Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.10.14

Die SEWENTIGERS en hul "nuwe" koerant

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf:  ELKE bedeling het sy eiesoortige “geite” waarvoor daardie tydsgreep bekend is. Niks is solied gegiet nie. Al wat vas en seker is is dat niks vas en seker is nie. Dikwels kan hierdie tydperke in dekades ingedeel word.

Die dekade van 1960 – ’70 het behoort aan die sg. sestigers. Hul vrye denke, gedigte en storielyne het die grense partykeer erger getoets as wat die Nasionale Party kon platklap en in die grond inboor: André P. Brink, Etienne Leroux, Jan Rabie, Breyten Breytenbach en kie ...

Dit was ook die dekade waar die Nasionale Party kruin gery en Afrikaanstalige koerante gediend was om die party ter wille te wees. Dr. Verwoerd is vermoor en die HNP was daar, ja, maar lg. was maar soos ‘n St. Bernard met ‘n bulder-blaf en meer kwyl as pyl in die koker en die NP hulle maar laat voel of hulle op ‘baisiekels’ in die groot lorries se dieseldampe ry ... Dit was ook Republiekwording met die groot vyfjarige bestaan daarvan wat in dié dekade gevier is. Daan Desimaal het Ponde, sjielings en pennies onder die blaker geskop wat ook ‘n spesiale identiteit aan die jong Republiek gegee het. Al hierdie dinge het ‘n bepaalde stempel geplaas op die voorkoms en inhoud van koerante.

En toe kom die Sewentigers. Met sy sewentigers.

Die Nasionale Party se landjie het welig in die blom gestaan. Die glorietyd van geldmaak van die sestigs het oorgestoot in die sewentigerjare. Nee wat, die ou Suid-Afrika se mense van toe en die NP-trein het lekker ‘witveer’geloop. (Dit was ‘n verwysing na die dun wit rokie wat ‘n stoomtrein maak as dit sonder vrag lekker op spoed is. Ek het dié uitdrukking uit Port Elizabeth na Johannesburg saamgebring waar ek en wyle Freek Swart dit dikwels gebruik het as dinge lekker vlot loop.)

Koerante het nou minder geneë sooie omgeploeg “vir die party” , soos dit die cliché was. In ‘n subkantoor (in my geval as assistent- en later hoofsub van Die Vaderland) het jy dit agtergekom. Dinge het beginne verander wat betref die nuusaanslag. ‘n Wegbeweeg van die patriotiese visie (intussen deeglik gesementeer) het sy beslag gekry. Dat die deursnee-Afrikanerleser se politieke denke geswaai en stewig gegiet was, was duidelik. Die Afrikaner het al sterker geëmansipeer en beslis ook Calvyn se donker toga beginne afskud. Die sestigerjare se finansiële voorspoed en die vrydenkende skrywers het die Afrikaner van die sewentigs se ingesteldheid verander. En ook sy nuussmaak.

Geld is ‘n snaakse, interessante ding wat ‘n uitwerking op baie meer plekke het as by ‘n direksievergadering en in die kroeg. Dit laat baie ouens hul integriteit en hul skaamte verloor: Ek kan maar my ordentlikheid verloor en skandes van my kan hulle maar weet ... solank ek net nóg geld kan maak. Hoe groter gees, hoe groter bees.

In die lig hiervan het ek ‘n duidelik hoorbare doofheid by die nuuskantoor en dan ook in die subkantoor
bespeur oor versoeke van hoofredaksie se kant af om sekere swaarkaliber-stories ‘n prominente plek in môre se uitgawe te gee. Noem dit sabotasie of ‘n stukkie sestiger-arrogansie van die redaksie se “tweede vlak” – ons manne wat die koerant finaal sy “gesig” moes gee...

Al meer is prominensie gegee aan sensasie-en-skande-stories. En ligter en meer omstrede soort kyk- en leesgoed. Die Nasionale Party was immers lank genoeg aan bewind dat skandes ook maar gereelder begin uitbroei het. Integriteit vs. aweregsheid, kan ‘n mens maar sê.

Nou, in die sewentigs, sou ‘n soort storie wat in die vorige dekade ‘n hoofberig op ‘n blad sou wees, saggies verskraal na ‘n tweekolom op bl. 15. ‘n Souserige skinderstorie of Glenda Kemp wat alweer ‘n dorp se manne in pale laat vasry het sou die 60 en 70-puntletters bo-aan ‘n blad wees. Marais Steyn, Jaap Marais, Helen Suzman en Kie staan nie in dié tou vandag nie. Ook nie die derde lesing van ‘n nuwe wetsontwerp in die Parlement nie.

(Het Landstem en die ou Brandwag dan nie hoeka gesneuwel nie? Ons gee nou daai skinderbreine kos!)

Tom Buys
Douglas Jones
Kort-kort het ‘n ‘stukkie cheese-cake’ deur die nuusredakteur se luik die subkantoor binnekom. “Mooi girl, né. Lekker groot -- minstens oor vier kolomme op bladsy drie; en maak daai ‘juicy’ storie eerder hoofberig. Dit was Tom Buys of Japie Bosch of Doug Jones se instruksies hier deur die luik.

Tom kon soms totaal dislojaal teenoor die hoofredaksie sê: “Ag, de dinges met die politiek, man! Dirk Richard en Marius Jooste wil mos koerante verkoop! Ek is die nuusredakteur van die koerant”.

Japie Bosch
Daar sou nou gewaagd gedink word. En gewaagde missies aangepak word. Ek onthou nog hoe ‘n verslaggeefster blosend teruggekeer het van ‘n “indiepte-ondersoek” (wat ‘n suggestiewe woordkeuse!) oor masseersalonne in Johannesburg. Ja, sy het kans gesien om selfs haar dienste aan te bied as masseuse t.w.v. die eerstehandsheid van die storie. En toe beland sy in nogal ‘n kompromiterende posisie, waar sy gelukkig kop gehou het ... Nee, daar is nie vir skandes teruggedeins nie – iets wat nie sommer in die sestiger-era sou gebeur nie.

Sport sou ook nou meer ‘n omstrede snykant kry waar individuele sportmanne en -administrateurs met mening gelak is en maklik blatant laat geloop is. Die kritiek sou feller en genadeloser word as voorheen as ‘n span of ‘n speler of afrigter droogmaak. Die span was nou amper meer die koerant se ‘besitting’ as die bond of unie waarin dit was!

'n "Cheese Cake"-foto.
Die koerant het eenvoudig op alle ‘beats’ spiere beginne bult soos ‘n standerd agt-laaitie voor ‘n spieël! Ook in die hoofartikels van die redakteur en die politieke kolomme sou daar algaande groter waagmoed gewys word. Die koerant was eenvoudig nie meer patriotiese dienskneg nie, maar eerder ‘n Sylvester Stallone in die bokskryt wat met ‘n skor stem sy afrigter in die hoek afransel tussen rondtes!

Kuns- en vroueblaaie sou baie minder gedienstig wees en resensies krasser en die onderwerpe gewaagder. Wat is vir ‘n vrou nou eintlik ‘sexy’? Hoekom is party mans so vrek-vrot in die kooi? Sulke soort goed.

Jip, die sewentigs was hier! Die drukkersink het soms amper gestink van die goeters waarin die koerant nou in dié nuwe dekade begin rondkrap het om dit bietjie losser as ‘n befaamde soort rys te maak. Die greep van die politieke inspraakmakers uit die hoë kantore was bloedloos afgeskud en die laer echelons – die “tweede vlak” wat nader aan die volk se nuwe denke was, het die koerant se bakkies vir goed verander!

Hoor-hoor vir die sewentigs! En wag, hoor ek ‘n eggo terug wat alte veel soos “viva” klink?