Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.9.14

Bienkie onthou die lekker van haar kollegas

BIENKIE WESSELS skryf: Dis die sien van Japie Bosch (Betaalmeester - of so iets?) se naam wat my doerie goeie dae laat onthou en besiel om iets te begaan.

Immer hulpvaardig, het Japie meermale bygedra as hy merk iemand sit en kraam; en wanneer die betrokke ou dan 'n blaaskans vat en 'n draai gaan loop, voeg hy gou iets tot die storie by.

Sy wenke het nogal gehelp. Kan nie onthou dat ek hom ooit met iets bygekom het nie, maar hy't 'n mens gedryf tot 'n paar groot woorde - daardie tyd was donner 'n yslike swetswoord - en dan was die breinverbindings beter en kon jy verder skryf.

Buks Pietersen
Japie Bosch
Japie was nie my gunsteling-kollega nie. Hy en Buks Pietersen was twee terroriste. (Maar om die een of ander obskure rede was ons erg vir hulle.) Veral die jong girls soos Emmie Gous en Marieta Roos moes dit ontgeld. Marieta had darem hulp byderhand; haar ridder, Pieter, was neffens in die subkantoor.

Daarvan gepraat: Pieter, jy skuld my nog 100 Pipers vir daai weddenskap van ons.

Die eretitel van my gunsteling het behoort aan Ouboet. Ouboet Oba (ook bekend as) Johan Snyman, kon naamlik sing!

Marieta Roos
Emmie Gous
Dan sit ons nou ligdag in ons glashokkies (buitemense en kontakte slaap nog vas) en weet nie mooi wat om te verwag nie en probeer positief dink. En dan kom Ouboet - toe al hoofman oor 'n halwe honderd - daar om die draai van die groot kantore af en hy sing. Maar SING. Kentucky Blue-hoe-hoe-s ...

Dan lag almal. (Ons kon kies tussen lag en huil.)

Ná hul oggendsessie saam met redakteur Dirk Richard, was nuusredakteur Tom Buys eerste tussen die glashokkies. Tom was baie spesiaal. Hy het 'n aanvoeling gehad vir mense; hy't elke redaksielid op 'n besondere manier benader. Tom se verjaardag was in September (as ek reg onthou). Dan kom staan hy daar by die teetafel – voete bymekaar, hande oor die maag, toonbeeld van kuisheid – en kondig formeel aan: “Ek is ‘n maagd.”

Piet Roos
Ouboet Snyman
Ek was innig lief vir Tom. Hy's net te vroeg dood. Dalk was hy te toegewyd.

By my het hy altyd eers 'n swart jellie-lekker gevat (tweede laai, regs) en dan 'n storie bespreek. En wat Tom voorgestel het, het ek probeer uitvoer - met 'n stralekrans en lintstrikkies, na die beste van my vermoë - tot hy op 'n dag kom sê het ons het nou almal portefeuljes en ek kry Handel en Nywerheid.

Handel en Nywerheid! Grote Gehasi! Kan ek nie asseblief maar liewer net nonsens skryf nie. Gelukkig was ek taamlik nikswerd aan die ernstige nuusfront en kon gou voortgaan soos vroeër.

Jaap Swanepoel
Tom Buys
Buurman in die glashokkie links, was Jaap Swanepoel. (Hy wat saam met Isabel weg is in 1987 se Helderberg-vliegramp.)

My diep-filosofiese sêding op blouerige dae was: "Dis alles baie ingewikkeld". Sou hy dit hoor, het Jaap terstond by die opening van die glashokkie kom staan en gewys hoe 'n mens sulke diepsinnigheid hokslaan. Jy oefen al aan die een kant. Soos een helfte van 'n kaartman steek jy een arm en een been uit en terug, uit en terug en die weerkaatsing in die glas voltooi die prentjie.

En soms was hy nog al aan die een kant dan kom die hoofman-oor-honderd - dis nou Frans du Toit, assistentredakteur - soos 'n Spaanse stiervegter by die groot kantoor in en gesels ons algar wild en wakker.

Frans du Toit
Dan moet jy hoor hoe slaat ons daai tikmasjiene.

Dit klink of ons pret gehad het. Ons het. En natuurlik onthou ek nou net die pret. Maar ons het gewerk ook. Daar het elke dag 'n heel stewige, redelik goeie koerant verskyn.

'n Koerantmens het 'n interessante lewe; hy beleef baie, ontmoet interessante mense en weet nooit wat die dag gaan bring nie. So lui die cliché. En dis waar ook. Maar as jy terugdink wanneer jy 82 is (nee, ek's November eers 83, demmit!) wie is dit wat jy met die grootste lekker onthou?

Jou kollegas!