Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.10.17

Legendes is handvol, nie landvol nie

PIET EBERSÖHN skryf: My WAT en HAT is nog iewers ingepak, maar met wat ek gegoogleloer kry, kom `n legende min of meer neer op `n verhaal waarvan die wortels in die historiese werklikheid berus, maar wat in die volksoorlewering dalk ietwat oordryf word.

Oorspronklik was dit die verhale van heiliges wat in die kerk oorvertel is, en op letterkundge gebied gryp dit steeds hierna en na die mitologie terug.

`n Legende kan ook iemand wees wat sulke verhale inspireer.

Toemaar, ek wil nie `n lesing oor die woord “legende” gee nie.

Joe Venter
Ek wil van Joe Venter vertel, en ek wil dit bloot met die intrapslag duidelik maak dat as ek na Joe as `n legende verwys, ek dit in die ware sin van die woord bedoel, en nie in die goedkoop sin waarop daar so dikwels vandag met dié woord gesmous word nie.

Daar is dan al kwansuis `n “SA Rugby Legends Association” – en `n mens moet `n fynkam gebruik om die ware legendes in sy geledere te vind.

Dit daar gelaat.

Ek is hoegenaamd nie daartoe bekwaam nie, en sal my ook nie aanmatig om `n huldeblyk of waardering oor Joe te wil skryf nie, want ek het hom nie goed genoeg geken nie. By Die Transvaler van die laat sewentigerjare was Joe reeds `n ervare en gerekende joernalis in die sportredaksie; ek was `n snuiter in die nagkantoor.

Ek onthou Joe as joviaal, altyd vriendelik, en dat hy die moeite gedoen het om van Bloemfontein af Johannesburg toe te ry vir `n Perskorreünie.

Soos met `n ware legende die geval is, is van die stories wat oor Joe vertel word, waarskynlik aangedik, maar dalk ook nie.

Hier is een wat Joe self een nag in die nagkantoor vertel het, maar waarvan ek nie meer die fynere besonderhede kan onthou nie. Dalk kan iemand anders daarmee help.

Hy het vertel dat die een of ander hoë politikus ernstig siek in die hospitaal was, waar hy kontak met `n verpleegster gehad het wat hom op die hoogte van die man se toestand gehou het.

Kort voor die koerant se plattelandse uitgawe sou sak, het sy hom laat weet die man is besig om te sterf. Joe skryf toe dat die politikus gesterf het, want teen die tyd dat die bepaalde uitgawe op straat kom, is dit mos `n feit.

Die vragmotors was skaars met die eerste uitgawe weg – die berig op die voorblad – of die
verpleegster bel om te sê daar was `n merkwaardige ommekeer in die sieke se toestand. Hy is nie dood nie. Joe het vertel dat hy reeds sy bedanking uitgetik het, toe die nuus kom dat die sieke wel gesterf het.


Joe Venter voer 'n onderhoud met Archie Moore, 
ligswaargewigbokskampioen van die wêreld (1952 -- 1962).  
Die ander storie is op hoorsê, maar uit `n baie betroubare bron, nou ook reeds lank oorlede.

Joe wou glo `n verjaardagpartytjie hou wat vir niks skrik nie, maar op `n joernalistesalaris was dit nie moontlik nie. Hy bedank toe by die koerant en aanvaar `n pos by `n drank-maatskappy.

Met personeelpryse en al, seker `n komplimentêre kwota ook, het Joe sy partytjie gehou – en enkele maande later doodgelukkig teruggekeer koerant toe, is ek vertel.

Joe Venter het `n leidende rol in die destydse Randse Sportskrywersvereniging gespeel. Ek meen hy was `n stigter en lid van die eerste bestuur, maar die sportmense moet liefs hiermee help.

Joe het skouers geskuur met die legendes van die sportwêreld soos Gary Player en Frik du Preez, `n legende tussen legendes.

Joe was volksbesit.
Foto's: Media24.