke bladsy asook van die omslag en titelblad van die bundel.

‘n Paar handtekeninge is dadelik herkenbaar: dié van JG Strijdom (as premier; maar hy was mos ook voorsitter van Dagbreekpers – Afrikaanse Pers se groot teenstander?); JF (Tom) Naude, BJ (Ben) Schoeman en JH Viljoen (kabinetsministers); Harm Oost (redateur van Ons Vaderland); Gideon Roos (toe nog direkteur-generaal van die SAUK); AM van Schoor (latere redakteur van “Die Vaderland”); Joel Mervis (redakteur van “The Sunday Times” - dat hy genooi is vind ek nogal pikant); W (Wollie?) van Heerden (was hy toe aan die SAUK verbonde?) en Max Goodman, indertyd burgemeester van Johannesburg.


Ek wonder of daar lesers van u webjoernaal is wat die ander handtekeninge kan eien? Dit lyk of die handtekening regs van dié van Strijdom dié van ene Alberts kan wees. Dit is ook duidelik dat ene Havenga geteken het en in die ry heel onder lyk dit vir my is daar die handtekening van ene Grobler. Les bes lyk dit vir my die handtekening onder dié van Goodman kan Gerrit Bornman s’n wees - hy was mos, soos Eben Cuyler, betrokke by die Nasionale Party in Johannesburg, nie waar nie?

Die ander handtekeninge kan ek nie eien nie.

Dalk kan K‘rant se lesers hiermee help? Ek wonder ook of enigiemand kennis dra van ‘n funksie waartydens die handtekeninge bekom kon word; op watter datum sou dit plaasgevind het en waar? Swerf daar dalk nog iewers ‘n spyskaart van so ‘n funksie rond? Weet u van ‘n argief waar sulke inligting bewaar word?

(Hoe lyk dit? Is daar iemand wat vir Gustaf kan help? Stuur gerus julle antwoorde aan K´rant. -- Red.)

• Gustaf Pienaar is een van die pionierstudente (1968) van die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), deesdae UJ. Ná 'n loopbaan van 11 jaar by die SAUK as omroeper by die destydse Afrikaanse radiodiens en later as bestuurder: Uitsaainavorsing het hy hom as prokureur bekwaam en 27 jaar lank in daardie hoedanigheid te George gepraktiseer. Hy is in 2012 as advokaat van die Hooggeregshof toegelaat, maar koester geen ongesonde ambisie om aktief as sodanig te praktiseer nie – daarvoor put hy te veel vreugde uit sy aftreejare te Vleesbaai, saam met Corlina, sy vrou van byna 40 jaar.