Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.12.16

Komkommertyd

PHILIP DEETELFS skryf: Ooit gewonder waar die uitdrukking “komkommertyd” vandaan kom? Dis interessant om te sien dat die uitdrukking “cucumber time” reeds in 1699 in ‘n Engelse woordeboek opgeneem is.

Die oorsprong daarvan was (volgens Wikipedia) dat die Britse adellikes in die tyd wat die komkommers in seisoen was, met vakansie gegaan het en die kleremakers dit toe komkommertyd genoem het omdat sake vir hulle traag was.

Koerante het in dieselfde tyd stories gepubliseer wat gewoonlik nie eens die koerant sou haal nie weens ‘n gebrek aan die normale gang van sake oor die vakansietyd.

Die Britse koerantmanne praat van die “silly season”. In Nederlands praat hulle van “komkommertijd”, die Duitsers praat van “Sauergurkenzeit” en die Amerikaners gebruik die vervelige term “slow news season”.

Verlede week was daar ‘n berig in die elektroniese media met die opskrif “Die laaste gereg wat prinses Diana geëet het voor sy dood is”. Meer van ‘n ware komkommertyd-storie sal mens wraggies nie dié tyd van die jaar gelees kry nie!

Omdat K’rant se redaksie ook ‘n slag asem skep wanneer die komkommers ryp word, het ons besluit om K’rant se voordeur vandag te sluit en  weer 9 Januarie vir sake oop te maak.

Ons wens al ons bydraers en lesers alles van die beste toe oor die vakansietyd en hoop elkeen kan volgende jaar met nuwe geesdrif aanpak.