Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.10.14

Kapper in ons woud is bedrywig

WILLIE BUYS skryf: Ek stem heelhartig saam met Lita Kotze se skrywe onder die opskrif Omkrultoon-storie van Jasper. Nou, nog voor Lita se skrywe het ek dominee Jasper se storie gelees en, net soos sy, behoorlik hoendervleisbulte uitgeslaan van pure lekkerte oor die behendige taalgebruik van die man.

Jasper Schellingerhout
Ek waardeer ook sy vermelding van my oorlede broer Tom. Dankie kollega en ook van my kant af: ‘n lekker stuk amperse letterkunde wat jy gepleeg het. Ek hoop die een of ander dosent in mediastudies hou dit aan sy studente voor ter stawing dat die joernalistiek nie ‘n klakkelose napratery van bronne is nie. Lita, ek ken jou ook nie, maar ek glo ons is geesgenote wat joernalistieke beginsels betref.

Nou na die ietwat meer negatiewe sy van die lewe. Ek verwys na die berigte die afgelope tyd oor Hermie Hendriks wat sy heup gebreek het nadat hy op 'n gevorderde en gevolglik brose leeftyd geval het.

Ek en oom Hermie het ‘n sak of wat sout opgeët in ons loopbaan-lewens by Perskor en daarom matig ek my aan om hom ‘n spoedige en volkome herstel toe te wens. Hy is en was een van die uitstaande werknemers van oorlede Perskor.

Dan was daar die treurige berigte oor die heengaan van ouens wat in ‘n meerdere en ook ‘n mindere mate aan my bekend was.

By die lang lys van diegene wat ons al voorafgegaan het, is daar nou die woelgees Sieg van Niekerk, voormalige motorredakteur van Die Transvaler.

Sieg sal deur verskillende mense om verskillende redes onthou word, maar nadat ‘n streep getrek is deur sy soms omstrede optredes, sal ek hom onthou as die fisiek groot man met die klein hartjie wat nie net vir my nie, maar ook ander mense goeie dinge gedoen het.

Hy het ‘n droë humorsin gehad. So het hy op ‘n dag gatvol geraak vir joernalis-wees en bloot in sy bedankingsbrief geskryf het hy kan dit nie meer bekostig om joernalis te wees nie. Hy het hom toe vir ‘n kort rukkie gewend na die advertensiewese.

Johan Moolman, eks-finansjoernalis by DT, en ek het ‘n gemaklike, professionele verhouding gehad en ek het nogal dikwels gewonder wat hom geword het.

Dit is met ‘n warboel van gevoelens dat ek van sy afsterwe verneem het. Hoop hy leer die engele daar by die hemelse effektebeurs dat die soms stugge finansiële wêreld ook opwindend kan wees.

Laastens is daar Nardus Nel, fotograaf van faam. Ek het nie baie nou met hom te doene gekry nie en ons verhouding was meestal maar net sulke skramse hoesit!-groete in die gange.

Dit is nie doelbewus dat ek al die ander afgestorwe kollegas ignoreer nie. Dit was maar net vir my opvallend – soos wyle Hannes Cilliers gesê het – hoe ywerig daar nou in ons woud gekap word.

En ek sal oneerlik wees as ek nie byvoeg nie dat ek intense gevoelens van heimwee ervaar en weer eens die angswekkende besef beleef van hoe kortstondig ons aardse en stoflike bestaan is.