Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.2.15

Ou Harry laat hoor van hom

GERHARD KLEIJN skryf na aanleiding van Hanlie Vornberg-Swanepoel se navraag oor Harry van den Berg:

Ou Harry het my verlede jaar uit die bloute van baie verloopte jare gebel. Hy wou praat oor die moontlikheid van ‘n wynrubriek in ons tydskrif en ‘n gesamentlike wynsmousery.

Harry bly nou in Pretoria se ooste, ná baie jare in die Kaaplandse wynwêreld. Daar het hy hom duidelik bekwaam in die fynere kunsies van wynskryf, -smous, -proe en geniet.

Ons het ‘n slag by Kitty Hawk se restaurant ontmoet om oor sy planne te praat en het op die koop toe ‘n goeie kuier oor ‘n aantal glasies wyn ingewerk. Harry se weerbarstige swart kuif het effens vervaal, maar sy bykans permanente glimlag het gebly.

Sy selfoonnommer het ek ongelukkig saam met my gesteelde foontjie verloor, maar ek glo hy sal binnekort weer bel met nuwe planne.

(Harry was 'n lid van Perskor se joernalisteskool en 'n finansiële verslaggewer by Die Vaderland. -- Red.)