Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.1.15

Johann tel ou drade met vreugde op

JOHANN BRITZ skryf: Ek kan dit byna nie glo nie. Nou kan my naam ook seker by die lys van 'oudgediendes' gevoeg word, met groete aan al die ou bekendes.

Ek sluit 'n kopie in van 'n knipsel uit Die Vaderland van 2 Junie 1970. Dis ons klompie van wie Maureen geskryf het in die nuutste (en my eerste!) uitgawe van K'rant wat ek danksy Anina Roux ontvang het. Wonder dikwels wat van almal geword het.


Hoewel ek sedert 2000 in die Kokanje-aftree-oord buite Nylstroom in Limpopo woon, het ek nog lank nie afgetree nie.

My joernalistieke loopbaan het ná ons opleiding by Hoofstad in Pretoria begin. Daarna was ek by Mynblad in Johannesburg en toe Die Suidwester in Windhoek. Dit het (vir eers) geëindig toe ek, twee jaar nadat ek in 1977 een van die stigters-redaksielede van Die Republikein geword het, by die nuutgestigde SWAUK aangesluit het.

Johann Britz in sy ateljee.
Van 1979 tot nou was ek voltyds en vryskut radio-omroeper, TV-aanbieder, redaksielid van Die Burger, skakelbeampte, drukkery-eienaar, lektor in taalvaardigheid (Brasilië), en in aanbiedingsvaardighede (Sandton), asook stemkunstenaar vir SAUK TV en ander instansies.

Nou sit ek in my tuisateljee en uitsaai vir 'n gemeenskapstasie in Mpumalanga via die Internet en hoop om die een of ander tyd 'n lisensie te kry vir 'n radiostasie hier in Nylstroom.

Dis lekkerrr om weer die ou drade op te tel en ek hoop om binnekort weer van julle te hoor.