Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.1.15

Jac herrys uit die dode

Weens ‘n misverstand het Jac de Vries se naam op die lys van afgestorwe kollegas beland en die redaksie vra groot om verskoning vir die ongerief wat dit moes veroorsaak het aan Jac en almal wat hom geken het. --  Red)

JAC DE VRIES, voormalige politieke korrespondent van Die Vaderland en adjunk-redakteur van Oggendblad, skryf: Wat doen `n mens as jy in `n betroubare publikasie soos K`RANT lees jy is oorlede? Glo jy dit? Gelukkig was ek lank genoeg 'n joernalis om ook hierdie stelling met `n gesonde maat skeptisisme te benader.

Ek dink die oorsaak daarvan was dat ek kontak verloor het met al my ou Perskor-kollegas ná die sluiting van die koerante in 1983. En as jy spoorloos raak, moet jy mos dood wees ...

Louis le Grange
Ek is op uitnodiging van die destydse minister van Polisie, Louis le Grange, aangestel in die SA Polisiediens & Seuns. Eers by Dobpol, die Dept Openbare Betrekkinge van die SAP met die rang van luitenant-kolonel. Nie lank daarna nie het die destydse Nasionale Kommissaris, genl Johan Coetzee, my as sy persoonlike stafoffisier aangestel. My pligte was om al sy en die minister se toesprake te skryf. Ek het ook as waarnemer vir genl Coetzee alle gebeurtenisse waar daar potensiaal van geweld was, bygewoon om verslag te doen oor presies wat gebeur het.

Op `n môre roep die generaal my in en stel my aan as die SAP se Skakel met die twee Kamers van die Parlement vir Indiërs en vir Kleurlinge. Ek moes aandag gee aan enige probleme wat hulle met die SAP gehad het, hetsy in Kaapstad of in hulle kiesafdelings. Ek het duisende kilometers per motor gereis hiervoor en talle interessante ervarings gehad. Ek het ook wonderlike vriende daar gemaak.

Daarna is ek gesekondeer na die Sekretariaat van die Staatsveiligheidsraad as Strategiese Kommunikasiekundige. Weer eens het ek die land deurkruis om oplossings te vind vir probleme soos waar boswerkers gedreig het om weens onredelike diensvoorwaardes duisende hektaar staatsbosse af te brand, om maar een te noem. Dit het my inisiatief talle kere deeglik getoets, maar as ek daarop terugkyk was ek geseën met uitermatige sukses. Daar is ek bevorder tot vol kolonelsrang.

Adriaan Vlok
Een Sondag toe ek by die bakkery `n heerlike vars brood gaan koop, loop ek nog `n ou vriend van my uit my dae by die Dept van Justisie raak, nl minister Adriaan Vlok. Ek is terstond terug SAP toe om sy en die ganse Generale Staf se toesprake te skryf. O ja, en hulle eggenotes s`n ook. Met vyf nuwe personeellede om te help, is die taak ook gepak en pak gegee. Dit was nogal lekker.

Nog `n heerlike ervaring was my tyd as Skakelhoof van die SAP in Soweto. Ek is toe aangestel as Distrikkommissaris (DK) vir Soweto-Noord en bevorder tot brigadier. Daarna was ek DK vir Johannesburg-Noord en toe Johannesburg, waarna ek aangestel is as waarnemende Adj Streekkommissaris vir Johannesburg. In 1996 het ek ontslag geneem op mediese gronde.

'n Pragtige Londen-toneel.
Ek en my vrou, Christa (néé Coetzer) en ons dogter, Tanya, toe in st 5, is daarop vort Engeland toe waar
ons 14 jaar gewoon het. Christa het by die Britse Dept Van Justisie gewerk. Tanya is na skool na Kingston-upon-Thames Universiteit toe en het as onderwyseres gekwalifiseer. Sy woon steeds in Engeland waar haar lewensmaat hom as argitek bekwaam. Ek? Ek het eers as klerk gewerk by `n werwingsagentskap, toe as verkoopman van Kirby stofsuiers (teen £2 000 elk!) en daarna as verkoopman en ontwerper van kombuise.

En nou is ons terug; 4 Maart 2014 hier geland en het die volgende dag en dag daarna `n reünie van ons 1954 st 5 klas aan die Laerskol Pretoria-Oos en toe die 55-jaar reünie van ons 1959 matriekjaar aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria bygewoon.

My lewe was ryk, nie ek nie. My wedervaringe verruil ek vir niks. En nou verkoop ek huise in Johannesburg. Maar dood? Nog nie ek nie.