Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.11.14

Buks se spook loop steeds

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Allerheerlikste verrassing toe Hanlie (Swanepoel) Vornberg my van K'rant vertel! Ek was ook een van die agt wat destyds die joernalisteskool bygewoon het. Toendertyd was ek Maureen Heyl, maar nou is my van Swart.

Dit was een van die gelukkigste tye van my lewe en hoe ouer ek word, hoe meer dink ek aan daardie tyd terug. Ons was toe nog sterk en gesond, sonder plooie en met die vooruitsig van en 'n naïewe vertroue in 'n lang, gelukkige toekoms.

Ai!

En wat 'n voorreg was dit nie om Hermie Hendriks as leermeester te hê nie! 'n Besondere mens, hy. Iemand wat jy nooit sal vergeet nie. Sy kwinkslae, die vonkel in die oog!

San Souci
Die eerste twee, drie maande van die kursus het ek en Hanlie albei in die Hotel Sans Souci tuisgegaan. Naby die hotel was daar 'n onbeboude stukkie aarde, waarop 'n groot ou boom gestaan het. Ek kan nie meer  presies onthou hoe hy gelyk het nie, behalwe dat hy al gevestig-oud was, met wydgepreide takke. Elk geval, ons moes daagliks daar vebyloop. Soms ook in die aand as ons 'n tik- of snelskrifklas gehad het.

Buks Pietersen
Dan het ons van die persgebou af hotel toe gestap, want dit was binne loopafstand. Onthou net, daardie jare kon 'n mens saans redelik veilig rondstap, veral saam met 'n maat of in 'n groep. Dikwels het Buks Pietersen ons vir beskerming vergesel.

Dit was op een so 'n aand, net toe die boom in sig kom, dat Buks ons 'n spookstorie daaroor vertel: 'n man het homself daar aan 'n tak opgehang, het hy vertel. Die man het wit skoene aangehad en op 'n sekere tyd van die nag kon 'n mens nog die skoene sien swaai, swaai.

Pure gekskeerdery, ek weet. Nietemin, partykeer het ek sowaar die kriewels gekry wanneer ek alleen daar verbyloop het. Die mag van die verbeelding, nè? Kan ook tot vandag toe na g'n boom met wydgestrekte takke kyk sonder om aan daardie storie te dink nie. Wonder of Buks dit nog onthou?

Ná ons opleiding is ek by Die Vaderland aangestel, waar ek hofverslaggewing by die landdroshof in Johannesburg gedoen het. Hoe kan ek ooit die middagetes van vleispasteie en tamatiesous in die kantien vergeet? En die geskarrel soggens van hofsaal tot hofsaal om 'n saak te vind wat nuuswaardig was. Verkieslik opspraakwekkend ook, maar bloot net nuuswaardig was beter as niks.

Toendertyd moes jy 'n kniebuiging vir die landdros maak as jy 'n hofsaal binnestap waar 'n saak aan die gang was. 'n Regte, egte "curtsey." Soos vir 'n koninklike. Of soos 'n balletdanser(es) ná 'n vertoning. Is dié hofprotokol nog in gebruik?

Metterwoon het ek as tuisteskepper in die pragtige Aucklandpark gaan woon. Twee seuns hier grootgemaak. Gedurende dié tyd het ek af en toe 'n kortverhaal geskryf, wat in Rooi Rose gepubliseer was. Bennie Fritz was destyds die verhale-redakteur. (Tussen my opgaargoed het ek nog altyd 'n klompie óú Rooi Roses. Broos en vergeeld al.)

Hermie Hendriks
My oudste seun woon reeds die afgelope sestien jaar in Australië (Melbourne) en ek het 'n pragtige Ozzie-kleinseun van ampertjies drie. Soms gaan kuier ek daar en ons Skype gereeld. Skype -- ek wonder hoeveel klein kindertjies met grootouers in ander wêrelddele verkeer nie dalk onder die indruk dat ouma en oupa in 'n rekenaar skuil nie?

Tog is ek is een die gelukkige ouers, want ek het nog steeds 'n kind in Suid-Afrika. Soveel mense se hele kroos, sommer al hul kinders, het geëmigreer.

Ek woon nog in Johannesburg en sal baie graag Hermie se 90ste verjaardag met 'n reünie van ons kursusgangers wil vier (Hans Lombard se storie, 15 September 2014).