Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.11.14

Só is Terrie, die terroris, gebore

 JAPIE BOSCH skryf: In 1956 was ek in die koerant. In Die Vaderland. Dit was ‘n groot ding as jy in die koerant was. Jou ma koop 'n klomp koerante en maak knipsels en die kinders by die skool vertel jou hulle het dit gesien. Jy kry status. Twintig jaar later het dié einste foto ‘n onverwagse nadraai gehad toe ‘n terroris gebore is.

By ons laerskool in Johannesburg was daar ‘n “kunsuitstalling” van die kinders se handewerk deur die jaar. Die klok het pas vir kleinpouse gelui toe ek en vriend Abel Coetzee (albei in st 3 en 10 jaar oud) op pad speelgrond toe is. ‘n Hand het my aan skouer gevat en ‘n stem het gevra: “Waar is jou “kunswerk? ’” Dit was Charles Pienaar, ‘n vriend van my ouers en ‘n fotograaf by Die Vaderland. Dit was bloot toeval dat hy my raakgeloop het.

Ek kan my indink dat dit vir Charles en die verslaggewer nog een van daardie lastige skoolfoto’s en ‘n byskrif was wat gou uit sy pad moes kom. In ‘n sekere sin was ek ‘n redding vir Charles-hulle, want nou was dit nie vir hulle nodig om by die skoolhoof of ‘n onderwyser aan te klop en kletspraatjies aan te luister nie. Tjop-tjop was hulle klaar. Charles het ‘n foto van my en Abel by die kleiosse wat ons gemaak het, geneem. (Daar het my kunsloopbaan begin en geëindig.)


In daardie dae was daar ‘n strokiesprent met die naam Wat Maak Ook Kallie Daar. Hy was ‘n ou snorbaard wat allerhande kaskendes aangevang het. Toe ons foto die volgende dag in Die Vaderland verskyn, was oom Kallie se gesig tussen ons kleiosse te sien. My pa, 'n getroue Vaderlandleser, het my toe aan my verduidelik dat die koerant ‘n wedstryd aangebied het. Elke dag is oom Kallie se gesig iewers weggesteek en die lesers moes hom soek om 'n prys te wen.

Illustrasie
Twintig jaar later, in 1976, het redakteur Dirk Richard vir my en Doug Jones by die nuustafel kom sê dat ons ‘n wedsryd moet bedink om sirkulasie te help bou. ‘n Babawedstryd was van die begin af uit. Ons het ‘n fotowedstryd oorweeg, Mnr en Mej dit en dat, ‘n spotprentwedstryd, ‘n inkleurwedstryd, 'n grappieswedstryd en ‘n klomp ander. Al die voorstelle het een probleem gehad: nie een van hulle sou al die lesers betrek het nie.

Toe onthou ek daardie foto van 1956 en oom Kallie wat tussen ons kleiosse weggekruip het.

Terrorisme was destyds daagliks in die nuus. Ná ‘n bietjie kersopsteek hier en daar was die gedagte om ‘n karakter te skep met die naam van Terrie, die Terroris. Hy moes dan ook, soos oom Kallie van ouds, elke dag iewers in ‘n foto, in ‘n berig of selfs in ‘n advertensie wegkruip en die lesers moes hom soek. As jy hom van Maandag tot Vrydag kon opspoor, kon jy inskryf.

Só is Terrie in foto's weggesteek.  (Illustrasiefoto)
Ek het die voorstel aan Dirk gemaak. Hy was ingenome daarmee.

Len Lindeque het ‘n klein Terrie geteken. Dirk het gereël dat ons elke week ‘n kontantwenprys sou uitloof. Ek dink dit was R150. As inflasie in ag geneem word, is dit vandag gelyk aan R4 800. ‘n Inskrywingsvorm is ontwerp en die reëls is geskryf.

Só is Terrie, die Terroris, gebore. Dit was een van Die Vaderland se gewildste wedstryde omdat alle ouderdomsgroepe kon deelneem en dit redelik uitdagend was om Terrie te vind.

• Erkenning vir die idee van Terrie kom my nie toe nie. Dit kom die mens(e) toe wat dit in die 1950’s bedink het. Ek het hom net laat herlewe. Is daar iemand wat weet wie 60 jaar gelede so oorspronklik was? Dalk weet Oom Hermie of Hans Lombard of Bienkie Wessels. Maar miskien is hulle te jonk om dit te onthou, want in 1956 was hulle skaars uit hul tienerjare.