Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.11.14

Die swerfjare van Charl Thom

CHARL THOM skryf: Jasper se storie oor sy gesprek met Marius Jooste oor eersgenoemde se planne om by Rooi Rose te gaan werk, het my lang stilte wat K'rant betref so effens verbreek.

Toe ek destyds uit Die Vaderland se hoofredaksie bedank het om redakteur te word van Die Kamer van Mynwese se koerante, Mining News en Die Mynblad, het die grootbaas my ook laat roep. Dit was redelik kort nadat Harald Pakendorf ingebring is as mederedakteur saam met Dirk Richard. Ons het wel deeglik besef dat die reëling tydelik is en dat Oom Dirk se dae getel was.

Grootbaas Jooste
"Hoekom wil jy loop?" het die baas met die deur in die huis geval.
"Wel, ek meen ek het 'n beter toekoms waarheen ek gaan," het ek geantwoord.
"Is dit oor Pakendorf?"
"Nee, glad nie."

Toe druk hy 'n knoppie iewers op sy lessenaar om Harald te ontbied. Dit het gevoel soos niks meer as twee minute voor laasgenoemde by die deur instap nie. Nog voor hy kon plaasneem, het die baas gebulder: "Hoekom jaag jy die man weg?" Net so.

Ek weet nie wie van Harald of ek die meeste uit die veld geslaan was nie. Weet ook nie wie van ons die eerste was om hom reg te help nie. En ek wonder tot vandag toe nie of Harald dalk gedink het ek het so 'n storie vertel.

Harald Pakendorf
Dirk Richard
Toe word Harald weer uitgestuur en die baas kyk my soos net hy kan, onder daai ruie wenkbroue deur:

"Nou begin jou swerfjare. Ek het al baie gesien gaan en terugkom. Ek weet jy sal ook. Daai Engelse sal jou fyn maal. Laat weet my wanneer jy van plan verander."

My "swerfjare" het toe nooit gekom nie. Ek het na 19 baie goeie jare by die Kamer afgetree as bestuurder/redakteur van hulle publikasies. Ek het die besluit om te skuif nooit berou nie. Inteendeel. Al wat ek regtig gemis het, was my kollegas, hoewel 'n hele paar van hulle gelukkig oor die jare by my aangesluit het.