Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.1.15

Ou Dinges se rooi verklap sy kamerverlaat

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Ek sal hom op hierdie openbare leesskerm maar liefs ‘Ou Dinges’ noem. Dis veiliger en só bou ek terselfdertyd ‘n stukkie misterie in hierdie ware storie in.

Ou Dinges was ‘n Vaderland-man voor Doornfontein se dae. ‘n Kollega. Hy’t in die omte van Brixton gewoon en dus nie ver van Aucklandpark af nie. Hy kon etenstyd, as die inklinasie daar was vir ‘n brekie weg uit die kantoor, gou huis toe wikkel en dan weer betyds terug wees. Dinges se dinge het met reëlmaat só verloop: “Net gou huis toe skiet. Netnou trug.” En dan was hy afwesig.

Nou, ek had ‘n gemene onderwyser in my puberteitstyd. As die knypery nie meer wou werk om pousedroog te kan haal nie, moes ons hand opgesteek en vra: “Mag ek kamer verlaat, meneer?” Dan het die nare skoolmeester juis my en ‘n paar ander skames uitgesonder met ‘n teenvraag: “Om te wat.?” Ons ou dae se kleindorpiekinders kon mos vrekskaam en beskroomd wees voor meisiekinders. As ek dan maar kon wegsink in die vloerplanke se nate! Dit was my te erg om die meisies te hoor giggel as ek met ‘n gestotter ‘n antwoord met ‘p’ daarin vermy het.

Ek en die ander in die subkantoor het nooit Ou Dinges ongemaklik gehad het met ‘n “Om te wat?” nie as hy so kamer verlaat het. Dis sy eie dinge en hy’s immers ook ‘n paar seisoene verder op die lewe se pad as ons ander.

Soms het die skalkse kyke van ons klompie getuig van ‘n soort eendragtige denke oor die saak. Later was dit nie eers meer ‘n saak vir nadenke nie.

Tog het ons soms waag dink of dit nou rêrig huis toe was wat hy gegaan het. Of, was die tee tuis dan baie lekkerder as dié van Perskor se kafeteria? Had liefie dalk ‘n vars toebroodjie reg vir hom? So het die legkaartstukkies in ons koppe rondgevlieg.

Op ‘n dag kom Ou Dinges met veerligtheid in sy nr neges die kantoor binne ná so ‘n afwesigheidjie.

Sy kyk is behaaglik soos ‘n baba wat pas die briekies losgemaak het in die doek -- so ‘n soort salige Mauritius-kyk oor ‘n idilliese strand.

Eers ná ‘n wyle sien een van ons dit duidelik raak: Sy hele mond is rooi omsoom. Onmiskenbaar ‘n lipstiffie s’n! Heita, en hy’t g’n piksoentjie gesteel nie! Dit moes passie geverg het om die rooi só wyd te laat lê! Hoeka is die definisie van ‘n ordentlike soen mos, ‘n afdruk van ‘n indruk, met nadruk gedruk.

Ou Dinges is salig onbewus van sy kollegas se bewustheid. Die “om te wat?” vir die “kamer verlaat” wat ons nooit waag vra het nie, was daar en dan vir altyd oorbodig.

Die boodskap versprei in die subkantoor met ‘n onderlangse beduie na Ou Dinges se mond. ‘n Paar van ons kan ons lag moeilik binnehou. Ons gedagtes loop lekker paaie.

Dinges wonder waarskynlik ‘n wyle waarom sy kollegas dan nou saam met hom so ‘n behaaglikheid wys. Dit gaan vir ‘n rukkie ongemaklik vrolik in die subkantoor. Ek dag toe ek moet dié ding diplomaties ontlont anders sak ons blaaie vandag wraggies te laat soos ons nou hier oor ons gedagtes en gegiggel wil struikel.

Asof in ‘n kerk; so diskreet moontlik, maak ek vir hom ‘n sirkelbeweging met my wysvinger om die mond. Ou Dinges weet dadelik waaroor dit gaan.

Ek sien dit ná byna 40 jaar asof in 3D voor my: hy haal nonchalant sy sakdoek uit, vee sy mond met ‘n sirkelbeweging en bekyk ‘n flietende oomblik die kosmetiese neerslag. Sy glimlag is terstond skaapagtig. Sy blos neig na dieselfde rooi en hy maak of daar niks gebeur het nie. Ons wat dit bemerk het, ook nie.

Almal se grootste stryd daarna is skielik dieselfde, nl om doodluiters aan te gaan met die soek van taalfoute en bladplanne trek, asof “kamer verlaat” en alles wat dit kan meebring maar net iets heel gewoons is. Ons werk met vreemde inspirasie en bêre ons eie afwesigheidsdrome vir ‘n ander dag, want ons wil hom verdere bloos spaar.

Maar, glo my, nog lank daarna was dit ‘n sappige praatsaak in die kantoor oor dié dag se ontboeseming.

Ns (gerig aan ons AFWESIGE OUDKOLLEGA): ek het agterna als analities bedink: as jou spannetjie kinders daardie tyd van die dag almal nog in die skool is dan is die moontlikheid van passievolle onbevangenheid mos wraggies soveel beter, Ou Dinges! Ek gun jou jou goeie, lekker regte. En boonop is mure wat ore het, gelukkig sommer ouvrou-bogstories, man!

Ek en die ander wat báie verder as jy van die kantoor af bly, is net so liggies jaloers op die mooi van jou rooi! Daarby kan jy ook net sowel terugkap met wat de dinges het my dinge met julle te doen? Nè, Ou Dinges!

Ek het verneem hy is intussen vir goed afwesig en nie meer by die lewendes nie. Jy kan ‘n dooie nie belaster nie, maar ek het nog genoeg skaamte in my om nogtans ‘n heel mond te verkies en Ou Dinges se naam te verswyg. Raai-raai speel hou immers ‘n storie springlewendig.