Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.11.14

Die groot oom sink my Rose-droom

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Na aanleiding van Hanlie Swanepoel-Vornberg se skrywe oor die oumaskap wat Rooi Rose by ‘n nuwer aanskyn uitgebring het, het ek gedink aan ‘n trippie in die middel-70’s uit die Oos-Kaap, waar ek vakansie gehou het, na Durban vir ‘n onderhoud by die einste Rooi Rose:

Jare gelede vat my waagmoed om my joernalistieke loopbaan ‘n nuwe dimensie te gee, my deur die gevaarlike paaie van die ou Ciskei en Transkei na Durban. Dit was waag-ry. Almal het grootoog gewaarsku teen ry in daardie jare deur die Transkei. Vrystaat om en oor Lesotho was die meeste se keuse as jy in Durban wou uitkom van hier uit die suide.

Ek had ‘n werksonderhoud met een van die Heymans van Republikeinse Pers om by Rooi Rose te probeer "inkom". Hulle soek ‘n assistent-redakteur of ‘n ding. Watter een van die twee dit sou wees, wis ek nie; en sou ek uiteindelik ook nooit weet nie.

Maar ek waag dit, want ek wil weg uit Johannesburg waar ek hoofsub by Die Vaderland was. Ek ry die meeste miskoeke van duisende Transkei-beeste behendig mis. Al die nattes en die droës. Ook mis ek elke bok en bees en ‘n paar modderige varke net buite Butterworth. Taxi’s was toe nog genadiglik spoorwegbusse wie se bestuurders ‘n mistieke respek gehad het vir “oom Ben” (Schoeman) en die padwette en dit het aansienlik gehelp.

Marius Jooste
Ek kom dus behoue en redelik fatsoenlik by Republikeinse Pers aan. Sake loop mooi met die onderhoud.

Die wanneer-kan-jy-begin word deurgepraat ens. En ons gaan soek sommer huis ook. Finaliseer nog nie ‘n koop nie, want Marius Jooste lê nog voor. Hy is soos ‘n jongman wat sy eerste Cortina GT gekoop en so pas sy “date” opgelaai het oor Republikeinse Pers wat hy onlangs gekoop het/aandeelhouding by gekry het. Hy had nou ‘n nog groter domein en sy sê was groot.

In sy groot kantoor in die Goudstad wil die Groot Man dan toe ook weet hoekom ek die koerant wil verlaat. Ek verduidelik van die sprei van my vlerkies na ander fronte in die skryfwêreld en die droom van tydskrifjoernalistiek en van my hekel aan die gejaagde Johannesburg en my liefde vir die see ook. Met ‘n “Meneer weet ... ?” probeer ek hom aan my kant kry.

Ek beland dadelik in roostuin vol dorings! Hy bars my ou ballonnetjie net daar. Vinnig. En sonder die minste deernis. Bars en saaklik: “Jy kan nie gaan nie. Vaderland het jou nodig.” Ek slaan toe. Hy sê nog ‘n paar positief-klinkende goed wat ek daarna glad nie meer hoor waar ek hier voor hom sit nie.

Ek kon uit sy onverbiddelikheid (seker gerugsteun deur van die hoofredaksielede van DV) terstond opsom: Jy staan voor Fort Knox en op hierdie roete ry jy wraggies nie verder nie – PAD GESLUIT.

My verleë wees het net daar verander in ‘n doofheid en verviestheid. Ek is skielik befoeterd, soos ‘n Bisonbees met migraine. Ek’s bedroë en omgekrap daar uit. En so wraggies, die demoontjie hier agter my oor kon mooi hoor: “Weet jy wat jy met jou Rooi Rose kan doen?”

“Here,” sê-bid ek: ”ek is dan ‘n see-mens. Kyk hoe lief is my rooikopknaap vir die see en die strand. Hoe dan nou?” En so word my laatmiddag-stappies op die Bluff se sand soos ‘n boemelaar se stap in Perskor se gange af. Terug subkantoor toe. En elke liewe dag maar weer die ou ‘deadlines’, boeta.

My rooikop-pikkie se sandkastele en ons baljaar in die sand verskraal daar en dan terug na ‘n agterplaasgrondjie van ‘n kil woonstel in Linden. Ag, wat weet Marius Jooste immers van hierdie soort soeke in ‘n mens? Hy kom hoeka uit die Vrystaat waar al wind wat hulle ken in Augustus waai, gemeng met wolke rooi stof. Die see se kultuur van vars, skoon winde en branders wat dreun tel seker maar nie by hom of sy werknemers nie.

En net daar het ek iets geweet. As Perskor dan nie wil nie, dan wil ék. Tydskrifwerk staan my aan en is my volgende missie, passie en uitdaging. Met ’n bedankingsbrief sal ek oor jou klim! Hou dié ruimte dop, meneer Jooste. Die een of ander tyd.

En ek hét ook. Nie baie getye later nie. En dit was toe by die see. Net vrek-spyt hy het my nie ingeroep dat ek hom met die stukkie filosofie kon "gooi’" oor die wind en die branders nie.

Ns: Hoekom juis ‘n vrouetydskrif? Ek dink darem ek is ‘n sensitiewe soort mens teenoor die ander geslag en ek weet hoe werk ‘n vrou se kop. Wel, ten minste dié een saam met wie ek al 42 jaar lank ProNutro of "oats" eet en wat my klere steeds so mooi stryk.

Ek weet ook daar is ‘n sekere drieletterwoord wat ‘n pyl in die boud is van enige te-groot-geworde vrou. Omdat my dierbare enetjie ‘n skraal skeppinkie is, kon ek by geleentheid my aan dig waag juis oor dié gewaagde woord, sonder dat ek beskimping pleeg:

Saggies vee …

Dans liggies verby die nare v-woord
liefs liggies, my broer
Dié v…
‘t mooi niks te make met ‘n besem, nee!

Dis ‘v…’
vir die liefs-nie-genoemde
die woord vir die gedoemde
Die een wat jy sê
vir oormaatgramme wat
oor die boulyn van ‘n mooilynvrou kan lê

(Gramskap-gramme; dis wat dit is
as sy so vir ‘n iemand sis!)

Vriend Piet sug: ‘Van my Marleintjie
en elke gram oor haar lyne
het ek geleer:
sê selfs nie fetakaas, ou broer,
ook waar sy in haar slaaigoed roer!’
-- Jasper Schellingerhout