Hillbrow se brandweer was eerste in Goudstad
MAUREEN (HEYL) SWART skryf: In Johannesburg se beginjare was die uitbreek van brande 'n yslike kopsorg, want hoewel die Goudstad al vanaf 1889 elektrisiteit gehad het, is paraffienlampe vir beligting gebruik. Boonop was die boumateriaal in die delwerskampe hoogs vlambaar ‐‐ hout, grasdakke, seil. (Vir vertroosting en versterking was daar whiskey; vlambaar in meer as een opsig.) Brandweerstasies moes gebou word en een van die eerstes was die Berea‐brandweerstasie, wat in 1910 opgerig is. Sy amptelike naam was eers die Noordelike Distrikte‐brandweerstasie Hillbrow, maar die Hillbrowiete het dit die Hillbrow‐brandweerstasie genoem. Aanvanklik is brandweerwaens deur 'n span perde getrek. Die Pophuis is die oudste funksionerede brandweerstasie in Jozi en is in 2011 tot nasionale monument verklaar.






































