Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.10.14

Niki Lauda en Mozart in twee noue ontkomings

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Tydens ons opleiding by die joernalisteskool, moes ons op 'n dag Kayalami toe gaan om oor 'n motorwedren verslag te doen.

Evert van Niekerk, destyds die motorredakteur van Die Vaderland, het hom oor ons ontferm.

Evert moes dikwels met die renjaers onderhoude voer. Onder hulle was daar die gawe ouens en die galpille. Niki Lauda was een van die laasgenoemdes. Evert het geen ooghare vir hom gehad nie.

Evert van Niekerk
Niki Lauda het in die Formule 1 vir Ferrari gery en was in 1975, 1977 en 1984 die wêreldkampioen.

Lauda was baie aanmatigend en kortaf teenoor die pers. Hy was 'n rykmanseun uit Wene. Die familie was welgestelde fabrikante.

In 1976 tydens 'n wedren op die Nürburgring in Duitsland, het sy Ferrari 'n tegniese probleem ontwikkel en Lauda moes na regs uitswaai. Hy het teen 'n muur gebots en sy motor het in vlamme opgegaan. Hy het knap by die dood omgedraai.

In sy boek "My Story" wat hy later geskryf het, het hy vertel hoe hy in ´n kritiese toestand, dommelend tussen bewussyn en bewusteloosheid, die hele tyd bewus was van 'n bedreigende swart skaduwee in die een hoek van die hospitaalkamer.

Lauda, die renjaer
Lauda vandag
Na talle operasies en veloorplantings, sonder hare en met erg beskadigde ore en talle brandwonde in sy gesig, dra hy sedertdien oral en altyd 'n rooi bofbalpet wat intussen sy kenteken geword het.

Ná die ongeluk het hy weer begin ry en nog twee keer wêreldkampioen geword.

Lauda, 'n opgeleide en geesdriftige vliënier, het in 1979 sy eie lugredery, Lauda Air in Oostenryk gestig.

My man, Richard, moes as gevolg van sy beroep dikwels vlieg. In Mei 1991 het hy 'n Lauda Air-vlug met die welluidende naam Mozart, op pad Bangkok toe gehaal.

Op die vlug het die passasiers in die besigheidsklas elkeen 'n CD met die klavierkonserte 
van Mozart present gekry.

Richard het heelhuids in Bangkok geland, min wetende dat dit die laaste vlug was wat die Mozart veilig sou aflê.

Lauda langs die vliegtuigwrak van die Mozart.
Toe die Boeing 767-300 ER vanaf Hongkong via Bangkok na Wene terugkeer, het die vliegtuig 15 minutenadat dit uit Thailand opgestyg het, op 'n hoogte van 8 000 meter in die lug uitmekaargebreek.

Die sagteware van die vliegrekenaar het 'n wanberekening gemaak en die linkerkantse enjin in tru geaktiveer, 'n proses wat gewoonlik tydens die landing in werking tree. Die vliëniers kon niks doen om die vliegtuig te red nie.

Daar was 213 passasiers en 10 bemannigslede aan boord. Niemand het oorleef nie.

Die Mozart CD wat nooit oopgemaak is nie.
In 2002 moes Niki Lauda die "Lauda Air" redery weens geldprobleme aan "Austrian Airlines" verkoop.

In 2003 het hy saam met "Air Berlin" die redery "Flyniki" gestig.

Hulle het 'n vloot van 23 Airbus A 320-200 en Embraer 190-vliegtuige waarmee hulle hoofsaaklik in Europa vlieg. Hulle bied vakansievlugte teen redelike pryse aan. Lauda sit nog dikwels self in die vliegkajuit van een van sy stralers.

Richard het geweier om ooit die Mozart CD oop te maak en te speel. Ons het almal hierdie wens van hom respekteer. Dit is tot vandag toe verpak in die sellofaanpapier.