Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.10.14

Martie se Rooi Rose

GERHARD BURGER skryf: Op ʼn goor dag kan jy een van twee dinge doen: gaan busry of in ʼn winkel vol tweedehandse boeke gaan speel.

Port Elizabeth se busdiens is nie aan te beveel nie. Maar hier is darem twee boekwinkels waar ʼn mens maklik ʼn hele dag kan deurbring as die dors jou nie oorval nie.

Dit is hoe dit gebeur het dat daar nou tussen al die goeters in hierdie klein kraamsaal (ander mense het studeerkamers) ʼn uitgawe van Rooi Rose lê: Woensdag 19 Mei 1971. Die redaktrise was Martie Snyman, wat ʼn nogal lywige stuk oor haar dogter se kleresmaak geskryf het.

Martie Snyman
Tussen die latlyf-meisiekind op die omslag en die Pall Mall-advertensie op die agterblad is 190 bladsye – net onder die 13 duim lank en nege en half duim breed; 77 x 57 em in ons taal. Van kant tot wal vol advertensies.

Die voorbladmodel se naam word nie gemeld nie, maar ene Rolf Bublitz het die foto geneem.

Binne-in is ʼn spesiale hekel- en breiseksie (in die volgende uitgawe sou daar ʼn “Gratis los kookbylaag van 48 bladsye” wees) en artikels deur Henriette Louw (Partytjiekos uit die vrieskas) en Peers Hartzenberg (oor Hermien Dommisse).

Daar’s ʼn mode-artikel deur Matty Reid en ʼn vertelling deur Etherisia Gouws oor haar eersgeborene wat “oorlog toe” gaan.

John Lee
Willie Havenga
En ʼn vervolgverhaal (Sewentig maal sewe) deur JF Ferreira, novelles deur Nickey van Schalkwyk en Frik Yssel, en verhale deur Gilbert Gibson en Wille Martin. Einste.

Daar is rubrieke deur Fanus Rautenbach, Peers Hartzenberg en Lizette van Lingen en foto’s deur John Lee, Willie Havenga, Neville Langley and Frank Rousseau. Daar’s illustrasies deur Len Lindeque en Jacoby.

Groot maatskappe se advertensies is destyds in Afrikaans vertaal – en góéd vertaal. Koffiehuis het die binne-omslag gevat en Pledge die laaste binneblad. Wonderbra het ʼn nogal gewaagde foto aangebied (“hier is die bra wat u nóg beter bedeel”) en Triumph (“ʼn besonderse klein ietsie uit Europa”) het sekerlik ook die manlike lesers se aandag getrek.

Frank Rousseau
George Jacoby
Van die dosyne en dosyne ander adverteerders (those were the days, my friend) was Aero, Yardley, Endocil, Nescafé, Pantene, Royco, Sealy Posturepedic, Nivea, Bovril, Cameo, Edgars (self rondborstig), Pond’s en Van Dyck, wat ʼn dubbelblad nodig gehad het.

Ja, Surf ook. En Meltonian om skoene te kleur, Robin se stysel, Nestlé, Johnson&Johnson, Playtex (“wat verkies u om u middel – sy arms of ʼn rolletjie?”), LM-Radio en Violet Kuny. En Jannie Raath se klavierklesse. Bata en Jungle-hawermout ook. En Volpes (materiaal teen R7.75 vir ʼn pak van 20 jaart.)

In Die Sterre en U is vir die Krewe voorspel: “Nuwe verantwoordelikhede en uitgawes bring tydelike spanning ... ” Dit was omtrent toe ons oudste begin stap het; die begin van langtermyn-spanning.
Ensovoorts, ensovoorts.

En, o ja: “Lyk jare jonger met die verbasende nuwe Trim-a-Chin.”