Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.11.14

Die Hollander met die hoekige van

HANLIE-SWANEPOEL VORNBERG skryf: Omdat ek Jasper Schellingerhout se stories so geniet, het ek in sy "verlede" gaan delf, na ou foto's gekyk en toe besef ons was wraggies ´n paar maande lank bure in Linden.

Ek en Richard, my man, het pas voor die geboorte van ons eerste kind by die Katberg-woonstelle ingetrek en die Schellingerhouts het ´n kort rukkie reg langs ons gewoon.

Daarna is hulle weg en het Pierre Oosthuizen, fotograaf by Die Vaderland, hulle woonstel oorgeneem.

Dominee Jasper se puik skryfstyl het my aan die kerkbasaars van my kinderdae herinner.

Daar was die poedingtafel en die tafel met die wolpoppies. Die vroue het weke lank klein gekleurde wolpoppies gemaak en die mans was veronderstel om dit te koop en aan hulle lappelle te speld.

Dit het egter jaar vir jaar so gegaan dat die vroue aan die einde van die aand hulle poppies weer moes inpak vir die volgende basaar, terwyl die mans almal om die poedingskottels saamgedrom en dié tafel leeggesmul het!

Jasper
Schellingerhout
Indien Jasper nou aanmekaar skryf en die lekkerste poedings aan ons opdis, gaan die res van ons "wolpoppieskrywers" in ons doppe terugkruip en gaan hy spoedig ´n eenmansvertoning lewer vir "K´rant"?

Ek het Jasper hoofsaaklik onthou as gevolg van sy netelige Nederlandse familienaam.

Dit herinner my aan nog ´n Hollander met ´n kantige en hoekige van. Jan Hoeksema.

Jan Hoeksema, in die jare sewentig, hofverslaggewer van Die Vaderland, het ons trossie groentjies van die joernalisteskool elke Woensdag saamgesleep hof toe.

Ons moes na die hofsake sit en luister, aantekeninge maak en dan kort en bondig en korrek oor die feite berig. Jan Hoeksema het dan die berigte met sy rooi ink gekorrigeer en dit het gewoonlik soos ´n bloedbad gelyk.

Jan Hoeksema
Om die een of ander rede het ek gedurende die kursus, ´n egte skooldogter "crush" teenoor Jan Hoeksema ontwikkel.

Hy was saaklik en terughoudend en het ons nie met die warmte en hartlikheid van Hermie Hendriks behandel nie, maar ten spyte van sy koelkop het hy tog erens in my ´n hartsnaar geroer.

Die vroue in ons groep het geweet van my swak vir Jan Hoeksema en een van hulle het hierdie sappige brokkie inligting op ´n dag grappenderwys misbruik, wat my in ´n groot verleentheid gestel het.

Dit was tydens die afskeidsdinee aan die einde van ons opleiding by die joernalisteskool. Hermie Hendriks en Jan Hoeksema was albei aanwesig. Mevrou Hoeksema het ook die funksie bygewoon.

Een van die dames het in die loop van die aand, ná ´n paar glasies wyn, laat glip dat veral EK meneer Hoeksema voortaan baie gaan mis.

Alle oë was skielik op ons gevestig en ek en Hoeksema het albei met tamatierooi gesigte aan die tafel gesit.

Dit was die sorgsame Hermie Hendriks wat my verleentheid bemerk en die situasie ontlont het.

Kort nadat ek by Rooi Rose begin werk het, het Jan Hoeksema baie siek geword. Hy is oorlede net nadat ek die land verlaat het.

Ek sal hom altyd met 'n sagte plekkie in my hart onthou. Die Hollander met die hoekige van!