Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.3.17

Feniks verrys uit die as

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Gert van Rooyen se lekkerlees-herinnering aan Hillbrow het my aangespoor om ook my stuiwer in die armbeurs te gooi oor Hillbrow en omgewing, in 'n tyd wat la-a-nkal saam met die stof oor die Goudstadse mynhope weggewaai het.

Ek kan dit nie glo nie, dis byna vyftig jaar gelede dat ek ook die voorreg gehad het om in hierdie hoë-oktaan-voorstad te kon woon. Maar dit voel soos gister. En vir my, as dorpsdogter, was dit een van die wonderlikste belewenisse van my lewe - mense soos miere in die veilige strate, enige tyd van die dag of nag. Eetplekke en winkels wat deurnag oop was.

(Aangesien Gert en ander joernaliste reeds oor heelwat van die landmerke geskryf het, gaan ek nie oor almal uitbrei nie.  Gert se storie is HIER.)


Hillbrow was 'n kosmopolitaanse plek. Oral om jou het mense in vreemde tale gepraat - Duits, Nederlands, Italiaans, Grieks. Dikwels, wanneer ek op pad middestad toe by 'n bushalte gewag het, het die ou langs my 'n koerant of 'n boek in 'n ander taal sit en lees.

Een van my gunsteling-winkels was Exclusive Books. 'n Mens kon heerlik na klassieke musiek luister terwyl jy tussen die rakke rondsnuffel. Selfs toe ek nie meer in Hillbrow gewoon het nie, het ek dikwels daar gaan inloer. Veral naweke.

In die "Brow" was daar ook geen skaarste aan klein boekwinkeltjies met tweedehandse boeke nie, ook in vreemde tale. As gebore en getoë boekwurm, was ek behoorlik in die boekeparadys.

Ek is nie seker of hierdie winkeltjies deurnag oop was nie, maar ek kan wel onthou dat ek menige aand nadat ek by een van hulle was, vir 'n eetdingetjie by Fontana ingeval het; onder andere vir die "rolls" en halfgebakte braaihoendertjies, waarvan Gert skryf en waaraan ek self ook baie lekker gesmul het.

Tot my vreugde het hier so vier, vyf jaar gelede 'n Fontana Spar in my buurt oopmaak. Ook 'n 24 uur-winkel, soos in Hillbrow. Die "Opening Special" was 'n braaihoendertjie, twee broodrolletjies en 1L Coke. Die hoendertjies was ook halfgebak en rouerig, maar, helaas, dit het nie meer die trefkrag van weleer gehad nie. Miskien het dit die "Brow" se "magic" nodig gehad.

Nie dat alles net maanskyn en rose in Hillbrow was nie! Want dit was juis hier dat ek vir die eerste keer met die grillerige "onderwêreld" van 'n groot stad en veral 'n digbevolkte omgewing kennis gemaak het, naamlik rotte.

Die eerste keer toe ek 'n rot gewaar, het ek pas uit die hysbak op die elfde verdieping van my woonstelgebou geklim. Eers dog ek daar skort iets met my oë - net so 'n blitsige beweging uit die hoek van my oog. Toe nog een. En nog een. Kort voor lank sien ek 'n harige ding teen die brandtrappe afpyl. Dis toe dat ek besef: Dis g'n my oë nie, dis 'n regte bleddie rot! Ek nael woonstel toe asof 'n brullende leeu en 'n sissende slang kort op my hakke was.

Hoe was dit moontlik? Hier woon ek in 'n splinternuwe woonstelgebou, nè. So splinternuut dat 'n mens nog die vars verf kon ruik en al die bourommel nog nie eens weggekarwei was nie - en hierdie helsems kom skop sowaar pens en pootjies nes op my drumpel!

Een van Hillbrow se behoue ou huise.
Later het ek besef dat die rommel juis deel van die lokaas vir Rattus and Kie was. En toe die rommel weg is en die plaagbestryders gereeld 'n draai deur die gebou gemaak het om te doen wat plaagbestryders ook al doen, het die rotbevolking genadig tot stof en as vergaan of die wyk geneem na ander rommelhope toe. Daarná het ek baie lekker in my koninkrykie hoog bokand die aarde gewoon. In Brucestraat.

Vir my was deel van Hillbrow se bekoring die huisies en klein woonstelgeboutjies tussen die hoë geboue.
Sommige van hierdie plekkies het interessante boustyle gehad en party van hulle was so oud dat hulle sekerlik gebou is op dieselfde dag dat die "Brow" se eerste inwoner sy huisie se fondament hier kom grawe het.

Maar ek kan nie aan Hillbrow dink sonder om Hospitaalheuwel te onthou nie. Ek het soggens hierlangs na De Kortestraat in Braamfontein gepiekel om 'n bus Perskor toe te haal. Hospitaalheuwel, die amperse voorstadjie, half weggesteek en deesdae vergete tussen Hillbrow en Bramies.

Shirley en Carherine O'Hare. Foto: Saturday Star.
Weliswaar nie so 'n opwindende plek soos Hillbrow nie, maar nietemin met sy eiesoortige karakter en aksie - verpleegsters en ander hospitaalpersoneel wat soggens skofte ruil en die strate vol was; die geloei van ambulanssirenes, veral in die omgewing van die ou Johannesburgse Algemene Hospitaal. Want soos die naam aandui, het Hospitaalheuwel van hospitale en klinieke en mediese geboue gewemel; meeste van hulle bekende landmerke, partykeer ook nuuswaardig. Wat het van hulle geword?
Ek noem sommige van hulle:

* In Januarie 1968 is daar by die Transvaalse Gedenkhospitaal vir Kinders mediese opslae gemaak toe die O'Hare-tweeling, wat by hul koppies aanmekaar vas was, hier chirurgies van mekaar geskei is. Dit was die eerste suksesvolle operasie van sy soort in Suid-Afrika.

Dié pragtige ou bruinrooi baksteenhospitaal in Sam Hancockstraat is in 1923 geopen as gedenkteken vir die manne van Transvaal, wat in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het en ook as dankbetuiging omdat die oorlog verby was. Soos die naam aandui, was dit 'n hospitaal vir kinders en was ook die eerste van sy soort in Suid-Afrika. (Gevolg deur die Rooi Kruis-oorlogsgedenkhospitaal vir Kinders in Kaapstad en nou die Nelson Mandela-kinderhospitaal in Parktown.)

Maar, o wee! Dié hospitaal het ook 'n "geskiedenis" van 'n ganse ander aard - daar word beweer dat dit juis hier was waar Daisy de Melker, gifmoordenares en sekerlik Suid-Afrika se berugste misdadiger, die een en ander omtrent gif geleer het.

Sy was as verpleegster opgelei, maar het drie jaar lank as assistent hier gewerk. Daisy Louisa C de Melker het na bewering haar eerste en tweede mans, asook haar seun, onderskeidelik met strignien en arseen vergiftig. Omdat die staat nie bo alle redelike twyfel kon bewys dat sy haar mans vergiftig het nie, is sy net aan moord op haar seun skuldig bevind en ter dood veroordeel. Op 30 Desember 1932 is sy in die Pretoria Sentrale Gevangenis gehang.

Terug by die Kinderhospitaal: In 1987-79 is dit by die nuwe Johannesburgse Hospitaal in Parktownrif ingelyf. Nuwe geboue is by die oues aangebou en saam staan dit nou as die Transvaalse Gedenkinstituut bekend, wat dienste aan kinders met spesiale behoeftes verskaf. Die oorspronklike geboue is opgeknap.

Die "Oueen Vic".
* Oorkant die straat, op die hoek van Jouberstraatverlenging en Sam Hancockstraat, was die Koningin Victoria-kraaminrigting (ook bekend as die "Queen Vic").

Oor dié hospitaal het die koerantmanne heelwat staaltjies te vertel gehad - stories wat hulle hier moes doen van oorhaastige babas wat sommer reg voor die hospitaaldeure gebore is. Of dit rêrig so was en of hulle net met my die gek geskeer het omdat ek 'n groentjie was, weet ek nie. Hoe dit ook al sy, elke keer wanneer ek daar verbygeloop het, het ek die omgewing met valkoë gefynkam om te sien of daar nie dalk weer so iets dramaties aan die gebeur was nie. Helaas, van ooievaars was daar g'n taal of tyding nie.

Die Koningin Victoria is in 1943 gebou, maar staan tans leeg.

* In die sewentigerjare was die Johannesburgse Koorshospitaal (vir aansteeklike siektes) "in die nuus" toe beweerde gevalle van Marburgkoors (1975) en Ebola (1976) vir waarneming hier opgeneem is.
Hierdie mooi ou sandsteengebou in Hoofdstraat is in 1916 geopen en tydens die Groot Griep van 1918 - ook bekend as die Spaanse Griep - is groot getalle van die pasiënte hier verpleeg. Gedeeltes van die hospitaal staan nog en het erfenisstatus.

Die Florence Nightingale-verpleeginrigting.
* Die Florence Nightingale-verpleeginrigting, 'n sesverdieping-hospitaal in Kotzestraat, is in 1937 gebou en heet nou Florence-huis. Dis een van die gekaapte geboue in die omgewing.

* Daar was seker maar bitter min Johannesburgers wat nie van die ou Johannesburgse Algemene Hospitaal geweet het nie; 'n hospitaal wat 'n lang pad saam met "Jozi" geloop het, amper al die pad. Dit het op 5 November 1890 geopen.

En van toe af het dit gegroei en gegroei tot 'n indrukwekkende groep geboue (ook 'n groep indrukwekkende geboue), in die gebied tussen Esselen-, Hospitaal-, Klein- en Smitstraat. In 1983 het die hospitaal na Parktownrif geskuif en staan daar as die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal bekend. Daarná is die ou Johannesburgse Hospitaal na die Hillbrow-hospitaal herdoop.
(Piet Roodt se storie oor die Johannesburgse Algemene Hospitaal en die vrou se valstande het my baie lekker laat lag.)

Dié ou hospitaal is 'n regte kanniedood, want terwyl ander geboue in die omgewing vervalle raak, is die ou Hillbrow-hospitaal 'n bynes van bedrywigheid. Die rede hiervoor is dat daar reeds lankal met 'n reusetaak begin is om die hospitaal op te knap en weer te gebruik. Aangesien baie van die geboue historiese waarde het, sommige horingoud, moes daar eers by die Nasionale Erfenisraad toestemming verkry word om daaraan te werk. Herstelwerk word dan ook presies volgens die streng reëls en regulasies vir die opknapping van historiese geboue gedoen.

Die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal.
Een van hierdie ou geboue is 'n operasiesaal wat in 1897 gebou is. Maar dit is in iets omskep wat niks met chirurgiese pyn en lyding te doen het nie - 'n plek waar jy kan gaan koffie drink.

In sy splinternuwe baadjie het die Hillbrow-hospitaal nou ook 'n splinternuwe naam - die Hillbrow-gesondheidsgebied (Hillbrow Health Precinct.) Dit sluit die hele gebied in waar die ou hospitaal eens was. Daar word beoog om teen 2019 'n distrikshospitaal met 300 beddens te open.

Intussen het die Shandukani-sentrum vir die Gesondheid van Moeders en Kinders reeds as deel van die gesondheidsgebied geopen. Shandukani is 'n Venda-woord vir verandering.

Verandering!

Inderdaad!

Soos Feniks wat uit die as verrys het.